Skip to main content

Erfgoed

My ouma aan my ma se kant was ‘n netjies vrou. Alles was altyd op haar plek. Sy het tot haar dood toe nog elke 2de dag die huis van voor tot agter gespringclean. G’n mens kon met haar huishou wanneer sy, gewapen met die stofsuier, handy andy en my oupa se ou stukkende onderbroek die huis en alles daarin reggetrek het, afgestof het en blink gevryf het nie. My ma is anders. Haar huis word net een keer in ‘n week reggetrek...en dit, tot die dominee se skande, nogals op die Sondag ook. Elke keer net voor die mense kom tee drink, is dit chaos soos sy spartel om alles op hul plek...onder ‘n bed of agter ‘n kas in te kry.

Met my ouma se dood het my ma ‘n baie duur porselyn eetstel van haar ma geërf. Dit was ‘n trougeskenk van my oupa af wat my ouma feitlik vir ewig veilig agter ‘n vertoonkas (wat ek toe geerf het!) gebêre het. Want, het sy altyd gesê, ‘n eetgery soos die, moet ‘n mens bêre vir ‘n spesiale geleentheid. Daardie geleentheid het nooit gekom nie en my ouma het maar altyd net die gewone borde en koppies uitgehaal wanneer mense kom kuier het. My ma sê hulle het maar altyd vermoed dat sy dit hou vir waneer Vewoerd kom kuier...maar hy is vermoor voor sy hom kon nooi en Botha was nou nie eintlik ‘n president werd genoeg vir my ouma se eetgery nie. Die eerste Sondag na my ouma se dood werskaf my ma weer daar in die kombuis. Dit bak en brou en kook en geniet en voor ons kon sien wat ons tref sit ek, my pa, my suster en my broer aan tafel en eet ouma se kos (of eerder ma se interpretasie daarvan...)...vleis, geelrys, patat, gebakte aartappels en my gunsteling...geelwortels soos net ouma kon. Vandag draai ouma in haar graf om...sê my ma. Hoe so? vra my pa. Nee, sê sy, sy het vergeet om die skottelgoedwasser aan te sit en nou is al die borde nog vuil, toe dog sy maar vandag is ‘n goeie tyd om uit ouma se trougeskenk te eet!

My ma verstaan iets van die lewe wat my ouma gemis het. My ma leef asof vandag die eintlike dag is waaroor die lewe gaan. Nie môre nie. Nie gister nie. Nie volgende week as die president dalk kom kuier nie, maar nou...hier. Sy verstaan dat mooigoed nie bedoel is vir erfgoed nie. Sy het haarself en hierdie lewe lief genoeg om nou, hier, saam met die res van ons die murg uit die lewe te suig.

‘n Vrou met ‘n agterdogtige reputasie het een keer in huis waar Jesus saam met ‘n gerespekteerde man gekuier het ingebars en ‘n bottel duur olie...soos my ouma se breekgoed...soos my ma se erfgoed...op Jesus uitgestort. Die man het Jesus daarvoor verwyt, maar Jesus het geantwoord: Hier is ‘n vrou wat kies vir die lewe.

Op ‘n ander noot: ‘n Porselyn eetstel: R1500. ‘n Deumekaar kombuis: ‘n Uur se werk. Een van die min Sondag-etes voor my broer se dood...prysloos.

Comments

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter ...

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addict...

Uit met die oudedoos...

Ek het sopas van ‘n doos vol boeke ontslae geraak. Lanklaas het ek so verlig en bevry gevoel soos nou. Hierdie boeke het ek sedert my studies by die kweekskool op Stellenbosch bymekaar geskraap en met my saam gedra met die hoop om iewers agter ‘n kansel een van hulle aan te haal. “Hoe anders gaan die kerkraad weet ek is my sous as prediker werd?” het ek naiwelik in daardie dae gedink toe ek keer op keer met nog ‘n teologiese treffer onder my arm by die plaaslike boekwinkel uitgestap het. Maar soos die nadraai van kweekskool aangebreek het en die krake in my godsdienstige viniel begin wys het, het ek tot bevrydende slotsom gekom dat ek nog nie een van hierdie boeke gelees het nie. ‘n Paar het al sover gekom om my aandag tot duskant die inhoudsopgawe te kry, maar dan sou die Huisgenoot in die toilet my aandag trek en Calvyn, Jonker, Durand en Barth sou dan weereens moes wag vir ‘n nuwe roering van die akademiese gees in my. 6 jaar se studies en ek weet nog steeds nie wat beteken “plaatsb...