Skip to main content

Erfgoed

My ouma aan my ma se kant was ‘n netjies vrou. Alles was altyd op haar plek. Sy het tot haar dood toe nog elke 2de dag die huis van voor tot agter gespringclean. G’n mens kon met haar huishou wanneer sy, gewapen met die stofsuier, handy andy en my oupa se ou stukkende onderbroek die huis en alles daarin reggetrek het, afgestof het en blink gevryf het nie. My ma is anders. Haar huis word net een keer in ‘n week reggetrek...en dit, tot die dominee se skande, nogals op die Sondag ook. Elke keer net voor die mense kom tee drink, is dit chaos soos sy spartel om alles op hul plek...onder ‘n bed of agter ‘n kas in te kry.

Met my ouma se dood het my ma ‘n baie duur porselyn eetstel van haar ma geërf. Dit was ‘n trougeskenk van my oupa af wat my ouma feitlik vir ewig veilig agter ‘n vertoonkas (wat ek toe geerf het!) gebêre het. Want, het sy altyd gesê, ‘n eetgery soos die, moet ‘n mens bêre vir ‘n spesiale geleentheid. Daardie geleentheid het nooit gekom nie en my ouma het maar altyd net die gewone borde en koppies uitgehaal wanneer mense kom kuier het. My ma sê hulle het maar altyd vermoed dat sy dit hou vir waneer Vewoerd kom kuier...maar hy is vermoor voor sy hom kon nooi en Botha was nou nie eintlik ‘n president werd genoeg vir my ouma se eetgery nie. Die eerste Sondag na my ouma se dood werskaf my ma weer daar in die kombuis. Dit bak en brou en kook en geniet en voor ons kon sien wat ons tref sit ek, my pa, my suster en my broer aan tafel en eet ouma se kos (of eerder ma se interpretasie daarvan...)...vleis, geelrys, patat, gebakte aartappels en my gunsteling...geelwortels soos net ouma kon. Vandag draai ouma in haar graf om...sê my ma. Hoe so? vra my pa. Nee, sê sy, sy het vergeet om die skottelgoedwasser aan te sit en nou is al die borde nog vuil, toe dog sy maar vandag is ‘n goeie tyd om uit ouma se trougeskenk te eet!

My ma verstaan iets van die lewe wat my ouma gemis het. My ma leef asof vandag die eintlike dag is waaroor die lewe gaan. Nie môre nie. Nie gister nie. Nie volgende week as die president dalk kom kuier nie, maar nou...hier. Sy verstaan dat mooigoed nie bedoel is vir erfgoed nie. Sy het haarself en hierdie lewe lief genoeg om nou, hier, saam met die res van ons die murg uit die lewe te suig.

‘n Vrou met ‘n agterdogtige reputasie het een keer in huis waar Jesus saam met ‘n gerespekteerde man gekuier het ingebars en ‘n bottel duur olie...soos my ouma se breekgoed...soos my ma se erfgoed...op Jesus uitgestort. Die man het Jesus daarvoor verwyt, maar Jesus het geantwoord: Hier is ‘n vrou wat kies vir die lewe.

Op ‘n ander noot: ‘n Porselyn eetstel: R1500. ‘n Deumekaar kombuis: ‘n Uur se werk. Een van die min Sondag-etes voor my broer se dood...prysloos.

Comments

Popular posts from this blog

Die Pretzel

Ek het hierdie storie die eerste keer gehoor uit die mond van die bekende storieverteller Nico Nel. My weergawe klink so: In die hoogbloei jare van stoei (daai tyd was daar baie bloed betrokke), was Jan van Pretoria die land se nommer een stoeier. En met stoei bedoel ek nie die rofstoei soort wat ‘n mens op e-tv sien nie, nee ek bedoel amateurstoei. Daardie soort waar jy met ‘n rooi of ‘n blou broekie stoei. Ek was self ‘n kranige klein stoeiertjie, maar dit was lank nadat hierdie voorval plaasgevind. Jan het van Lichtenburg se wereld afgekom, sy van was Van Pretoria. Hulle het hom die posterboy van stoei genoem, aangesien al wat ‘n stasiedorp nooientjie ‘n Huisgenootmiddelblad plakaat van Jan van Pretoria van Lichtenburg teen hulle kamerdeure gehad het. Daardie nooientjies behoort nou almal mooi vroue van diep in hulle 80’s te wees en al lewe Jan lankal nie meer nie, stoei hy nog snags in die slaapkamers van menigte ouetehuise. Jan van Pretoria van Lichtenburg in aksie ...

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter ...

Skurwejantjie en die pitsweer

“Die hele straat is vrot van die pitswere” kla Tannie Gladdis by Oom Skurwes. “Vandat die Vuil Frikke in die woonstel onder die straat ingetrek het, is al wat ’n kind oortrek met pitswere en omlope.”   “O” mompel Oom Skurwes terwyl hy oor die koerant loer. Sy koffie staan al ’n uur lank langs hom. Hy het nog nie ’n sluk daarvan gevat nie. “Gaan jy nie jou koffie drink nie?” blaf sy vrou.  “Wat meen jy nou?” vra die oom. “Ek drink dit mos”. “Mos? Weet jy wat is mos? Dit groei aan die donkerkante van ou bome en klippe. Jou koffie staan al ’n uur lank daar en koud word. Waar was ek nou weer? O ja, omlope en pitswere.” Skurwejantjie weet al lankal dat hy hom nie eintlik hoef te steur aan sy ma en pa se oor en weer bakleiery nie. Sy maats dink altyd dat sy ouers vreeslik kwaai is, maar hy weet dat dit maar net hulle manier is van praat met mekaar. Die dag as sy ma of  sy pa regtig kwaad is, dan is selfs die duiwels en die booswigte bang om uit hul gate en grot...