Ek het sopas van ‘n doos vol boeke ontslae geraak. Lanklaas het ek so verlig en bevry gevoel soos nou. Hierdie boeke het ek sedert my studies by die kweekskool op Stellenbosch bymekaar geskraap en met my saam gedra met die hoop om iewers agter ‘n kansel een van hulle aan te haal. “Hoe anders gaan die kerkraad weet ek is my sous as prediker werd?” het ek naiwelik in daardie dae gedink toe ek keer op keer met nog ‘n teologiese treffer onder my arm by die plaaslike boekwinkel uitgestap het. Maar soos die nadraai van kweekskool aangebreek het en die krake in my godsdienstige viniel begin wys het, het ek tot bevrydende slotsom gekom dat ek nog nie een van hierdie boeke gelees het nie. ‘n Paar het al sover gekom om my aandag tot duskant die inhoudsopgawe te kry, maar dan sou die Huisgenoot in die toilet my aandag trek en Calvyn, Jonker, Durand en Barth sou dan weereens moes wag vir ‘n nuwe roering van die akademiese gees in my.
6 jaar se studies en ek weet nog steeds nie wat beteken “plaatsbekleding” of “eskatologiese heilshistoriese momente” nie. Die byvoeglike naamwoorde wat probeer om tot in alle ewigheid die aard en karakter van die sogenaamde alwetende, altydteenwoordige, groot en magtige, omnipotende, vuurspoegende, skaap en bok skeidende God vas te vang, kry net nie meer ‘n houvas op my hart nie. Terme soos “lam van God”, “leeu van Juda” en “God van Abraham, Isak en Jakob” laat my voel soos ‘n vreemdeling voor hierdie God. Die naaste wat ek aan ‘n lam kom is tydens ‘n braai en dan is dit so gedose met Jimmy’s dat dit moeilik raak om hierdie baie ou metafoor met my alledaagse lewe te versoen.
Ek kry ook nie die uitverkiesing uitgefigure nie. Al het ‘n prof.Dirkie dit hoe goed aan die hand van Dordt dit verduidelik. Ek vermoed as ek meer tyd met Jonker en Durand spandeer het en minder “mense en hul dinge” gelees het, sou ek die uitverkiesing anders kon verstaan, maar nou voel dit vir my soos die groot val van die goddelike dice in die rigting van die ewige vuur of die ewige verlossing wat vir my as gewone skepsel in ‘n ewige dobbelspel dompel.
Gepraat van dobbel. Wat is nou eintlik die verskil tussen die Doppers en die Gatjieponners? Wat het die sinode van ’79 besluit wat deur die sinode van ’80 onderskraag was? Ek weet nie en gee ook nie om nie. Kerkgeskiedenis het my nog selde geboei (of is dit nou andersom?) Maar die blaam vir my gebrek aan belangstelling in hierdie nimlike vakgebied lê ek egter by die patio van die voorgeskrewe bronne tot my beskikking. Die lot wat ek sopas na die garage gepos het, praat nog van die kerk asof 1981 volgende jaar aanbreek.
Ek is jammer Dr.L Praamsma, maar jou kerk van alle tijden het geen raakplek in die manier hoe ek “kerk” vandag orals rond my sien nie. Ek wil tog dankie sê dat jy jou vier volumes so lekker dik gemaak het. Dit het wonderlik gewerk om veel dunner boeke soos Raka en Sex, Drugs en Boeremusiek van Koos Kombuis, Cry the beloved country van Alan Paton en Some of my best friends are white deur Ndumiso Ngcobo regop te hou, maar helaas het ek het tot die slotsom gekom dat rivierklippe net so treffend en veel sagter op die oog sal wees.
Wat die plaaslike kerk terme betref, is ek beslis nie die naam predikant werd nie. Wat de hel is ‘n vaktotum? Of ‘n paranimf? “Liturgiese ruimte” is beslis nie ‘n cool woord by braai nie. Dus het ek besluit om ook my NGK Kerkorde (nuwe druk) in hierdie doos te werp. Ek is net te bang dat een of ander “buitekerklike heiden” vir ‘n pastorale gesprek in my kantoor gaan beland en ek dan met ‘n rooi gesig moet verduidelik hoekom die praktiese wel en wee van my werkgewer so donners vervelig en oninspirerend uiteengesit is. Ek sal ook nie vir hom kan verduidelik hoekom hy nie “deel van die liggaam van Jesus is” as hy hom nie ook aan al die leerstellings van die NGK onderwerp nie. Ek weet dit staan nie so in die kerkorde nie, maar dit lyk asof dit veronderstel is om daar te staan in lig van die genadeloosheid wat vreemdes en weirdos in die praktiese doen en lates van die kerk ontvang.
Die swartband komentare reeks het ook in die doos beland. My renons daarmee veronderstel dat ek soos ‘n kind verbete vasklou aan elke jotel en tittel as die heilige, onfeilbare, godgegewe en diep prysenswaardige woorde van die Here Jesus self. Om dit nog erger te maak voel dit vir my dat die vingerafdrukke van die vorige bedeling op elke bladsy lê. Wanneer ek by my rekenaar sit en woel aan Sondag se woorde, dan kan sweer dat Dr. E. P. Groenewald en kie vir my uit die hoogtes sit en loer.
“Al weer nie die grondteks beet nie, mannetjie!” hoor ek die omies kritiseer.
Ek is jammer maar as dit is wat ek oor die Bybel moet dink en hoe ek nie sonder ‘n heilige vrees daarvoor kan leef nie, dan hang ek vandag my houtbroek op.
Vir my is die Bybel ‘n groepsgesprek saam met Paulus, Markus, Lukas en ‘n spul priesters iewers duskant die Ballingskap. Hierdie stories raak lewend, nie in ‘n modernistiese vasklou aan die term “waarheid” nie, maar eerder in die ontdekking van die misterieuse raakplekke tussen my storie en hierdie antieke narratiewe.
Terug na die roering in die eerste paragraaf. Dit het wel dikwels gekom, maar selde oor die waters van my teologiese opleiding. Eerder vanuit die stemme van Tolkien en Gibran, Krog en Matthee, Bono en my buurman. Veral ook in die woorde van my vrou en my vriende en verskeie ander vreemdelinge op my pad.
Hierdie stemme wat met ‘n alledaagse misterie tot my binneste spreek, sal voortaan my rigtingwysers in die lewe wees...
Comments
C.S. Lewis verdien ook honourable mention.
Luk 24:45 Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.