Ek het gister ons huishulp se dogtertjie by die skool gaan haal. Terwyl ek vir haar gewag het, het hordes kinders by my verby gestap, so half en half in rye elke keer as die juffrou kyk, maar almal diep in gesprek met die maatjie langs hulle. Wat my opgeval het is dat die kinders deur ‘n ander bril na mekaar kyk as die bril waardeur ek na die lewe kyk. Ek kyk na hulle en sien skakerings van swart, bruin en wit. Ek hoor Engels, Zulu, Xhosa en hier en daar ‘n bietjie Afrikaans. Maar nie hulle nie. Wanneer hulle praat word Zulu en Xhosa gemeng en met Engels versier. Wit en Swart loop hand om die lyf en wag geduldig vir hul Indiër maatjie om hulle in te haal. Dit is asof hierdie kinders ‘n universiele taal leer praat het, al klink elkeen se woorde anders. Hulle het ‘n gemeenskaplike grond gevind, al ervaar elkeen die oomblik anders as die res. Terwyl ek daar staan met my rug teen die kennisgewing bord, sekondes voor my oog Angelique s’n vind, besef ek dat hierdie kinders ons enigste hoop op ‘n reenboogtoekoms is. Of laat ek dit minder dramaties stel, hierdie kinders is al reeds die realisering van ‘n droom wat lank voor 1994 begin het. Lanklaas het ek so opgewonde gevoel soos vandag. Die gesig van onskuldige kinders wat onbevange die lewe leef, roer enige hart in die rigting van hoop.
Maar op pad terug kar toe, met Angie se tas ongemaklik klein oor my skouer, bevind ek myself toe met gemengde gevoelens. Voor ek myself kon kry het jaloesie iewers in my binneste kom lê, want hierdie mengelmoes van vriendskappe is van my ontneem. Tot vandag toe sukkel ek om diep verhoudings met mense van ander kulture te bou. Ek struikel oor die taal, voel lomp met my humor, trap versigtig oor die landmyne van politieke korrektheid en elke nou en dan eindig ek met my voet in my mond, maar nie hierdie kinders nie. Hulle dra geen bagasie van gister met hul saam nie. Daarom kan hul met mekaar spot en grap sonder om te hoor dat hulle rassisties is. Ek wonder of hulle ooit weet wat die woord beteken? Ek kyk toe eweskielik van buite af na ‘n droom wat my keer op keer net-net ontwyk.
Nadat ek die tas in die kattebak gesit het en die deur vir Angie oopgemaak het, het jaloesie plekgemaak vir wanhoop, want tussen 10j en 28j kan dinge so vinnig verander:
Sipho en Chris stap skouer teen skouer by my verby vol grappe en dinge, by die hek skei hulle paadjies en elkeen verdwyn in sy eie storie in. Sipho se pa wag in ‘n blink nuwe BMW en Chris se ma het vergeet om hom te kom haal. Sipho se pa laai hom vinnig by die huis terwyl hy haastig op pad is na sy volgende direksie vergadering. Op pad huis toe het Sipho die heelpad oor sy nuwe maatjie Chris gepraat, maar sy pa het nie ‘n woord geluister nie, want Zuma was op die radio en sy pa sal soos sy verlangse familievriend, Malema, vir hierdie man moor. Chris het solank begin huis toe stap. By die huis is sy ma in die bed met ‘n ander man. Terwyl die man wie sy skaars ken leweloos woorde van liefde in haar oor hyg, is sy salig onbewus dat oor 15 minute haar oudste seun haar daar gaan vind. Op daardie oomblik wanneer sweet en rook orals in die kamer swaar en donker hang, het sy geen benul dat dit die karakter van haar seun vir ewig sal verander nie.
Jare later sal Sipho deur die bril van sy pa na die wereld kyk, terwyl sy wit laerskoolmaatjie nog steeds sukkel om die woedeuitbarstings wat so dikwels uit die bloute kom en dan net so weer verdwyn, anders te verwoord as in die taal en metafore wat hy weer van sy pa ontvang het.
Daarom wonder ek, is dit wat ek vandag gesien het enigsins volhoubaar? Is die Madiba reënboogdroom net ‘n oomblik van flikkerende hoop wat nooit die ware realiteite van die lewe kan oorleef nie. Was dit wat ek vandag by haar skool gesien dalk my verbeelding? ‘n Projeksie van ‘n prentjie wat binne my leef, maar stadig al hoe dowwer word. As dit is, wat bly dan oor? Waarom dan nog enigsins droom oor ‘n plek waar stories van verskillende kontekste in een groot tappeserie van geleenthede gevleg kan word?
Of was dit meer as net my verbeelding? Miskien net miskien is dit wat ek buite die Graad 4 klas van Mrs. Mansfield ervaar het wat toe al die tyd ‘n reënboog wat deur die gelag en gespeel van kinders ‘n kaleidoskoop van moontlikhede in ons land en in ons harte kom loswoel. Op die oomblik is dit nog ver iewers op ‘n speelgrond aan die anderkant van die draad, maar as ons stop waarmee ons besig is, stilstaan en luister sal ons hoor hoe die gelag al hoe nader kom. Binnekort sal die stemme verstaanbaar word en sal ons sal met ons eie oë sien hoe die grys skakerings van ons wit en swart lewens ingekleur word met die groen kleure van hoop, die blou kleure van vryheid en vrede, die geel kleure van potensiaal en energie en die rooi kleure van daardie ding wat sommige mense liefde noem.
Maandagoggend moet ek haar weer by die skool gaan aflaai, ek kan amper nie wag nie...

Comments
Dis 'n baie nice post, en thought provoking soos hulle se.
Ek hoop en bid dat die reenboognasie 'n werklikheid word. Maar ek glo dit self. Ek dink dat dit jou nie ontneem is nie, en jy moet voortsukkel met jou humor, en jou voet in die mond op tye. Want so bou jy die reenboognasie, of dit nou bietjie sukkel of nie.
Ek is vriende met 'n swart familie waar ek baie graag gaan kuier. Ons joke met mekaar se ras (nie lelik nie...), want ons besef dat die politiek van gister (en vandag) nie in ons pad moet staan van 'n goeie vriendskap nie.
Jou nuwe folower
Aletta
Aletta
Ek het dit ge'share' met `n vriend en hy het oor dit in sy klas besprekking gepraat.
Ek het onlangs goeie vriende gemaak met `n swart meisie en ons kom so goed oor die weg. Op 23 is ek ook nie heeltemal deel van die nuwe reenboog-generasie nie maar ek glo ons is die generasie wat gedwing word om totaal anders te dink. Mens word op `n sekere manier groot gemaak met sekere dinge wat in jou gedril is. Die ouers en ouer-familie kan nie verstaan waar ek vandaan kom nie. Ek moes als wat ek geleer het hergroepeer en my eie waardes stel. Dit laat mens nogal dink hoe gaan dinge oor 10 jaar lyk. Ek is vrek opgewonde daaroor want ek is deel daarvan en voel baie verantwoordelik om die nasie met nuwe idees en entoesiasme op te lig dat ons saam als veg.
My hart is vir die kultuur van Afrika want dit is so ryk in kleure en geure, dis wat Afrika gaan gesond maak.
Ek staan op vir die generasie en hoop om hande te vat met my swart en bruin vriende...