Skip to main content

Orlando Bulls

Hoekom die bohaai oor Orlando stadium en die Bloubulle? Daar word mos al lank sokker gespeel op Loftus, Ellispark en op Nuweland? Hoekom haal daai wedstryde nie die nuus nie? Word die sokkerondersteuners ook so goed ontvang in Pretoria soos die rugbyondersteuners Saterdag in Soweto ontvang gaan word? Dis sommer ‘n paar goed waaroor ek wonder so op die vooraand van die Bulls vs Crusaders wedstryd in Soweto.


Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek dink dit is great! Wie sou kon dink dat eendag ver in die toekoms die ou Noord-Transvaal in Soweto gaan rugby speel, nogal vir ‘n semi. Wie sou dan nog daarby kon droom dat die stadion binne etlike ure uitverkoop sal wees en dat die locals van Soweto nie kan wag om die “boere” van Pretoria ‘n ding of twee oor braaivleis te leer nie.

Die nuwe SA, you gotta love it!

OK, terug na my openingsparagraaf. Hoekom die bohaai? Wat maak dit so vreemd wanneer ‘n oorwegende wit, Afrikaanssprekende sportspan en hul oorwegend wit Afrikaanse ondersteuning in Soweto gaan laertrek? Of mis ek die punt? Is dit agv die Bulle se identiteit met stadion soos Loftus en ‘n “dorp” soos Pretoria, of bring dit ou wonde na vore en die hoop op versoening en herstel?

Dalk beide? Maar ek kan nie help om te hoop dat dit meer met laasgenoemde te doen het nie.

Miskien besef ons almal die wonderlike ironie hiervan. Dalk voel ons aan dat dit flippen hoog tyd is dat die bakkies met die blou balle (toevallige dubbelsinnigheid...) die gasvryheid van 'n plek soos Soweto beleef. Dat boy en boer 'n boerie kan deel en dat niks van die ou fights meer saak maak nie. 

En miskien het die meeste van ons, van wit tot swart, van Pretoria tot Soweto, van rugby ondersteuners tot sokker supporters, die brandende behoefte dat die afgebrande bruêe weer opgebou sal word. Ons sal enige daad van versoening soos koeksisters opeet, solank dit net nie met ‘n politieke agenda kom nie.

Dus kry die sokker en rugbybase steeds meer reg wat eenheid en nasietrots aanbetref as enige politieke party of leier (Madiba en Tutu uitgesluit...).

Ek is nie ‘n Bul ondersteuner nie, my hart hoort immers Suid. Maar wragtag kom môre five o clock en ek skreeu “Go Victor” soos laas teen die Chiefs. Ook maar net tot 19:00, want dan voel ek ‘n veer vir versoening en nasietrots...

Comments

Popular posts from this blog

Die Pretzel

Ek het hierdie storie die eerste keer gehoor uit die mond van die bekende storieverteller Nico Nel. My weergawe klink so: In die hoogbloei jare van stoei (daai tyd was daar baie bloed betrokke), was Jan van Pretoria die land se nommer een stoeier. En met stoei bedoel ek nie die rofstoei soort wat ‘n mens op e-tv sien nie, nee ek bedoel amateurstoei. Daardie soort waar jy met ‘n rooi of ‘n blou broekie stoei. Ek was self ‘n kranige klein stoeiertjie, maar dit was lank nadat hierdie voorval plaasgevind. Jan het van Lichtenburg se wereld afgekom, sy van was Van Pretoria. Hulle het hom die posterboy van stoei genoem, aangesien al wat ‘n stasiedorp nooientjie ‘n Huisgenootmiddelblad plakaat van Jan van Pretoria van Lichtenburg teen hulle kamerdeure gehad het. Daardie nooientjies behoort nou almal mooi vroue van diep in hulle 80’s te wees en al lewe Jan lankal nie meer nie, stoei hy nog snags in die slaapkamers van menigte ouetehuise. Jan van Pretoria van Lichtenburg in aksie ...

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter ...

Skurwejantjie en die pitsweer

“Die hele straat is vrot van die pitswere” kla Tannie Gladdis by Oom Skurwes. “Vandat die Vuil Frikke in die woonstel onder die straat ingetrek het, is al wat ’n kind oortrek met pitswere en omlope.”   “O” mompel Oom Skurwes terwyl hy oor die koerant loer. Sy koffie staan al ’n uur lank langs hom. Hy het nog nie ’n sluk daarvan gevat nie. “Gaan jy nie jou koffie drink nie?” blaf sy vrou.  “Wat meen jy nou?” vra die oom. “Ek drink dit mos”. “Mos? Weet jy wat is mos? Dit groei aan die donkerkante van ou bome en klippe. Jou koffie staan al ’n uur lank daar en koud word. Waar was ek nou weer? O ja, omlope en pitswere.” Skurwejantjie weet al lankal dat hy hom nie eintlik hoef te steur aan sy ma en pa se oor en weer bakleiery nie. Sy maats dink altyd dat sy ouers vreeslik kwaai is, maar hy weet dat dit maar net hulle manier is van praat met mekaar. Die dag as sy ma of  sy pa regtig kwaad is, dan is selfs die duiwels en die booswigte bang om uit hul gate en grot...