Skip to main content

Maak vir Sepp die Prez...

Ek voel vandag skoon depres. Dis nie meer hier nie. Dis verby. Daar is niks meer oor om te voel nie. Spanje kraai koning, die res van die wereld het reeds aanbeweeg en duisende Suid-Afrikaners wonder wat om met al die goedkoop, papierdun vlae te maak. Maar ai dit was lekker. 6 weke van goeie sokker, boonop nog op SABC ook. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd het ek nie myself verwyt vir die gebrek aan ‘n dekodeerder en ‘n skottel nie.

Nog ‘n kerel wat waarskynlik vandag bietjie depres voel is ons eie Prez, Jacob Zuma. Want sien die afgelope tyd moes hy tweede kitaar speel terwyl Sepp Blatter beheer geneem het oor die Republiek. En het hy nie ‘n goeie job gedoen nie. Die polisie was gewapen en paraad, die paaie was blink en skoon, die rye was lank maar vinnig en die vibe, ag die vibe was fantasties. Vir ‘n beter intree prez kon ons nie gevra het nie. Draai natuurlik ‘n blinde oog vir Sepp en vriende se een groot agenda met FIFA sokker en hul gasheerlande: WINS, moerse baie wins.

Terug na ons eie prez. Ek het hom gisteraand ‘n bietjie jammer gekry. Hy moes die afgelope maand by elke groot wedstryd wees, saam met Sepp op die veld verskyn, saam met Sepp die spelers groet, saam met Sepp en die adelikes in losies uithang, en saam met Sepp sy serpie dra en kyk hoe dat Sepp en Fifa vir hom wys hoe ‘n land eintlik “gerun” moet word. As ek die prez was sou dit my later begin pla het.

En toe word die beker oorhandig en Sepp en Zuma probeer saam-saam die beker aangee, die kaptein lig dit omhoog, die vuurwerke gaan af, R Kelly sing van oorwinnings, Shakira waka-waka, die spelers dans...bo-op Zuma! Was dit net ek wat dit gesien het? Die Spanjaarde, die ou kolonialiste het bo-op Zuma gedans, soveel so dat hy koes-koes van die toneel moes verdwyn. Sy statigheid was amper moertoe getrap.

Ek vermoed ons prez voel vandag ‘n bietjie deprez...

Comments

Popular posts from this blog

Die Pretzel

Ek het hierdie storie die eerste keer gehoor uit die mond van die bekende storieverteller Nico Nel. My weergawe klink so: In die hoogbloei jare van stoei (daai tyd was daar baie bloed betrokke), was Jan van Pretoria die land se nommer een stoeier. En met stoei bedoel ek nie die rofstoei soort wat ‘n mens op e-tv sien nie, nee ek bedoel amateurstoei. Daardie soort waar jy met ‘n rooi of ‘n blou broekie stoei. Ek was self ‘n kranige klein stoeiertjie, maar dit was lank nadat hierdie voorval plaasgevind. Jan het van Lichtenburg se wereld afgekom, sy van was Van Pretoria. Hulle het hom die posterboy van stoei genoem, aangesien al wat ‘n stasiedorp nooientjie ‘n Huisgenootmiddelblad plakaat van Jan van Pretoria van Lichtenburg teen hulle kamerdeure gehad het. Daardie nooientjies behoort nou almal mooi vroue van diep in hulle 80’s te wees en al lewe Jan lankal nie meer nie, stoei hy nog snags in die slaapkamers van menigte ouetehuise. Jan van Pretoria van Lichtenburg in aksie ...

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter ...

Skurwejantjie en die pitsweer

“Die hele straat is vrot van die pitswere” kla Tannie Gladdis by Oom Skurwes. “Vandat die Vuil Frikke in die woonstel onder die straat ingetrek het, is al wat ’n kind oortrek met pitswere en omlope.”   “O” mompel Oom Skurwes terwyl hy oor die koerant loer. Sy koffie staan al ’n uur lank langs hom. Hy het nog nie ’n sluk daarvan gevat nie. “Gaan jy nie jou koffie drink nie?” blaf sy vrou.  “Wat meen jy nou?” vra die oom. “Ek drink dit mos”. “Mos? Weet jy wat is mos? Dit groei aan die donkerkante van ou bome en klippe. Jou koffie staan al ’n uur lank daar en koud word. Waar was ek nou weer? O ja, omlope en pitswere.” Skurwejantjie weet al lankal dat hy hom nie eintlik hoef te steur aan sy ma en pa se oor en weer bakleiery nie. Sy maats dink altyd dat sy ouers vreeslik kwaai is, maar hy weet dat dit maar net hulle manier is van praat met mekaar. Die dag as sy ma of  sy pa regtig kwaad is, dan is selfs die duiwels en die booswigte bang om uit hul gate en grot...