Ek is gedoop in die jare tagtigs in my Ouma Caroline en oupa Piet se kerk op Villiersdorp. Dis waar my ma haar belydenis van geloof af gelê het. Ek onthou as kind, wanneer ons vir my ouma en oupa gaan kuier het, was die kerktoring die eerste ding wat ‘n mens gesien het as jy die dorpie binne gery het. Statig, vorstig, broederbonderig, erg nasionaal, soos dit maar was met die meeste NG Gemeentes van die jare sewetigs en tagtigs.
Tydens my doop het die dominee ‘n pikswart toga gedra. Weerskante van die kerk het die ouderlinge en diakens gesit, soos pikkewyne geklee in swart en wit. Die vroue het hoedens gedra en pragtige Sondagrokke. Die plaasbakkies het op die werf agtergebly en die Sondagmotors is uit die waenhuise getrek, blinkgevryf deur die plaaswerkers en netjies in gelid onder die akkerbome van die kerk se parkeerterrein geparkeer.
Die atmosfeer tydens my doop was stemmig en gewyd. Die preek is voorafgegaan met dinge wat vir ‘n kind vreemd op die oor geval het. Woorde soos “votum”, “gebooie” en “skuldbelydenis” het emosies van vrees vir pakslae in ‘n mens losgemaak. Ek was egter te klein om daardie woorde te hoor, waarskynlik te besig om my dooprok in my mond te probeer kry. My ma vertel altyd met groot genot hoe ek die dikste, vetste en grootste baba was.
My ouers het op daardie stadium in die Noord-Kaap gebly. My doop was dus ‘n uitgestelde affêre opsoek na ‘n geskikte datum, want ek is immers na my oupa vernoem en Ouma Caroline sal eerder dood as dat haar kleinkind in ‘n ander kerk gedoop word as die kerk waarin my oupa ‘n ouderling is. My pa sê dat dit ‘n “close call” was of ek is groot gedoop, as hulle glo nog ‘n maand moes wag, sou net die AGS pastoor my kon doop.
Ek dink gereeld oor my doop. Het dit regtig so baie beteken? In ‘n konteks van stoere Afrikanerdom, in die hoogbloei van Apartheid, op ‘n dorpie wat meer behep was met godsdienstigheid as met die Here van die godsdiens, was daar ooit ‘n plek vir hierdie God van liefde om homself aan my te kon bind? Ek kan net dink aan al die familie-politiek wat daardie dag afgespeel. My ouma wat almal aangjaag om betyds by die kerk te wees. My pa se das wat hopeloos te kort geknoop is. My broer wat sy ninger nie uit sy neus kon hou nie. My dooprok wat my soos ‘n meisiekind laat lyk. Die dominee se lang preek en my oupa se reputasie om as die uur verby is, op te staan en uit te loop.
En dan lees die dominee uit die ou formelier. Woorde wat vandag vir my hard op die oor val. Woorde wat ek moeilik my eie kan maak. Woorde wat geskryf is vir ‘n ander gehoor as die mense wie vandag hul kinders na die kerk toe bring om gedoop te word.
Tog, te midde van ‘n vreemde vermenging van kerk, kultuur en politiek, breek die genade deur daardie ou woorde en flikker die eintlike hoop van die doop. Lank voordat ons gesin op verskeie maniere die seerkry van die lewe en die pyn van die dood beleef het; lank voordat ek regtig in God sou geglo het, lank voordat ek enigeiets anders sou wees as bloot maar net ‘n kind van my konteks en tyd, nooi die doop my en my gesin in God se groter storie in.
Reg oor die wereld word kinders gedoop deur ouers en dominees wat eintlik nie ‘n benul het wat hulle doen nie. Dope vind plaas in kerke met die vreemdste teologiee, gedoen deur twyfelende pastore en predikante met donker geheime. Die meeste van die tyd word gewone kraanwater gebruik, sommer dieselfde water wat gebruik word om die gras nat te spuit of die whiskey glas vol te hou.
Tog glo gelowiges deur eeue al dat die doop groter as die doper is: Dat nie die water, of die doopvont, of die dominee iets van die doop kan wegneem of selfs kan byvoeg nie. Ons weet diep in ons twyfelende harte dat die doop nie van ons afhang nie en ook nie van ons ouers se moedige pogings om hul beloftes na te kom nie.
Die doop hang van genade af.
En genade is God se werk.
Ons hoort by God, daarom word ons gedoop.
Ons behoort aan God, daarom word ons gedoop.
Comments