Kry ‘n mens nog sulke mense? Vra ‘n vriendin toe ons haar die storie van ons vakansie vertel?
Die storie loop so:
‘n Vakansie sonder ‘n Landy is nie vakansie nie. ‘n Landy sonder ‘n enjin fout is nie ‘n Landy nie. Maak self die somme. 40km hierdie kant van Willowmore op die N9 ruik ek ‘n brandreukie. Iets wat jy nie wil ruik agter die stuur van ‘n 1997 Land Rover Defender nie, maar iets wat jy waarskynlik een of ander tyd gaan ruik. Ek stop en lig die deksel op, rook en olie, niks vreemds nie. Ek klim weer in en draai die sleutel. Hy maak net hô. Ek probeer weer. “Hô” praat die enjin terug. En daar sit ons. Vroulief op die foon met ‘n rekenaarstem wat belowe hulp is op pad en ek besig om die wiel ‘n tradisionele skop te gee terwyl ek my my voorkop herhaaldelik teen die truspieeltjie se skerpkant slaan (dis glo ‘n standaard prosedure in die geval van ‘n break down).
Terwyl die lamheid van gestrand wees die hoop op ‘n seevakansie laat wegkwyn in die Groot droë Karoo skemer, stop ‘n bottelgroen Izuzu bakkie met deurgeloopte bande langs ons. ‘n Jong knaap klim uit, groet ons met die hand, “Hennie Lötter, aangename kennis” en sleep ons plaas toe, hulle het glo baie kamers wat oopstaan in die plaashuis. Mens kan nie helder dink so langs die pad nie, ons kan ons planne van die plaas af maak. Vir ‘n oomblik bevind ons onsself in die “met eish” advertensie.


Sedert ons onbeplande kuier by die Lötters van Willowmore, het ek met nuwe oe die kersverhaal gaan lees. Ontwrigte gesinne op weg omdat ‘n heerser sy mag wil meet. Moee reisigers vir wie die gastekamer nie beskikbaar is nie. ‘n Messiaskind vir wie gasvryheid in Bethlehem yl gesaai was. ‘n ompad terug huistoe, via Egipte die antieke plek van slawerny.
Hoe anders ons ervaring as vir hom vir wie daar geen plek was nie. Ek vermoed as die kersverhaal in die Groot Karoo afgespeel het, sou die storie waarskynlik anders uitgedraai het. As Josef se tuisdorp Willowmore was, sou die Lötters vir hom ‘n slaapplek kon gee en ‘n ryding vir die reis terug, Maria sou by die “Bonatoe” winkel vir haar seuntjie ‘n bokhaarkombersie kon koop en oorkant die pad by “Sophies choice” sou hulle op die stoep kon sit, hulself dik eet aan hoenderlewertjies en wildspastei. Ooms en Tannies sou die Jesus kind van hul hande neem, hom aan die slaap sus, en Maria daar wegstuur met ‘n boereraad of drie oor tande, koeliek en slapelose nagte. By die Laaste Watergat sou die boere vir Josef ‘n dop koop en hom gelukwens as pa van ‘n gesonde eersteling seun. Min woorde sou nodig wees, ‘n sterk handdruk spreek immers boekdele. Niemand sou moes vlug vir ‘n slegte heerser se psigopatiese soeke na mag nie, want in die Groot Karoo het die groot vrede van die Een met die groot hart diep in die harte van die mense ‘n woonplek kom vind.
En in ruil vir die gasvrydheid van die plek en sy mense?
Bid tog asseblief vir reën en as julle weer hier verby kom, kom loer gerus weer in.
Comments