Skip to main content

Oor spoke en basters


“Ma wat is ‘n baster?” vra ek een oggend terwyl sy en Fiela, haar huishulp in die kombuis doenig was. 

Ek was ‘n bogsnuiter in die jare tagtigs toe die land gebrand het en PW sy groot wysvinger die wereld vol geswaai het. My ma vertel die storie tot haar verleentheid. Volgens haar het Fiela buitengewoon doodstil geword en die skottelgoed al hoe stadiger begin was. My ma het gespanne begin vroetel aan haar voorskoot terwyl sy na die mees diplomatiese antwoord begin soek het. Waar begin jy as jou 4 jarige so ‘n gelaaide vraag vra. Dis een ding om dit te probeer antwoord wanneer dit net jy en jou kind is, maar in die teenwoordigheid van hulle wat deur die einste sisteem van PW se vingerswaaiende regering erg benadeel word, is dit ‘n heel ander uitdaging.

Sy begin toe by die begin. Sy vertel my van die Boesmans en van Jan van Riebeeck. Sy raak-raak an die blommetjies en bytjies. Sy mik-mik in die rigting van wit, bruin en swart. Sy pooitjie lomp oor apartheid, teologie en dat soort hoort by soort. Nadat my ma haar bes gedoen het om my vraag so goed as moontlik te antwoord en Fiela dieselfde bord meer as tien keer gewas en afgedroog het, kyk ek haar aan met baie meer verwarring in my oe as voordat ek die vraag aan die begin gevra het.

“Verstaan jy wat mamma nou vir jou verduidelik het?” vra sy.

Met ‘n groot frons op my voorkop antwoord ek terug:

“Nie eintlik nie, maar wat is ‘n “ghostbuster” dan?


Comments

Popular posts from this blog

Die Pretzel

Ek het hierdie storie die eerste keer gehoor uit die mond van die bekende storieverteller Nico Nel. My weergawe klink so: In die hoogbloei jare van stoei (daai tyd was daar baie bloed betrokke), was Jan van Pretoria die land se nommer een stoeier. En met stoei bedoel ek nie die rofstoei soort wat ‘n mens op e-tv sien nie, nee ek bedoel amateurstoei. Daardie soort waar jy met ‘n rooi of ‘n blou broekie stoei. Ek was self ‘n kranige klein stoeiertjie, maar dit was lank nadat hierdie voorval plaasgevind. Jan het van Lichtenburg se wereld afgekom, sy van was Van Pretoria. Hulle het hom die posterboy van stoei genoem, aangesien al wat ‘n stasiedorp nooientjie ‘n Huisgenootmiddelblad plakaat van Jan van Pretoria van Lichtenburg teen hulle kamerdeure gehad het. Daardie nooientjies behoort nou almal mooi vroue van diep in hulle 80’s te wees en al lewe Jan lankal nie meer nie, stoei hy nog snags in die slaapkamers van menigte ouetehuise. Jan van Pretoria van Lichtenburg in aksie ...

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter ...

Skurwejantjie en die pitsweer

“Die hele straat is vrot van die pitswere” kla Tannie Gladdis by Oom Skurwes. “Vandat die Vuil Frikke in die woonstel onder die straat ingetrek het, is al wat ’n kind oortrek met pitswere en omlope.”   “O” mompel Oom Skurwes terwyl hy oor die koerant loer. Sy koffie staan al ’n uur lank langs hom. Hy het nog nie ’n sluk daarvan gevat nie. “Gaan jy nie jou koffie drink nie?” blaf sy vrou.  “Wat meen jy nou?” vra die oom. “Ek drink dit mos”. “Mos? Weet jy wat is mos? Dit groei aan die donkerkante van ou bome en klippe. Jou koffie staan al ’n uur lank daar en koud word. Waar was ek nou weer? O ja, omlope en pitswere.” Skurwejantjie weet al lankal dat hy hom nie eintlik hoef te steur aan sy ma en pa se oor en weer bakleiery nie. Sy maats dink altyd dat sy ouers vreeslik kwaai is, maar hy weet dat dit maar net hulle manier is van praat met mekaar. Die dag as sy ma of  sy pa regtig kwaad is, dan is selfs die duiwels en die booswigte bang om uit hul gate en grot...