“Ma wat is ‘n baster?” vra ek een oggend terwyl sy en Fiela, haar huishulp in die kombuis doenig was.
Ek was ‘n bogsnuiter in die jare tagtigs toe die land gebrand het en PW sy groot wysvinger die wereld vol geswaai het. My ma vertel die storie tot haar verleentheid. Volgens haar het Fiela buitengewoon doodstil geword en die skottelgoed al hoe stadiger begin was. My ma het gespanne begin vroetel aan haar voorskoot terwyl sy na die mees diplomatiese antwoord begin soek het. Waar begin jy as jou 4 jarige so ‘n gelaaide vraag vra. Dis een ding om dit te probeer antwoord wanneer dit net jy en jou kind is, maar in die teenwoordigheid van hulle wat deur die einste sisteem van PW se vingerswaaiende regering erg benadeel word, is dit ‘n heel ander uitdaging.
Sy begin toe by die begin. Sy vertel my van die Boesmans en van Jan van Riebeeck. Sy raak-raak an die blommetjies en bytjies. Sy mik-mik in die rigting van wit, bruin en swart. Sy pooitjie lomp oor apartheid, teologie en dat soort hoort by soort. Nadat my ma haar bes gedoen het om my vraag so goed as moontlik te antwoord en Fiela dieselfde bord meer as tien keer gewas en afgedroog het, kyk ek haar aan met baie meer verwarring in my oe as voordat ek die vraag aan die begin gevra het.
“Verstaan jy wat mamma nou vir jou verduidelik het?” vra sy.
Met ‘n groot frons op my voorkop antwoord ek terug:
“Nie eintlik nie, maar wat is ‘n “ghostbuster” dan?
Comments