Sedert Nelson Mandela se afsterwe kan ek nie ophou dink aan die oom en die tannie op die dorp wat se naam onlangs verander het, aan die hoopvolle Afrikaanse kunstenaar iewers op die hoofweg tussen Colesberg en Hanover, aan die kleinkinders van die boer wie onlangs vermoor is, aan die skoolhoof wat nog wag op handboeke, aan die afgetrede onderwyser wat weer begin skool gee het, aan die oupa wie se pensioen opgeraak het, aan hom wat sedert 1994 sukkel om werk te kry, aan die hoopvolles wat onlangs matriekeindeksamen geskryf het, aan die tannie by die bank, die tannie by die weeshuis en die oom by die poskantoor. Ek dink aan die kelner, die konstabel en die aanskofskoonmaker. Die eienaars en die eenmansake, die diknekke en die direkteure. en aan elkeen wat daagliks opstaan om die pot aan die kook te hou. Ek dink aan die manne van die buurtwag, die vriende by die braai en die ouens in die gym. Ek dink aan die ouma van die swanger tiener, die verpleegster by Baragwanath Hospitaal, die maatskaplikewerker op Beaufort Wes, die pastoor in Diepsloot en aan hulle wat wag op huise, werke en spoeltoilette. Ek dink aan die radeloses, die moedeloses, die hooploses; die miljoene Suid-Afrikaners wat elke dag met harte vol gebede die lewe trotseer, elkeen het ‘n storie wat vertel moet word.
Die woord “abba”, ‘n antieke manier om oor vaders te praat. Sommiges vaders het, volgens die Jesus die Groot Bevryder, die mensdom gehelp om oor God te dink as ’n “Abba Vader” in ’n tyd toe wrede sisteme wrede gode in die verbeelding van mense losgemaak. Madiba was een van hierdie goeie vaders.
In hierdie adventstyd dink ek aan hom as ‘n pelgrim wat ver moes loop vir vryheid. Iemand wat die wereld se verbeelding aangegryp het deur vergelding te verruil vir vergifnis. Baie mense stap vandag saam met hierdie pelgrim, in die rigting van ‘n wêreld waar almal vry is om met menswaardigheid te leef. Ons vat hande met mekaar, ons ontdek ons eendersheid te midde van ons andersheid. Ons laat toe dat Afrika deur ons are vloei. Ons loop die pad met ‘n reenboog op die horison. Rondom ons hoor ons die toejuigings van ons voorouers, van hulle wat die pad reeds gestap het. Ons hoor die pleidooi van hulle wat op die pad gestruikel het. Ons struikel self. Iemand help ons op. Ons sien die bakens langs die weg en word herinner dat die pad lank is en al hoe moeiliker gaan word.
Nie almal wil hierdie pad stap nie, sommige pak struikelblokke in die pad, skuil agter rotse en struike om die pelgrims voor te spring en te verwilder. Ander staan langs die kant en kritiseer, hulle lok ons uit met kortpaaie wat soos omdraai voel, maar die moedige pelgrim met skouers soos ‘n bokser gaan ons al dansend vooruit. Hy wys vir die ons weg.
Die kinders van Suid-Afrika ken ook ’n ander betekenis van die woord “abba”. Ons weet wat dit beteken om iemand op ons skouers te tel. Hoe verder ons agter Madiba die pelgrim aanstap hoe meer leer hy ons van versoening. Ons word beter met elke tree. Ons kom agter dat soos die weg al hoe smaller word, stap ons al hoe nader aan mekaar. Aan die begin het ons mekaar net verdra, nou moet ons mekaar begin dra.
Hier aan die voetpunt van Afrika, word ons nou, meer as ooit aangemoedig om mekaar te abba. Soos Madiba vir so lank ons land se vryheid op sy skouers gedra het. Soos Jesus die ganse skepping se vryheid op syne gedra het, so abba ons mekaar.
Die pad is nog lank.
Die pad is nog lank.
Mag ons mooi loop soos Madiba.
Comments