Die wêreld het 'n wrede en donker plek geword. Jare gelede, toe mense sonder heinings en hoë mure geleef het, kon die son maklik tot in menseharte skyn, maar dit was al jare dat die son opgehou skyn het. So asof die son moed opgegee het en omdat die son nie meer wou skyn nie, het die dag ook weggekruip en alles was later oorheers deur die nag. Dit het so lank aangehou dat die meeste mense vergeet het hoe die lig gelyk het.
Tot een oggend, bitter vroeg. (Dit was slegs die uile wat geweet het dat dit oggend is, die res van die wêreld het nie geweet of dit dag of nag is nie, omdat alles so donker was.) Daardie oggend het alles verander. 'n Seuntjie het in die donkeroggend by die kombuisdeur uitgeglip en stilletjies die agterhekkie oopgemaak. Sy voetjies was yskoud op die paadjie wat geloop het na die ou boom met die vergete boomhuis. Hy wou, soos gewoonlik teen die boom se stam gaan speel het, maar daardie oggend heel toevallig, het hy ‘n leer teen die boom se stam gevoel. Eers het hy nie geweet wat dit was nie, want hy het nog nooit in sy lewe ’n leer geklim nie. Slegs grootmense klim lere wanneer die lig nie skyn nie, maar die seuntjie was dapper en nuuskurig en het dit toe voel-voel uitgeklouter.
Hy het die houtleertjie uitgeklim, al teen die boom se groot stam totdat hy bo in die boomhuis gekom het. Alles het na mos, muf en vergete kinderstories geruik. Die seuntjie het nie geweet nie, maar jare gelede was die boomhuis sy pa se gunsteling speelplek. Maar dit was lankgelede, toe die lig van die wêreld nog geskyn het. Die seuntjie het sy ogies op skrefies gehou en probeer sinmaak van die nuwe donker plek waarin hy homself bevind het. Ander kinders sou baie bang gewees het, maar hierdie kind was nie soos gewone kinders nie. Hy het teveel na sy pa geaard om bang te wees, want sy pa was ’n baie dapper man.
Sy ogies het ’n vorm gesien wat gelyk het soos 'n klein blikkie. Sy handjies het gevoel-voel na die blikkie totdat hy dit reggekry het om die blikkie oopgemaak te kry. In die blikkie was ’n klein plastiek skapie, ’n sinker om mee vis te vang, ’n ou geroesde spyker en vreemde kartonboksie. Dit was die laaste oorblywende vuurhoutjies in die hele wye wêreld.
Sonder om daaroor te dink het hy een vuurhoutjie uitgehaal en presies geweet wat om te doen. Dit was asof die hele mensdom se behoefte na lig in sy hande en vingers geskuil het. Met een trek oor die rand van die boksie sien die seuntjie vir die eerste keer in sy lewe hoe lyk lig. Dit was warm en helder en die mooiste ding wat hy in sy hele lewe gesien het. Omdat dit herfs was en die boom se blare orals op die grond gelê het, het die mense so ver as wat die lig kon skyn die flikkering van hoop uit boomtop gesien. Mense het van heinde en verre gestroom. Hulle het soos pelgrims op donker paaie geloop om die bron van lig te ontdek. Toe hulle by die boom gekom het, het hulle die seuntjie en sy ouers met die vuurhoutjies gevind. Hulle het die seuntjie gevra om asseblief weer die lig te laat skyn, sodat die Son weer sy pad terug kan vind en die dag uit sy wegkruipplek kan kom.
Daar was ook ’n wrede koning in die land wat gehoor het dat die seuntjie oor die lig beskik wat die nag sal verdryf en die dag weer laat kom. Die koning was jaloers en bang dat sy konikryk tot ’n val gaan kom as mense helder oordag kan sien al die verkeerde dinge wat die koning in die nag gedoen het. Hy het toe sy soldate gestuur om die seuntjie en sy ouers te vang. Gelukkig het een van die pelgrims vir hulle gewaarsku dat die koning oppad was. Hulle kon toe betyds gevlug het na ’n vreemde land waar die koning se soldate hulle nie kon vind nie. Die koning was briesend en het al die pelgrims gevang en hulle in die donkerste deel van sy tronk opgesluit. Tog was die lig wat hulle daardie oggend gesien het, genoeg om hulle harte warm te kon maak met nuwe hoop dat die wêreld vir almal ’n beter plek sal kan wees.
Jare later het die seuntjie as ’n man teruggekom na die land vanwaar hy gevlug het. Teen daardie tyd het hy soveel lig in hom gehad dat geen donkerte hom kon keer nie. Orals waar hy gegaan het, het die lig in die donker geskyn. Hy het van dorp na dorp gegaan en vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld, wie my volg sal nooit in die donker loop nie”. Hy het selfs die bose koning se donker hart probeer verlig.
Die son het weer sy plek in die hemelruim ingeneem en die dag het uit sy wegkruipplek gekom. Maar omdat die mense vir so lank in die donker geleef het, was dit vir party mense moeilik om aan die lig gewoond te raak. Tot vandag toe is daar nog mense wat die donker bo die lig verkies.
Hierdie man het as die Groot Ligdraer bekend gestaan en sedertdien, vir eeue lank al, wanneer mense ’n kers aansteek, of selfs ’n braaivleisvuur aan die gang kry, word sy wonderlike geskenk aan die wêreld gevier.
Comments