Onder in die gang hoor hy die laaste voetstappe van kinders wat by die trappe af verdwyn. Die skoolklok se laaste lang lui wat die Desembervakansie aankondig, weerklank nog diep in sy oortromme. Sy tafel is vol geskenkies wat die kinders vir hom gebring het. Meestal potjies ingelêgde kosserasies van winkels soos Woolies, ’n bottel whiskey en heelwat biltong. By sy huis het hy ’n eindelose voorraad sulke proviant. Dis amper soveel soos die blikkieskos wat sy ma destyds in 1994 voor die eerste demokratiese verkiesing bymekaar gemaak het.
Sy klas weet dit nog nie. Nie eens die skoolhoof nie. Hy het reeds die besluit geneem, al weet hy nog nie wat op hom in Januarie wag nie. Hy is klaar met die onderwys. Vroeër die kwartaal het hy ’n groot uitval met sy hoof gehad. Dis eintlik belaglik dat twee groot mans so kinderagtig kan wees. Hy weet dit en hy weet die hoof weet dit ook. Sedert daardie groot baklei het iets in hom kom inkruip. ’n Gatvol gedagte. Voor hy hom kon kry het daardie gedagte maats gemaak met ander gedagtes. Dinge wat hy al ’n tydjie lank dink oor sy velkleur, die regering, regstellende aksie, die minster van onderwys, die ondankbare ouers, die suipgatkinders, die witbroodjies en sy gevrekte salaris. Zuma se moer, dink hy. Asof Zuma nou iets met sy huige besluit te doen het. Dis egter baie makliker om dit op Zuma te blameer as op die baie dieper waarheid wat in hom leef. Hy is moeg. Te lank, te veel, te laat, te min. Iets in daai lyn som sy storie in die onderwys op.
Hy dink terug aan sy eerste dag by die skool. 15 jaar gelede. Hy het vars uit universiteit hier aangekom. Aanvanklik sou dit net halwe jaar se geproewery wees, maar toe vind hy en die destydse skoolhoof soveel aanklank by mekaar, dat dié hom ’n permanente pos aanbied. Eers net ’n beheerliggaampos en toe later ’n departementele pos. Hy het alles gedoen. Rugby, tennis, krieket, hulp met die verhoog tydens al wat ‘n konsert. Hy het gemerk dat die spoeg spat en vraestelle opgestel vir die vale. Hy het klas gegee in elke moontlike formaat wat die departement al uitgedink het. Hy het kinders sien kom en gaan. Vir sommige het hy diep lief geword, ander sal hy glad nie herken as hy hulle nou moet raakloop nie. Sommige van hulle is sy vriende op Facebook. Baie is al getroud. Party geskei. ’n Handjievol is oorlede, meeste weens een of ander ongeluk op paaie soos Hendrik Potgieter of die Krugersdorpsnelweg.
Dis dalk die gereelde groetery wat hom so gatlam maak. Of miskien daai compassion fatigue-ding waarvan die sielkundige die anderdag gepraat het. Sy emosionele bankbalans is volgens haar diep in die rooi. Hy kort ’n “sabbatical” meen sy. Hyt gehoor van ’n pelgrimstog in Spanje, “camino-de-something-something”. Sal dit later google. Sy vriend het hom vertel van ’n soortgelyke ding in die karoo. Glo ’n pleister vir enige stukkende siel.
Vir lank sit hy in stilte. Hy staar na die lessenaar voor hom. Dit raak later wasig. Hy kyk verby die stapels papier. Kilometers verder laat hy sy oupa se Parkerpen en sy dagboek agter. Hy dwaal in gange en afrolkamers, ’n doolhof van rugbyvelde, kalklyne en eksamenlokale. Hy voel geweldig alleen.
Sir.
Excuse me sir!
Hy kyk op en sien die enigste swart kind in sy klas langs sy lessenaar staan.
Sorry Steven, I did not see you there for a moment. Ag man, I was daydreaming. Sorry. Yes, how can I help?
Sir I almost forgot to give you this. It’s from my mom sir, she made it herself sir.
Hy kyk na die potjie konfyt wat Steven op sy lessenaar gesit het. ’n Bont lintjie is rondom dit gebind.
It’s for Christmas sir. It’s really nice jam. My favourite. Anyway sir, I just want to say thanx. I’m not sure if you heard the news. I got a bursary to go to university next year. I could not have done it without you. Thank you for everything sir. Enjoy your holiday sir.
Merry Christmas sir.
Merry Christmas sir.
Comments