Skip to main content

Posts

Showing posts from November, 2008

'n Poedinglepel vol hoop

Om te hoop is soos ‘n poedinglepel wanneer jy aansit by ‘n ete. ‘n Mes en vurk op hul eie, of selfs saam met die kleinbordjie en ‘n servet in die vorm van ‘n swaan, sê eintlik maar net een ding: Rys, vleis en aartappels, hoederpastei, wors en pap, een of ander Huisgenoottreffer, of dalk selfs ma se nuutskepping met roketblare, bokmelkkaas en beet. Alles goed en wel en ek kla nie met die witbrood onder die arm nie, maar nie die mes, of die vurk, of die slaaibordjie, nóg die broodmandjie kan dieselfde kinderlike opgewondenheid in ‘n mens losmaak, soos die gevoel wat binne jou maagwande loskom wanneer jy merk dat daar ook tussen al die ander blinkgoed voor jou, ‘n poedinglepel lê nie. Dit is in sulke oomblikke dat jy weet dat daar ekstra moeite gemaak is met jou besoek. Daar is verder gedink, fyner beplan, soeter gedroom oor hoe hierdie betrokke ete moet uitdraai. En as die gasheer of gasvrou hulle sout werd is sal daar geen geheim verklap word oor wat op die gaste na die hoofmaal wag nie