Skip to main content

Posts

Showing posts from October, 2011

Doopwater in my whiskeyglas.

Ek is gedoop in die jare tagtigs in my Ouma Caroline en oupa Piet se kerk op Villiersdorp. Dis waar my ma haar belydenis van geloof af gelê het. Ek onthou as kind, wanneer ons vir my ouma en oupa gaan kuier het, was die kerktoring die eerste ding wat ‘n mens gesien het as jy die dorpie binne gery het. Statig, vorstig, broederbonderig, erg nasionaal, soos dit maar was met die meeste NG Gemeentes van die jare sewetigs en tagtigs. Tydens my doop het die dominee ‘n pikswart toga gedra. Weerskante van die kerk het die ouderlinge en diakens gesit, soos pikkewyne geklee in swart en wit. Die vroue het hoedens gedra en pragtige Sondagrokke. Die plaasbakkies het op die werf agtergebly en die Sondagmotors is uit die waenhuise getrek, blinkgevryf deur die plaaswerkers en netjies in gelid onder die akkerbome van die kerk se parkeerterrein geparkeer. Die atmosfeer tydens my doop was stemmig en gewyd. Die preek is voorafgegaan met dinge wat vir ‘n kind vreemd op die oor geval het. Woorde soo