Skip to main content

Posts

Showing posts from November, 2015

Merry Christmas sir.

Onder in die gang hoor hy die laaste voetstappe van kinders wat by die trappe af verdwyn. Die skoolklok se laaste lang lui wat die Desembervakansie aankondig, weerklank nog diep in sy oortromme. Sy tafel is vol geskenkies wat die kinders vir hom gebring het. Meestal potjies ingelêgde kosserasies van winkels soos Woolies, ’n bottel whiskey en heelwat biltong. By sy huis het hy ’n eindelose voorraad sulke proviant. Dis amper soveel soos die blikkieskos wat sy ma destyds in 1994 voor die eerste demokratiese verkiesing bymekaar gemaak het.  Sy klas weet dit nog nie. Nie eens die skoolhoof nie. Hy het reeds die besluit geneem, al weet hy nog nie wat op hom in Januarie wag nie. Hy is klaar met die onderwys. Vroeër die kwartaal het hy ’n groot uitval met sy hoof gehad. Dis eintlik belaglik dat twee groot mans so kinderagtig kan wees. Hy weet dit en hy weet die hoof weet dit ook. Sedert daardie groot baklei het iets in hom kom inkruip. ’n Gatvol gedagte. V oor hy hom kon kry het daardie g

Die seuntjie en die boksie vuurhoutjies

Die wêreld het 'n wrede en donker plek geword. Jare gelede, toe mense sonder heinings en hoë mure geleef het, kon die son maklik tot in menseharte skyn, maar dit was al jare dat die son opgehou skyn het. So asof die son moed opgegee het en omdat die son nie meer wou skyn nie, het die dag ook weggekruip en alles was later oorheers deur die nag. Dit het so lank aangehou dat die meeste mense vergeet het hoe die lig gelyk het.   Tot een oggend, bitter vroeg. (Dit was slegs die uile wat geweet het dat dit oggend is, die res van die wêreld het nie geweet of dit dag of nag is nie, omdat alles so donker was.) Daardie oggend het alles verander. 'n Seuntjie het in die donkeroggend by die kombuisdeur uitgeglip en stilletjies die agterhekkie oopgemaak. Sy voetjies was yskoud op die paadjie wat geloop het na die ou boom met die vergete boomhuis. Hy wou, soos gewoonlik teen die boom se stam gaan speel het, maar daardie oggend heel toevallig, het hy ‘n leer teen die boom se stam gev

Kerspapierverlange

Haar kersinkopies is reeds in Oktober al gedoen. Sy verpes oorvol winkelsentrums. Sy hou van haar lysies. Meer die afhandel daarvan as die spesifieke items op die lysie. ’n Winkeltrollie met ’n wiel wat wikkel is vir haar ’n boetiedood. Sy ken elke ry. Sy mors nie tyd in ’n Pick'nPay nie. By die huis het sy kaste vol geskenkpapier. Herwin dit al vir jare. Sy het dit mooi opgedeel in papier wat pas by kleinkinders en papier wat pas by volwassenes. Sy hou nie van die geskenkpakkies met die toutjies wat deesdae deur die jongmense gebruik word nie. Dis sommer luigatgeit. ’n Geskenk moet opgemaak word. Dis immers deel van die opwinding van kersdag. Kerskaartjies moet klein wees. Mens moet dit kan vas plak met sellotape sonder dat dit onnet lyk. Sy skryf altyd in hoofletters. Haar kerskaartjies is kort en saaklik.  “AAN KLEINBOET.  GESEENDE KERSFEES.  VAN OUMA.”  As al die geskenke oopgemaak is en almal doenig is met hul eie skatkis van speelgoed en mooigoed, da