Skip to main content

'n Poedinglepel vol hoop

Om te hoop is soos ‘n poedinglepel wanneer jy aansit by ‘n ete. ‘n Mes en vurk op hul eie, of selfs saam met die kleinbordjie en ‘n servet in die vorm van ‘n swaan, sê eintlik maar net een ding: Rys, vleis en aartappels, hoederpastei, wors en pap, een of ander Huisgenoottreffer, of dalk selfs ma se nuutskepping met roketblare, bokmelkkaas en beet. Alles goed en wel en ek kla nie met die witbrood onder die arm nie, maar nie die mes, of die vurk, of die slaaibordjie, nóg die broodmandjie kan dieselfde kinderlike opgewondenheid in ‘n mens losmaak, soos die gevoel wat binne jou maagwande loskom wanneer jy merk dat daar ook tussen al die ander blinkgoed voor jou, ‘n poedinglepel lê nie.

Dit is in sulke oomblikke dat jy weet dat daar ekstra moeite gemaak is met jou besoek. Daar is verder gedink, fyner beplan, soeter gedroom oor hoe hierdie betrokke ete moet uitdraai. En as die gasheer of gasvrou hulle sout werd is sal daar geen geheim verklap word oor wat op die gaste na die hoofmaal wag nie. Die gaste sal deur die loop van die ete begin wonder, begin uitvra, begin plek maak vir wat ook al in die yskas of in die oond op hul soettand lê en wag.

Dit is ook nie asof die vla nog gemaak moet word nie, ook nie asof die sjokolade mousse nog iewers in sy poeiervorm in die kombuiskas staan en wag nie. Nee, dikwels is die poeding eerste beplan. Dit is selde dat die nagereg net ‘n nagedagtenis is op ‘n goeie aand saam met vriende rondom ‘n tafel, soms is dit selfs asof die aand in daardie rigting opbou. Ja, pa se potjie was weereens uit die boonste rakke, ma se pastoriehoender was soos altyd ‘n wenner en die groente keer dat die kinders skeurbuik kry, maar ai, die melktert en moerkoffie het my laat verlang na my ouma se stories oor die Noord-Kaap en sy mense. Dis mos hoekom ons in die eerste plek deur die spinasie geworstel het!

En so is dit ook met die tafel van die lewe. Net toe ek begin dink het dat 2009 net ‘n mes en vurk gaan opdis vir ‘n maaltyd met vaal afval, opgekookte groente en bloedrooi souserige asyn suur beet, of een van daardie plastiek vurkies en ‘n basaarburger in ‘n take away pakkie,of nog erger, net die “left-overs” van 2008, toe dek die lewe vir ons ‘n poedinglepel.

Noem dit Barack Obama, noem dit die Shikota Express, noem dit Ruan Pienaar op loskakel. Noem dit wat jy wil, maar ek noem dit hoop. Nou ek weet op hierdie punt raak-raak ek meer aan die Amerikaanspolitiesgekaapte weergawe van ‘n baie antieke Bron van nuwe lewenskrag, maar vandag gee ek nie om nie. Die “hipe” het my beet.
Die vuurperdewa van nuwe moontlikhede het my ‘n ekstra kaartjie present gegee en ek gaan hierdie trein ry totdat dit my afgooi. Hopelik hou dit langer as die naweek se rugby, ‘n bietjie verder as volgende jaar se verkiesing en dalk as ek gelukkig is, sommer tot by die begin van die nuwe termyn van die volgende VSA president. Daar is nuwe lewe wat in my are borrel. Dit is asof ek nie genoeg gelees, ge-google, ge-youtube, ge-blog, ge-iziko, ge-braaivleis, gepraat en gehoop kry oor die jaar van onse Heer 2009 nie.

Wat die huidige bord kos aanbetref is 2008 amper afgedek. Die ANC het hul morele hoërgrond verruil vir ‘n stortkop en ‘n masjiengeweer, maar uit die gemors het nuwe stemme my frustrasies begin verwoord. Hierdie stemme is goddank swart! Die veranderinge wat reeds gebeur het en dit wat hopelik dalk nog gaan kom het my as jong, blanke man, ironies genoeg, weer ‘n stem gegee. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd voel ek weer deel van die groot gesprek. Ek kan nou weer deelneem aan die hoofdebat, sonder om te voel ek offer myself op as gevolg van die foute van my Vaders. Ek kan deel wees van die vryheidsvegters, sonder om ‘n comrade te wees. Ek kan kla oor die omgekeerde rassisme, sonder te voel dit is die ou apartheidspropaganda wat nog in my leef. Ek kan hoop op ‘n land waar kinders in die strate speel en families vreesloos feesvier, sonder om te hoor ek klou halstarrig aan die verlede vas.

Met die lepel nog net so op sy plek skep ek nuwe moed vir die groente op my bord. Ek druk my vurk met nuwe hoop in die 2010 Wereldbeker, Gautrein, die verkeer op die snelweë, die bendes op die vlaktes, Steve, Jurie en die Huisgenootvoorblaaie, Helium De Villiers en sy polisiesnor, Earl Rose, die Springbokembleem, ons goeie vriend Luke, my bankkostes, die hoë rentekoerse, die brandstofpryse, die huispryse, die wêreldekonomie, Eskom, Telkom, Cosatu en die ANC se blatante rassisme, Zuma se weermagliedjie, Malema en sy trawante, Mugabe en al die ander jakkalse, klein en groot wat die lewe vir ons gewone sterflinge so deksels bitter maak.

Danksy die bogenoemde is die poeding nog ‘n hele paar brusselse spruite ver, maar sodra daardie bak met tipsy tert en vla voor my beland, beplan ek om te skep en sommer lekker diep ook.

Comments

Me said…
Skitterend! Baie dankie vir 'n positiewe post wat letterlik drup van hoop en goeie moed :-). Ek het dit baie geniet. D
Unknown said…
Thanx Blizzard,ek het gister op 'n baie cool website afgekom www.historymatters.co.za , check dit uit.
Reenen said…
en hier dog ek jou poedinglepel is 'n brood in die oond...

:-)

Asweome geskryf, altyd lekker om nuwe content te lees!
Unknown said…
Ave Royal Monarch of Alexandria,nog geen brood in die oond nie, ons klop nog eers die eiers en knie nog eers die deeg!
...een van die mooiste en hoopvolste boodskappe wat ek nog ooit gehoor het. Maande later en ek onthou dit nog steeds.

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke