Skip to main content

Doopwater in my whiskeyglas.

Ek is gedoop in die jare tagtigs in my Ouma Caroline en oupa Piet se kerk op Villiersdorp. Dis waar my ma haar belydenis van geloof af gelê het. Ek onthou as kind, wanneer ons vir my ouma en oupa gaan kuier het, was die kerktoring die eerste ding wat ‘n mens gesien het as jy die dorpie binne gery het. Statig, vorstig, broederbonderig, erg nasionaal, soos dit maar was met die meeste NG Gemeentes van die jare sewetigs en tagtigs.

Tydens my doop het die dominee ‘n pikswart toga gedra. Weerskante van die kerk het die ouderlinge en diakens gesit, soos pikkewyne geklee in swart en wit. Die vroue het hoedens gedra en pragtige Sondagrokke. Die plaasbakkies het op die werf agtergebly en die Sondagmotors is uit die waenhuise getrek, blinkgevryf deur die plaaswerkers en netjies in gelid onder die akkerbome van die kerk se parkeerterrein geparkeer.
Die atmosfeer tydens my doop was stemmig en gewyd. Die preek is voorafgegaan met dinge wat vir ‘n kind vreemd op die oor geval het. Woorde soos “votum”, “gebooie” en “skuldbelydenis” het emosies van vrees vir pakslae in ‘n mens losgemaak. Ek was egter te klein om daardie woorde te hoor, waarskynlik te besig om my dooprok in my mond te probeer kry. My ma vertel altyd met groot genot hoe ek die dikste, vetste en grootste baba was.

My ouers het op daardie stadium in die Noord-Kaap gebly. My doop was dus ‘n uitgestelde affêre opsoek na ‘n geskikte datum, want ek is immers na my oupa vernoem en Ouma Caroline sal eerder dood as dat haar kleinkind in ‘n ander kerk gedoop word as die kerk waarin my oupa ‘n ouderling is.  My pa sê dat dit ‘n “close call” was of ek is groot gedoop, as hulle glo nog ‘n maand moes wag, sou net die AGS pastoor my kon doop.

Ek dink gereeld oor my doop. Het dit regtig so baie beteken? In ‘n konteks van stoere Afrikanerdom, in die hoogbloei van Apartheid, op ‘n dorpie wat meer behep was met godsdienstigheid as met die Here van die godsdiens, was daar ooit ‘n plek vir hierdie God van liefde om homself aan my te kon bind? Ek kan net dink aan al die familie-politiek wat daardie dag afgespeel. My ouma wat almal aangjaag om betyds by die kerk te wees. My pa se das wat hopeloos te kort geknoop is. My broer wat sy ninger nie uit sy neus kon hou nie. My dooprok wat my soos ‘n meisiekind laat lyk.  Die dominee se lang preek en my oupa se reputasie om as die uur verby is, op te staan en uit te loop.

En dan lees die dominee uit die ou formelier. Woorde wat vandag vir my hard op die oor val. Woorde wat ek moeilik my eie kan maak. Woorde wat geskryf is vir ‘n ander gehoor as die mense wie vandag hul kinders na die kerk toe bring om gedoop te word.

Tog, te midde van ‘n vreemde vermenging van kerk, kultuur en politiek, breek die genade deur daardie ou woorde en flikker die eintlike hoop van die doop.  Lank voordat ons gesin op verskeie maniere die seerkry van die lewe en die pyn van die dood beleef het; lank voordat ek regtig in God sou geglo het, lank voordat ek enigeiets anders sou wees as bloot maar net ‘n kind van my konteks en tyd, nooi die doop my en my gesin in God se groter storie in.

Reg oor die wereld word kinders gedoop deur ouers en dominees wat eintlik nie ‘n benul het wat hulle doen nie. Dope vind plaas in kerke met die vreemdste teologiee, gedoen deur twyfelende pastore en predikante met donker geheime. Die meeste van die tyd word gewone kraanwater gebruik, sommer dieselfde water wat gebruik word om die gras nat te spuit of die whiskey glas vol te hou.

Tog glo gelowiges deur eeue al dat die doop groter as die doper is: Dat nie die water, of die doopvont, of die dominee iets van die doop kan wegneem of selfs kan byvoeg nie. Ons weet diep in ons twyfelende harte dat die doop nie van ons afhang nie en ook nie van ons ouers se moedige pogings om hul beloftes na te kom nie.

Die doop hang van genade af.

En genade is God se werk.

Ons hoort by God, daarom word ons gedoop.

Ons behoort aan God, daarom word ons gedoop.

Comments

While we are trying desperately to live our lives, life forces itself through us...

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke