Skip to main content

Kerspapierverlange

Haar kersinkopies is reeds in Oktober al gedoen. Sy verpes oorvol winkelsentrums. Sy hou van haar lysies. Meer die afhandel daarvan as die spesifieke items op die lysie. ’n Winkeltrollie met ’n wiel wat wikkel is vir haar ’n boetiedood. Sy ken elke ry. Sy mors nie tyd in ’n Pick'nPay nie. By die huis het sy kaste vol geskenkpapier. Herwin dit al vir jare. Sy het dit mooi opgedeel in papier wat pas by kleinkinders en papier wat pas by volwassenes. Sy hou nie van die geskenkpakkies met die toutjies wat deesdae deur die jongmense gebruik word nie. Dis sommer luigatgeit. ’n Geskenk moet opgemaak word. Dis immers deel van die opwinding van kersdag. Kerskaartjies moet klein wees. Mens moet dit kan vas plak met sellotape sonder dat dit onnet lyk. Sy skryf altyd in hoofletters. Haar kerskaartjies is kort en saaklik. 

“AAN KLEINBOET. 
GESEENDE KERSFEES. 
VAN OUMA.” 

As al die geskenke oopgemaak is en almal doenig is met hul eie skatkis van speelgoed en mooigoed, dan maak sy die papiere bymekaar. Sy versamel dit as teenvoeter teen die verlange. Die kinders se geskenkpapier is selde nog in ’n herwinbare toestand, maar sy maak dit steeds bymekaar. Dis eers wanneer sy by die huis is, tussen kersdag en nuwejaar, dat sy die geskenkpapier uitsorteer. 

Die papier met die rooi kersvaders gooi sy summier weg. Syt nog nooit vatplek aan die koddige vetgat gekry nie. Dis die papier met die bybelse karakters en tonele wat haar gunstelinge is. Sy bêre dié met die skaapwagters vir haar seun. Hoe koddig het hy nie gelyk in sy pa se kamerjas doerie jare toe die nuwe dominee se vrou ’n kerstoneel met die kinderkrans opgevoer het nie. Kersfees is die einigste tyd van die jaar dat sy nog aan God dink. Sy bid al vir jare nie. Vandat haar man oorlede is, amper 15 jaar gelede, het haar gebede opgedroog. In die tyd van sy siekte het sy haar voor die Here leeggebid. Al haar woorde vir hom is nou op. Tog, elke jaar vang dit haar hoe maklik die gedagte van die Here by haar kom vatplek kry gedurende hierdie tyd. Dit het heel moontlik te doen met ’n mengsel van stories, smake en ou bekende melodieë wat reeds al van einde November af oor die draadloos begin speel en in die tydskrifte se resepte verskyn. Wanneer sy met haar Suzuki Jimmy buite die kerk stop lei haar voete haar na dieselfde kerkbank waar sy en haar man vir jare gesit het, eers net hulle twee, toe later met hulle kinders en heelwat later weer net op hul eie. Sedert die eerste Sondag na sy begrafnis, het sy nog nooit weer daar gesit nie, behalwe op kersdag. Dit verras haar altyd as sy ’n jaar later weer in die kerk kom en sien dat die kerkbank leeg is. Iets in haar hoop dat dit die hele jaar lank leeg staan. Soos die gat in haar hart waaraan geen man weer vatplek sal vind nie. 

Kerstyd het egter die manier om haar hart effe te vermurwe. Dit begin met die uitsoek van mooigoed vir haar kinders en kleinkinders. Dan met die onthou van ou kerspapier. Terwyl die geskenke onder die plastiek kersboom in haar eenslaapkamerwoonstel lê, kry die storie van die Christuskind bietjie-bietjie lêplek in haar binneste. Die leegheid raak effe voller. Die verlange begin anders voel. Ligter, met meer hoop as hartseer. Wanneer sy op kersoggend haar handsak en haar man se bybel in die kerkbank voor haar inskuif, buig haar hoof amper outomaties in gebed. ’n Sug meer as iets anders. Tog diep in haar wese ’n gebed. ’n Erkenning van die teenwoordigheid van die oënskynlike afwesige Here. “My God” is al wat sy uitkry onder die gesug van haar verlange. Iewers tussen “Al was ek nie daar nie" en “Stillenag" bedaar haar binneste. Later die dag, as die eerste kleinkind sy geskenk van sy ouma oopmaak is dit asof sy nog nooit enige verlies geken het nie.

Comments

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke