Skip to main content

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)


Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos (https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie. 

Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter wille van navorsiging natuurlik.

Hier volg my verslag aangaande die gebeure wat daar plaasgevind het. Voel vry om dit aan te stuur aan al daai gespanne vriende wat jou eposse belas met doemprofeetwaarskuwings oor hoe haar album in jou versameling die rede is vir ‘n veluitslag op jou kind se boud.

Lady Gaga is nie ‘n monster nie, sy is ‘n mens. Haar regte naam is Stefanie. Geen ouer doop mos jou kind Lady Gaga nie. Sy is gebore in 1986 en het grootgeword in New York. Sy het by ‘n Katolieke meisieskool skoolgegaan, dit is dieselfde skool as waar Paris Hilton was. Ek is juis besig om navraag te doen of daar enige vakante poste by die skool is.

Wat haar musiektalent en sukses aanbetref is sy nie ‘n “one night stand” nie. Sy kon op die ouderdom van 4 jaar oud al klavier speel. Toe sy 13 was het sy haar eerste musiek stuk geskryf. Sy het ‘n jaar later op die ouderdom van 14 jaar haar eerste openbare optrede gedoen by nagklub in New York. Sy was een van slegs 20 studente in die geskiedenis van die baie gesogte New York University's Tisch School of the Arts om vroeer as gewoonlik aanvaar te word. Sy het egter haar studies na ‘n paar jaar gestaak om voltyds haar musiek en drama loopbaan na te jaag. Sy het as ‘n kelner en danser gewerk terwyl sy musiek vir onder andere Britney Spears geskryf het. Dit was die R&B kunstenaar Akon wat haar eie talent raakgesien het en haar gehelp om haar eerste album getiteld The Fame uit te bring. Die res is geskiedenis.

Nadat ek Vrydagaand se optrede bygewoon het, het ek tot slotsom gekom dat al die bohaai oor haar vanuit Christen geledere onnodig is. Natuurlik is daar kwessies wat Christene oor haar lewe, musiek en optredes kan en moet aanraak as deel van wat ons glo toepaslik is vir iemand wat so baie jong aanhangers het. Byvoorbeeld, die uitlokkende seksuele inhoud van haar musiek en haar optredes is iets wat gesinne met jong kinders van kennis moet neem. Gelukkig het ons as ‘n samelewing nou al genoeg ervaring in hierdie verband. Sulke kunstenaars behoort ons teen hierdie tyd nie meer te verras nie en ek vermoed die gemiddelde regdenkende ouer sal sonder moeite weet wat toepaslik is vir ‘n jong kind as dit by seksuele beeldmateriaal kom. Dieselfde geld ook vir haar taalgebruik tydens haar optredes. Sy kan lekker kwets as sy wil. Dus, as Vrydagaand ‘n film was, sou dit ‘n ouderdomsbeperking van 13 of dalk selfs 16 gehad het vir seks en taal. Dit is egter niks anders as vir ander kunstenaars soos Pink, Britney Spears, Pit Bull of ons eie Jack Parrow nie.

So wat is dan nou die ding wat die kerkmense so warm in die kraag maak? 

Haar lied getiteld Judas is natuurlik een voorbeeld wat vir baie Christene ‘n doring in die vlees is. In die lied sing sy dat sy verlief is op Judas. Jesus is haar reinheid, maar Judas is die duiwel waaraan sy verbete vasklou. Hierdie uitspraak is egter nie so kontroversieel soos dit klink nie. Die Bybel is immers vol Judas karakters en hul stryd om uit die moeilikheid uit te bly. Gereeld vertel die Bybel van mense wat hul donker kante vir God wys, eerlik hul woede en teleurstelling in God uitspreek. Daar is byvoorbeeld ‘n hele boek in die Bybel net gewy aan klag en verwyte teen God en die lewe. Jesus se kruiswoorde dat God hom verlaat het is deel van hierdie ryke tradisie waar mense God aankla vir hul donker verlatenheid. Lady Gaga se lied Alejandro wat sommige mense sien as ‘n direkte uitspraak dat sy nie God se kind is nie, sou ook op hierdie wyse hanteer kan word. Die Christelike geloofstradisie is eintlik heel gemaklik met mense twyfel, ongeloof en onsekerheid. Lady Gaga is nie die eerste mens wat so oor God praat nie. 

Die lied nooi ook ‘n verdere interpretasie uit. Die donker is aantreklik. Paulus skryf ook daaroor. Hy se dat die goeie wat hy wil doen, sukkel hy om te doen, terwyl die slegte baie makliker en kan ek byvoeg lekkerder is om te doen. Jesus, soos gepreek en geleef deur die meeste kerke is vervelig. Judas aan die ander kant is opwindend, gevaarlik en aantreklik. Die Bybel vertel ook hoe hierdie aantreklikheid baie misleidend is. Die aanvanklike lekker, word baie gou bitter. Lady Gaga kry dit egter goed reg om ons hierdie bitter donker kante van die lewe te wys. Sy praat namens hulle vir die wie die lig nie maklik kom nie. Sy nooi die kerk uit om dalk met meer empatie en deernis te kyk na hulle wat deur die krake val, hulle vir wie die reguit pad nie maklik nie. 

Met hierdie uitndoging in gedagte het sy tydens haar optrede die koeel reg deur die kerk geskiet deur ‘n kasteel stelselmatig in ‘n kerk te verander. Die verhoogstel was een groot middeleeuse kasteel wat as deel van die storielyn soms ook ‘n tronk uitgebeeld het. Deur die loop van die aand het die tronk al hoe meer in ‘n kapel verander met prominente kruise wat op verskeie plekke verskyn. Die hoogtepunt van hierdie metamorfose was toe ‘n bruidspaartjie by die trappe afgekom het deur ‘n kitaarspelende priester ontvang is. Toe die priester egter ontdek dat die bruid ‘n man is, het hy geweier om die twee trou. Die bruid  het in mekaar gesak van hartseer, sy pyn was voelbaar tot in die agterste stoele waar ek gesit het. Die kerk moet kennis neem van hierdie kragtige simboliek. Lady Gaga wys ons dat vir baie mense voel die kerk net soos ‘n tronk.

Haar vleisrok vra ook ‘n opmerking of twee. Tydens ‘n MTV musiektoekenning het sy in ‘n rok van rou vleis verskyn. Hierdie tema het ook sy opwagting in haar optrede gemaak. ‘n Vriend het genoem dat sy versigtig moet wees met so ‘n rok tussen so baie Afrikaner mans. Hulle sal meer na haar rok kyk en kwyl, as na haar lyf. Niks soos ‘n lekker Jimmy sous en ‘n stukkie braaivleis nie. Dit bevestig dan ook die punt wat sy met die rok wil maak, want terwyl diereregte organisasies hul speelgoed uit die kot daaroor gegooi, het sy terug geantwoord met die woorde: Mans hanteer vroue soos vleis. Sy kon dit natuurlik net gese het ook, sonder om soos ‘n rou biltong te lyk. Hierdie skok tegniek is egter nie nuut nie. Kunstenaars doen dit nou al vir baie lank tot groot effek. Dis egter nie net kunstenaars nie, groot profete in die Bybelse tyd het baie erger dinge gedoen om hul boodskap oor te dra, Esegiel het byvoorbeeld van God die opdrag gekry om die inhoud van sy buurman se long drop te gebruik om kos gaar te maak, as ‘n simbool van die toestand waarin sy land se morele waardes is. Hy het egter versuim en vir God gevra of hy nie dalk eerder beesmis kan gebruik nie. Jesaja het vir drie jaar kaal in die publiek rond geloop. (die Ou Vertaling se hy het sy bo-kleed uitgetrek, die Nuwe vertaling se hy het kaal rondgeloop. Albei vertalings is egter eens dat God en die publiek dit as kaal ervaar het). Hosea het met 'n prostituut getrou en dit gekwalifiseer dat die opdrag vir sy keuse van bruid van God af gekom het. Ek het ‘n jaar gelede dit gewaag om in plakkies te preek, ek hoor nou nog mense daaroor kla!

Lady Gaga verstaan iets wat die profete van ouds goed geweet het, soms is woorde nie genoeg.

Kyk, laat ons mekaar net weer herinner dat die girl se lewe een groot toneelspel is. Sy het dit ook erken tydens een van haar meer persoonlike momente tydens die vertoning. Haar volgelinge verstaan dit ook baie goed. Hulle is minder besig met haar eksplisiete simboliek en baie meer bewus van die geheelbeeld van die ganse optrede en die boodskap wat daardeur probeer kommunikeer. As Christene kan ons natuurlik haar herinner dat ‘n lewe agter maskers nie goed vir die siel is nie. Jy mag dalk in die groot drama voor die kollig jou diepste self verloor. Die kerk kan haar nooi om meer kere haar gewone self vir die wereld te wys. Sy sal waarskynlik dieselfde vir die kerk ook se.

Dat baie Christene egter sukkel om intelligent met haar skokkende metafore en simboliek in gesprek te tree, verklap dat ons iets van die kleurryke, teatrale en metaforiese kommunikasie styl van ons antieke tradisie verruil het vir die linkerbrein letterlike akademiese denkskool van ons westerse moderne wereld. Nie dat laasgenoemde verkeerd is nie, dit het ons immers al op die maan laat beland. Die Bybel is egter ‘n biblioteek van verskeie genres, waarvan die minderheid van die boeke klink soos ons hedendaagse moderne denke. Natuurlik sal sommige mense meer gemaklik wees met ‘n skryfstyl wat lees soos die doen dit jouself handboek van ‘n 1981 Ford Cortina, maar Lady Gaga en groot dele van die Bybel lees meer soos ‘n klassieke opera stuk of dalk eerder ‘n Tolken trilogie. Die tipiese apokaliptieke skryfstyl van die antieke Joodse literatuur wat so prominent in die Bybel voorkom het nogals baie raakplekke met hoe Lady Gaga haar boodskap oordra. (Ek is baie bewus dat hierdie vergelyking vir baie Christen lesers van hierdie artikel erg problematies sal wees, wat net soveel te meer my punt staaf...)    

So wat is haar boodskap nou eintlik?

Dis maklik om te dink dat dit hoofsaaklik losbandige seksualiteit en bloedbehepte godsdienstige rituele is. Dit is egter allermins die geval.

Reg deur die loop van die optrede is haar boodskap eenvoudig en konsekwent een ding: Jy is mooi. Jy is uniek. Jy is ‘n mens. Jy is goed genoeg. Haar optrede pleit vir ‘n samelewing wat meer verdraagsaam is teenoor die ander. Sy is die selfaangestelde ambassadeur van die randfigure. Sy smeek uitgesproke vir gelyke regte vir alle mense, ongeag jou kleur, taal, ras of seksuele voorkeur. Sy droom van gemeenskappe waar elkeen ‘n plek aan die tafel het. Sy pleit vir liefde. Sy moedig jongmense aan om dapper hiervoor op te staan. Nou as dit die boodskap is van die sogenaamde antichris, dan moet ek erken het ons wragtag al ‘n ver pad gekom. 

Ek het Sondag 10 babatjies gedoop. In my kerktradisie is ‘n baie kosbare en heilige affȇre. Vir baie jare het die doop mense herinner dat jy in sonde ontvang en gebore is. Jy moet skoon gemaak word, jou eerste identiteit is dus sondaar. Natuurlik wanneer dit jou uitgangspunt is, dan vorm dit ‘n baie spesifieke mensbeeld. Een wat veral mense wat dan nou nie deel is van die Christelike geloofstorie nie as onheilig en boos beskou. Hierdie manier van kyk na mense is iets wat Lady Gaga probeer aanspreek.

Tog is daar nuwe ontdekking van ‘n ouer waarheid besig om weer deel van ons verstaan van die doop te word. Heel aan die begin van die Bybel se vertelling van die verhaal van God en mens lees ons dat God ons gemaak het na God se beeld. Ons was nooit eerste sondaar nie, maar eerder eerste goed, mooi, heilig en van God af. Ons is God s’n en ons is so gebore.

‘n Laaste gedagte oor Lady Gaga, of te wel Stefanie. Ek kan verkeerd wees, maar as die bronne reg is dat sy uit ‘n Amerikaans-Italiaans Christen familie kom, is daar ‘n baie goeie kans dat sy ook gedoop is. 

En dit al klaar is geweldig...

Comments

KobusM said…
Dankie Fourie, verfrissend en vars...soos doopwater!
Hein said…
Wonder of sy Rob Bell se Velvet Elvis gelees het. (Fortress vs Trampoline)
Edward Jonsson said…
Goed gestel Fourie.
Anonymous said…
Fourie, weer tyd dat jy daardie plakkies van jou nader trek vir een van jou preke ...
Johan Conradie said…
Wil jy dit nie instuur vir al die koerante nie! Baie dankie, jy "wys" my baie.
Deon said…
Deur FB op jou blog afgekom en jou LG bydra nogal geniet. Ek stem grootliks saam met jou. Die verpakking van haar boodskap is waar die probleem vir mense inkom. Sy ontmasker geykte simboliek. Sy doen dit op kontroversiele, maar wel kommersiele manier. Sy laat my nogal dink aan Nietsche se "God is dood" - met die klem "ons het hom doodgemaak". Haar vertolking van Christelik/Paganistiese/Kerklike (spesifiek - Katoliek) simboliek, is dekonstruksie op sy beste.
taniamathys said…
This comment has been removed by the author.
Freddie said…
Interessante sienings en perspektief. Die vraag oor wat sy verkondig is egter watter definisie koppel sy aan "liefde" waarvoor sy pleit? God is liefde, maar Hy is ook Heilig. Ons vergeet so maklik hiervan, want ons word gebombardeer met Hollywood se weergawe van liefde, wat eintlik maar net "lust" is.

Ek dink die kwessie van die doop staan eenkant, en die vraag of sy wel gedoop is, is geweldig niksseggend. Mense wat as babas gedoop is kan natuurlik hul rug draai op God - en doen dit ook gereeld. Die ander perspektief is waar pas die verval in sonde in haar boodskap? Is almal "goed genoeg"? Is ons soos die mens aanvanklik geskape is (in God se beeld)? Benodig die mensdom dan enigsins 'n verlosser? Waar pas Rom 3:23 (en soveel ander verse) in? Die probleem met hierdie verdraagsame hedendaagse weergawe van die Bybel is dat alles aanvaarbaar geword het. Almal is goed genoeg, daar is nie meer sonde nie.

My laaste kwessie is, waarom gebruik maak van die soort van simboliek wat so maklik verkeerd geinterpreteer kan word, of die verkeerde boodskap kan lewer (reg of verkeerd)? Sensasie? As mens iets het om te se, is dit nie soveel beter om dit reguit en onomwonde te se nie? Sonder 'n moontlikheid dat mense jou verkeerd kan verstaan nie? Of, op die heel minste, waarom nie dan die simboliek verduidelik vir dom ouens soos ek nie? Spreek in die opnebaar uit teen die dinge waarvan jy na bewering valslik beskudlig word. Distansieer jouself in die openbaar van die beskuldigings dat jy Satan se bruid is ens. Dit sal geen afbreuk maak aan jou simboliek of boodskap as mense dit verstaan nie!
Standi said…
Freddie het in een paragraaf alles eintlik onderstebo gegooi. In die Bybel is daar ook iets soos "reg" en "verkeerd", "Lig" en "donker" en ongelukkig val die "tussenin" (grys) gewoonlik in die donkerkant, want dit is waar mens verlei word. Blote ewel sal nie sommer mense lok nie, maar blote ewel vermom in 'n grys pakkie wat die "lig" verkondig: dis waar mense val en dit is die probleem in hierdie geval.
Unknown said…
Fantastiese post. My konsentrasiespan is met die internet saam in ernstige gedrag, maar ek het elke woord gelees wat jy geskryf het. Ek stem absoluut saam en was vir die laaste maand so effe ongemaklik oor al die christen bohaai. Dit voel agterdogtig, wantrouig, minderwaardig en bietjie te defensief. So alhoewel ek met jou saam stem sou ek natuurlik nie in 'n honderd jaar dit nie so vars en "thought-provoking" kon stel nie. Dankie.
Unknown said…
Dankie, Fourie, vir 'n uitstekende blik op die genre, antropologie en hermeneutiek waarmee ons te doen het in die debat. Jou aanslag is verhelderend! As ons maar net kan leer om te luister, meen ek, sal dit ook beter gaan.
Marelize said…
Dankie, Fourie. Baie interressante waarnemings. Morne, my man, se altyd - "anything but boring" - dit is die enigste manier om seker te maak mense nie van jou vergeet nie! Ons kinders luister veel eerder na 'n pop sanger as na (skuus) 'n preek Sondag .... ek is altyd verbaas oor hoeveel liedjies hulle kan saamsing....Ek hoop net dat die wat daarna luister wel die dieper betkenis sal raaksien!
Anonymous said…
Netjies om haar pinkie gedraai. Met respek Fourie, jy is naief. Gaan kyk bietjie hierna http://vigilantcitizen.com/musicbusiness/lady-gagas-bad-romance-the-occult-meaning/
Anonymous said…
Finally!

Ek was al baie lus om uitsprake te maak rondom mense wat die baba saam met die badwater uitgooi, en die feit dat ek nie 'n versie het vir elke ding wat ek se nie help nie my lot met die "crazies" nie:)

Dankie!
Wilco Roberts said…
Well said...ek dink dis 'n briljante stukkie
Unknown said…
Dankie vir die lekker gesprekke en opmerkings. Wat die website vigilante citizen aanbetref, wat ons vriend anoniem aanbeveel, dis juis agv daardie website en soortgelyke interpretasies dat ek dit nodig geag het om iets oor Lady Gaga kwyt te raak.
Freddie said…
Hi Fourie,

Ek dink dis presies waaroor dit gaan. "Soortgelyke interpretasies". Persepsies. Daar is soveel interpretasies as wat daar mense en opinies is.

Die vraag is wie se interpretasie is korrek. Wie weet? Is Lady Gaga die bruid van Satan? Of is jou interpretasie van die simboliek korrek? Ek reken slegs sy sal dit kan antwoord, en dan weereens my vraag - hoekom spreek sy nie uit oor die vraag nie? Mens sou seker kon argumenteer dat indien iemand SO'n belangrike boodskap wil oordra, dat mens dit op so manier sal doen dat dit onomwonde verstaanbaar sal wees. Of minstens dat 'n persoon 'n ernstige aanklag sou ontken indien dit vals sou wees?
Anonymous said…
Dankie Fourie, verfrissend en halleluja vir 'n verandering uit die mond van 'n Christen. Ek het al begin skaam kry hoe Christene mense veroordeel en verdoem, nog voor God self dit gedoen het. Die Lady is beslis uit om te skok met haar Godgegewe sangtalent. Sy het my in hoendervleis en selfs in trane gehad. Sy is so liefdevol en min mense wat nie die moeite doen om die mens agter die aktrise te leer ken, sal dit besef nie. My enigste bekommernis was die eerste optrede deur die man wat vreemde danse uitgevoer het op Lady Stardust se musiek. Sal graag wil hoor wat jou opinie rondom dit was, want dit was vir my uiters satanisties, toe hy met sulke dooie oë na die gehoor kyk en met 'n bebloede mond grynslag. Slegs dit het my ongemaklik van haar hele show laat voel en my laat wonder, hoekom sal iemand wat in goed glo, so-iets toelaat aan die begin van haar show. Dalk is dit ook simboliek wat begin het met ongemak, satan, die dood en dan oorgegaan het tot die einde met lig, lag en liefde.
Unknown said…
Freddie, ek is baie bewus van die feit dat my artikel slegs een van 'n reeks interpretasies is. Ek is selde gespanne of my interpretasie reg of verkeerd is, maar eerder of ek oopkop genoeg is om te kan interpreteer.
Dude, ek het 'n artikel oor Gaga vir Litnet geskryf met 'n hyperlink na jou post toe. laat my weet as jy wil protes aanteken.
Unknown said…
Hello Reney, jy is baie welkom hoor. Waar kan ek jou artikel raaklees?
Freddie said…

“The problem with having an open mind, of course, is that people will insist on coming along and putting things in it.”

― Terry Pratchett

Unknown said…
Ek ervaar die stuk as vars en kan eerlik sê ek was aangenaam verras! Ek wil net by sê ek's glad nie 'n Lady Gaga fan nie.

Vir my gaan dit oor wat jy as leser uit die stuk vat. Ek is 'n wit en swart mens- as dit nie reg is nie is dit verkeerd. Ek voel dit gaan oor die feit dat ALMAL hulle “weird” ways/ opinies/ gewoontes het, of hulle dit wys of nie. Dit gaan oor om mense te aanvaar/ vergewe/ lief te hê net soos hulle is. Dit is NIE jou plig om te judge NIE, net God mag dit doen. Punt.

Die stuk het my denke oop gemaak om met meer aanvaarding en liefde teenoor my medemens op te tree... ONGEAG. Ek voel ons as Christene moet daarna streef om die eerstes te wees om so op te tree eerder as om die wat anders is uit te wys of weg te skuif.

My hoop, veral in hierdie tyd, is dat mense bewus sal raak van ander- hulle geluk, hartseer, swaarkry, uniekheid en dat hulle deur die genade van die Heilige Gees ander mense sal aanvaar en onvoorwaardelik lief sal hê!
Theo Engelbrecht said…
Theo Engelbrecht Matt.7:15-20. Opskrif in my bybel. "Vals Profete". Net die feit dat ons "Teologiese" vriend se dat hy reken daar moes 'n ouderdoms beperking op haar show gewees het, se al klaar vir my daar is fout. Die feit dat haar taalgebruik bietjie skurf is se vir my haar vrugte is bietjie vrot. Hoe sal jy 'n vals profeet eien? Sy vrugte is vrot. En dan nog te wil reken dat sy OK is net omdat Fourie reken sy is klein gedoop. Daar is geen skrifgedeelte in die hele bybel wat kleindoop regverdig nie, wat nog te se dat jou siel gered sal wees net omdat jy dit ontvang het toe jy klein was. Storieman, jy skryf baie oulike stories, miskien moet jy maar liewers daarmee voortgaan en die teologie los. Jy "confuse" nou baie mense met die stellings wat jy hier kwytraak. Jy weet wat se die skrif oor mense wat in geestelike leiers posisies staan en die mense mislei. Die siele wat verlore gaan sal op jou kerfstok wees. Op.3:14-22 som die hele besigheid mooi op. "Was julle maar warm of koud, maar nou omdat julle lou is gaan Ek julle uit my mond uitspoeg". Kyk maar sommer ook bietjie na Matt.7:21-23. Vir die wat reken dat ek as Christen nie mag oordeel nie wag daar ook 'n verrassing. Kom ons gaan kyk gou na 1Kor.5:9-13. As Gaga in die "kerk" staan omdat sy klein gedoop is of na 'n katolieke skool toe gegaan het, het ons die volste reg om haar te oordeel. As sy buite die "kerk" staan sal God haar oordeel. Nou hoekom sal ons wat Christene is onself met iets vereenselwig wat buite die "kerk" staan. Dis juis omdat ons traag is om standpunt in te neem dat ons sit met die delemma van alles is nou maar reg. Lees 1Kor.6:9-20 ook + 1Kor.3:16-22. Vir eers gaan ek groet.
Unknown said…
Theo, het jy geweet dat in die Joodse Rabbi tradisie was daar 'n ouderdomsbeperking op Hooglied gewees.
Theo Engelbrecht said…
Nee Fourie ek het nie, die bybel wat ek lees het nie 'n beperking op nie, dis oop vir alle ouderdomsgroepe. Ek het nie in die Joodse Rabbi era geleef nie, so verskoon my maar as ek dit nie geweet het nie. Net een vraag, hoe bring jy die boek Hooglied en Lady Gaga se seksueul perverse opvatings bymekaar? Inteendeel die inleiding wat ek so pas gelees het in die oorsig van Die Bybel in Praktyk oor die boek Hooglied se juis dit: "Ons lees en hoor van die more tot die aand van onsedelikheid en buite-egtelike verhoudings. Dit wek by mense die indruk dat onsedelikheid vryheid beteken, dat seksueule perversiteit normaal is en dat toewyding ouderwets is. Die Here het seks geskep en dit goed gemaak. Die wereld het dit egter verdraai en uitgebuit, daarvan 'n onwettige en oppervlakkige aktiwiteit gemaak. Liefde het wellus geword, gee het neem geword en blywende bande, los flirtasies. Dankie dat jy my na die boek Hooglied toe gevat het. Nog 'n aanhaling uit die Oorsig van die boek Hooglied uit die Die Bybel in Praktyk: "Hierdie boek het ook 'n kultiese konteks: In die Joodse Bybels is dit deel van die feesrolle wat tydens die groot feeste gelees word. Die Jode lees dit vandag nog tydens die Paasfees op die agste dag. Vir die Jode is dit dus 'n baie heilige boek. Die ou Jode het dit vergelyk met die allerheiligste deel van die tempel waar die ark gestaan het", heelwat anders as wat ek van Gaga kan se. 1Kor.10:18-22. Vers 21:"Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van duiwels nie. Julle kan nie deel he aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van duiwels nie. Lees maar self wat se vers 22. Lees maar gerus die hele hfstk.10. Aan al die lesers wat nie Die Bybel in praktyk het nie, doen julself 'n guns en kry een, dit help ouens soos ek wat "teologies" gestremd is saam met die leiding van die Heilige Gees om 'n beter perspektief te kry van God se Woord.
Unknown said…
Theo, uit jou opmerkings lei ek af dat jy iemand is wat met groot sorg en erns jou geloof leef. Doen so voort. As jy gemaklik is met die Bybel in Praktyk as kommentaar op die Bybel is dit goed. Die gevaar is egter dat jy kan word soos iemand wat die graad 11 tegniese tekeninge handboek gelees het en homself as 'n argitek sien. Ek moedig jou aan om nog wyer te lees, daar is wonderlike bronne wat op jou wag. Ek wonder ook waarom jy aanhou om teologie in aanhalings te skryf?
Theo Engelbrecht said…
"Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie". Jou eie woorde, lyk dit vir my jy leer ook maar nog, maar dit het jou nie gekeer om jou opinie te gee nie. As ek die stelling reg interpreteer klink dit liewers vir my of jy 'n rede gesoek het om jouself te "justify" om te gaan. Dit was mos nou immers vir navorsing. Dit is my probleem met die "teologie", mense wat dit studeer dink hulle is die enigste mense wat weet wat in die geestes wereld aangaan en die res is onkundig op die gebied. Kan mos nie die Bybel in perspektief lees as jy nie daarvoor "geswot" het nie. Nog 'n probleem met Christene vandag is dat hulle weet wat is reg en wat is verkeerd maar nogsteeds sal hulle 'n rede soek om hulself te regverdig. Ons Muslim vriende is ons een voor, hulle het Gaga "geban" om in hulle land op te tree. Sy is 'n slegte invloed vir hul kinders. Ek is jammer dat ek jou onder die indruk gebring het dat ek net die Bybel in Praktyk lees of gebruik, dit is maar een van die "tools" wat ek gebruik. Het jy geweet dat daar in dieselfde tyd toe Jesus Christus op die aarde was 'n Griekse "healing god" met die naam Serapis was wat ook genesings gedoen het en dat die volgelinge van Jesus en Serapis nie kon onderskei tussen hulle "worship" metodes nie. Dit was so eenders dat selfs die volgelinge "confuse" was. So moet asb. nie weer enige vergelykings probeer maak tussen Gaga en die profete van ouds nie net omdat daar uit jou oogpunt lyk of daar moontlike ooreenkomste mag gewees het nie. Jy mag dalk 'n fatale geestelike fout maak. Die profete was immers individue wat God tot in Sy diepste wese geken en gerespekteer het omdat Hy 'n baie unieke persoonlike verhouding met hul gehad het. Ek kan ongelukig nie dieselfde van Gaga se nie. Sy mag dalk 'n profeet wees, 'n satans profeet en julle is te blind om die verskille of ooreenkomste raak te sien en julle weet wat is reg en wat is verkeerd. Of weet julle? Miskien is jy die graad elf leerling wat optree soos 'n argitek, die enigste een wat dit net nog nie weet nie is jyself. Leer God ken deur 'n persoonlike verhouding met Hom op te bou. Daar wag 'n aangename tyd vir jou. Ek is al die laaste sewe jaar besig daarmee. Die eerste boek wat my geestes wenkbroue bietjie gelig het was 'n boek met die naam: "Tien Leuens Oor God" die fynskrif se: En hoe jy dalk al mislei is. Kan nie onthou wie die outeur is nie. Soek dit op die internet.
Theo Engelbrecht said…
Sien die Gaga sage is nou oor en verby. Maar watter nalatenskap het sy agtergelos wat vir ons as mense geestelik opbouend was? Nog 'n boek wat ek tans mee besig is en 'n moet lees is vir enige persoon wat homself 'n christen noem is: "Living With Jesus Today" Outeur: Juan Carlos Ortiz. Die boek is al in 1982 gedruk maar is so van toepassing op wat vandag in die "kerk" gebeur, of veronderstel is om te gebeur.

Popular posts from this blog

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke