Skip to main content

Nòg Afrikaner, nòg Afrikaan.

Ek is nie ‘n Afrikaner nie, nòg ‘n Afrikaan.

Die ander dag help ek ‘n vriend om sy meisie se meubels aan te ry. Half lomp sukkel ons met ‘n wasmasjien uit die vorige bedeling: Groot, swaar en wit. Etlike oomblikke voor my vriend die bleddie ding op my voet neersit, stop ‘n statige swart vrou in ‘n spier wit 4x4 langs ons en vra vir rigting (‘n cream kleur Datsun dam agter haar op...). My vriend se engels is my een vooruit, dus doen hy die praatwerk terwyl ek hom in my binneste vloek oor die wasmasjien en die yskas wat nog op ons wag.

“Then you turn right at the first robot en go straight, no wait you go left at the first and straight past the 7 Eleven, untill you see ‘n tree on your left, then you turn right. OK?”

Vriendelik bedank sy hom en ry daar weg. Skaars het ons die wasmajien weer in ‘n half nelson beet, toe die datsun op ons aandag wag. ‘n Vrou met ‘n maand oue perm en lipstiffie wat pas by haar skril pienk oorbelle kondig oopbek aan:

“Julle kan haar maar enige kak vertel, sy gaan anyway fokol in haar houtkop gestoor kry!” En daar los sy die clutch en die Datsun ruk-ruk weer daar weg.

Wie gee vir haar die reg, vra ek toe my vriend, om te dink dat, net omdat ons wit is en in Kraaifontein meubels aflaai, ons en sy van dieselfde dam se eende is?

Nee, ek is nie ‘n Afrikaner nie. Ek dra nie pure boer t-hemde nie, voel nie neo-patrioties oor my geskiedenis nie, ek is nie melancholies oor die ou dae nie en soms voel ek dat jammer sê nie genoeg is nie.

Ek luister nie na Ge Korsten, Steve of enige van die ander Blou bul treffers nie, al hoe wel ek die Rapport koop en skelm die Huisgenoot lees terwyl ek in Woolworths se ry staan en wag. Ek sing nie “uit die blou van onse hemel” harder as die res van Nikosi Sikeleli nie, eintlik sing ek selde, ek beweeg net my lippe, die note is vir my te hoog.

Ek was nooit ‘n Voortrekker nie en moes maar op my eie uitfigure hoe om ‘n knoop te maak, ‘n vuur te pak en die suider-kruis te vind. Al drie kom nou handig te pas wanneer beurtkrag inskop en ons plaaslike petrolpomp leeg is.

Ek het nie die eposse oor Deon Maas geforward nie en voel nie bedreig deur mense wat anders dink oor God, Afrikaans of Bloedrivier nie.

Tog is ek nie ‘n Afrikaan nie. My vel is te wit en my baard te rooi. Ek is bang vir die revolusie en gatvol vir die crime. Ek stem vir Zille en raak gespanne oor Zuma. Ek is moeg vir kwotas, BEE en vorms wat vra wat die kleur van my vel is. Ek raak nie opgewonde oor ANC-slogans nie en noem niemand my comrade nie. Daar is egter nog ‘n paar straat – en plekname wat maar kan verander, maar om vadersnaam, kies tog net name wat die hele Suid-Afrika kan spel!

Ek verstaan egter nie hoe ‘n naamsverandering en die salarisse van die raadslede groter as die gesamentlike begroting vir instandhouding en armoedeverligting kan wees nie. Daai somme klop nie lekker nie. Ek het ook geen behoefte om iemand te bribe nie, nie die spietkop, die polisie of die ou wat moet sorg dat daar vars water na my huis toe loop nie. Ek betaal genoeg belasting dat daardie goed ‘n gegewe is. Hoekom moet local goverment dan nou dwars wees op hierdie punt?

Nee, ek is nie ‘n Afrikaner nie, maar ook nie ‘n Afrikaan nie.

Ek is eerder daai ding wat Jan Smuts was, ‘n bewoner van die ganse wereld.
Ek is daai ding wat Biko was, ‘n vegter vir vryheid.
Ek is daai ding wat Tutu is, ‘n vredesoeker vir alle mense.
Ek is daai ding wat Mandela is, deel van iets groter as net myself.
Ek is daai ding wat Beyers Naudé was, aan die kant van genade.
Ek is daai ding wat my doktersvriend is, iemand wat die geiser afsit, ‘n vleisie braai en met humor hoop hy maak ‘n verskil.
Ek is daai ding wat my Engelsmanvriend met die bar in Langstraat is, iemand wat kwaad raak wanneer mense kla en kla en maak asof dinge nou baie slegter is as ooit.
Ek is daai ding wat my vriend in London is, op pad terug met nuwe moed en minder skuld.

Ek is die kind wat nog nie dood is nie, nòg by Langa, nòg by Nyanga, nòg by die gange van hospitale waar hulle in kartonbokse lê en wag om goeie mediese sorg.

Ek is skepties dog hoopvol. Passief, dog betrokke. Uitgesproke, dog onseker. Goed gatvol, maar nog lank nie klaar met hierdie plek en haar mense nie.

Ons dam en sy eende het nog nie ‘n naam nie, maar nòg Afrikaner, nòg Afrikaan.

Comments

Reenen said…
Lekker leesstof... Lekker first post.

Voel of jy al jare lank blog...
Anna Weideman said…
Bravo, ons dink en voel ook so

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke