Skip to main content

Bruinoog Politiek

Ek moet bieg, ek het nog nooit ‘n brown eye gegooi nie. Die geleenthede was telke male daar. Soos die keer toe ek en my vriend die enigste WP ondersteuners op Loftus was en Boeta Wessels die Bulle in die stof laat byt het deur drie keer reg voor die pale mis te skop. Daardie dag sou die perfekte dag vir ‘n bruin oog gewees het, maar soos baie ander kere het my moed my begaan en kon ek sedertdien nog nie die broekrek onder die boude kry en die groot oog vir wie ookal wys nie.

Ek onthou my vriend Pietman het tydens ‘n landsdienskamp in die laerskool ‘n groepie meisies van hul onskuld beroof deur hulle te wys waar Dawid se wortels begrawe is, maar ek kon nog nie sulke mannemoed openbaar nie. Dit vra ‘n sekere riskante selfvertroue in die wete dat jy vanoggend goed afgevee het.

‘n Bruin oog is in alle opsigte ‘n middelvinger in die oortreffende trap. Met die wys van die vinger verstaan die ontvanger onmiddelik dat jy nie baie opgewonde is oor sy of haar bestaan nie, maar met ‘n bruinoog se jy soveel meer. Dit is protes in elke sin van die woord. Dis wanneer jy by gebrek aan woorde grof genoeg om jou emosies te verwoord, jou belt losmaak en jou op ‘n ander stel lippe beroep om die praatwerk te doen. Hierdie lippe het geen takt nie. Stille diplomasie is ‘n taal wat hierdie lippe nie kan praat nie. Dit ken immers net een sin: Vlieg in jou moer!


In SA streef ons om ‘n gesonde demokratiese land te wees. ‘n Plek waar elke mens se storie vertel van volledig menswees, maak nie saak wie jy is, waar jy bly of vir wie jy stem nie. Die sukses van hierdie strewe is in dialoog met die hoop dat mense mekaar se stories kan hoor. Dit is immers die enigste manier hoe ons ontdek dat ons toe al die tyd nie so verskillend van mekaar is nie.

Maar nee, dit lyk of ons op die oomblik ‘n ander koers begin inslaan. Met die onlangse laertrek van die ANC jeugliga kon mens duidelik sien watter lippe in die toekoms die praatwerk gaan doen. As mens egter die afgelope tyd die uitsprake van sommige van die ouer garde gehoor het, dan vermoed mens in elk geval dat hierdie lippe al vir ‘n geruime tyd aan die woord is. Dit het darem tot ‘n mindere mate met goeie bedoelings te doen, maar wat een van die comrades egter by die jeug indaba gewys het, is meer as net swak smaak en blink boude. (Om nie eers van ander mannewales wat nie op kamara vasgevang is te praat nie...)

Laat ek dit net duidelik stel, ek dink daar is ‘n plek in elke samelewing vir ‘n brown eye of twee. Agter in die bus met jou boude teen die nooduitgang venster, omdat puburiteit sopas ingeskop het en jy die kortse vuurhoutjie uit die boksie getrek het.

Of op ‘n meer ernstige noot: Vir diktators en tiranne wêreld wyd, wat jou van jou woorde beroof en al wat oorbly is om jou broek af te trek en vir Bob en kie jou beste kant te wys. Ek vermoed dit is dan ook die rede waarom die Skotte rokke dra. In die dae toe die Engelse hulle onderdruk het, was die skuif van broek na rok ‘n logiese evolusie na aanleiding van al die bruin oë wat die Skotte vir die Engelse uit protes gewys het.

Maar tydens ‘n saamtrek van opkomende leiers vermoed ek is ‘n bruinoog nie in belang van die land en sy mense nie.

Loop ek die spulletjie op hol as ek dink dat die dae van flymskerp retoriek en intelektuele kwinkslae wat die ander se opmerkings relativeer tot ‘n ronde nul, vergoed verby is? Of die dae waar oposisie binne en buite partye tog op die ou einde glo in die belang van al die mense en nie net in die salaris wat aan die einde van maand wag nie?

Waarmee ons hier te make het is die de-evolusie van leierskap. Soos telke male in die geskiedenis sien ons dat die derde generasie kies om eerder in die skaduwee van hul voorgangers droog te maak as om in hul lig jou eie krag te ontdek. Die tragedie van die ANC Jeugmannewales is dat SA in alle opsigte ‘n jong demokrasie het wie se toekoms staan en val by hoe goed een generasie die ander een kan opvolg. Hoe lank kan ons nog die golf van Madiba en Tutu ry, voor die brander ons uitspoeg en ons druipstert ons eie golf moet gaan soek?

Miskien sit ek die pot mis. Dalk het ek die storie aan die agterent beet. Maar in die woorde van ‘n vriend destyds op Stellenbosch:

Ek ruik ‘n poefie en dis nie my bolip nie...

Comments

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke