Skip to main content

Ons Taxi het ‘n township vibe!

‘n Paar weke gelede by ‘n troue staan ek en wag vir die kroegman om my oog te vang. Die toesprake is al verby en die bruidspaar het sopas hul rondte op die dansbaan gemaak. Ek staan vasgedruk tussen ‘n ronde vent en sy vriend, hulle praat politiek. My kop gaan heen en weer so asof ek tennis kyk. Die gesprek balanseer op ‘n mespunt soos die twee tot die slotsom kom dat die land goed in sy moer is en dat al wat ‘n reg(s)dekende witmens nog kan doen, is om maar sy tasse te pak.

“‘n Volgende Zimbabwe is op hande, trek mos alles deur, selfs doringdraad.” sê ou dikkes en sluk die laaste bietjie brandewyn weg. Sonder om ‘n oog te knip, gaan hy voort: “As Verwoerd nog aan die stuur was, sou ons darem hierdie land vinnig kon regruk”. Sy vriend beaam met ‘n gewyde stilte.

Ek probeer uit die gesprek bly deur my kleingeld te tel, maar net voor ek my uit die voete kon maak, draai Vaatjie na my en vra:

“Jy met die kuif, nou wat dink jy?” Ek verstik amper aan my Black Label en slaan rooi uit soos laas toe die laerskool musiekjuffrou my voor die hele klas laat sing het. “Mens byt maar vas”, is al stukkie hoop wat ek kon uitkry. Vaatjie kyk my aan met ‘n jou-ore-is-anyway-nog-lekker-nat kyk en hy en sy vriend gaan voort asof ek nie bestaan nie.

Toe dog ek maar ek skryf die volgende:

Hoe ons wittes ookal daarna kyk, ons is nie meer in die driving seat nie. Voorheen het ons die stuurwiel van ‘n spierwit Mercedes met die nommerplaat NP, tussen ons vingers gevoel, nou ry ons in die back seat van ‘n stampvol Nuwe SA taxi. Dis tyd dat ons wakker word en besef dis ‘n baie beter rit as in die boring ou kerk-toe-gaan-kar. Nou kan ons Nandos eet en Coke drink en vir boetie boelie sonder dat pa die kar aftrek en ons elkeen ‘n goeie pakslae gee! Die musiek wat oor die speakers blêr het ‘n township vibe, voorheen het Bach en Bles ons aan die slaap gesus.

Hier in die taxi het Rapport ‘n poniekoerant geword met lekker fotos op die agterblad en die Son gee die pas aan op cutting edge joernalistiek. Weekliks word ons vermaak met die snaakste kwinkslae van die regering se kant af en elke nou en dan sorg Steve en Zuma vir ‘n bietjie meer vleis om die lyf by die braaivleis vure.

Ons rugby laat die wêreld gons en dit terwyl daar binne die raadsale meer vuilspel is as wat James Dalton en Uli Shmidt ooit in ‘n game kon uitdeel. Die kerke loop leeg en die mense soek hul heil by feeste, shows, pieknieks en straatbraaie. Die petrolpryse styg die hoogtes in, maar in SA is brandstof nog steeds goedkoper as in baie ander dele van die wêreld. Eskom jaag k@k aan, maar by kerslig vind talle huwelike weer moed vir die res van die jaar.

Nee wat, die lewe hier in SA is goed genoeg. Ek hoor gereeld by my vriende dat die gras (teen alle verwagtinge!) toe al die tyd tog groener aan ons kant van die draad is. Dit reën glo te veel en is hopeloos te koud. Die mense ken nie van braai nie en die wyn, selfs vir ‘n man wat ponde verdien, net te duur!

Ek en my vrou sit die ander aand by ‘n vriend se strandhuis op Groot Brak. Dis ‘n wonderlike aand. Die rivier mond voor ons voete in die koue seewater, die muskiete vlieg malarialoos rondom ons enkels, die vleisie is op die kole en die botteltjie rooi halfpad na sy einde. Ons gesels oor almal wat ons ken wat op die oomblik anderkant die waters is. Ons droom oor al die mooi plekke wat ons graag wil sien. Ja, ons wil ook nog ons tasse pak en ons studiesklud (deesdae ook kar en kredietkaart!) afbetaal, maar tot tyd en wyl en ook daarna, sal SA ons agterplaas wees, die gunsteling hoekie waarin al ons beste kruie, groente en ander mooigoed groei.

Ons wil deel wees van die generasie heelmakers wat nie onderskei tussen kleur en taal nie. Jonk en oud, wat die sondes van die vaders wat lank nie meer leef nie en die skandes van die vaders en moeders wat tans regeer, kon afskud en saam ‘n nuwe storie skryf. Ons wil die back seat van die taxi ons eie maak. Ons wil by die robot uit die venster skreeu: “Hiers nog baie plek!” Ons wil opskuif en plek maak en ons Nandos met Mama Afrika deel. Ons wil die beat vang en leer om soos die locals te jive. Ons wil toi-toi teen korrupte regerings, teen agteraf agendas en besluite wat mense net nog meer van mekaar vervreem. Ons wil die muwwerigheid van ons konsistorie kultuur afskud en God tussen die kleure en die geure van alle Suid-Afrikaners vind. Ons wil in die harte van mense brûe en huise en kragopwekkers bou wat sal hoop (en lig!) gee vir hulle saam met wie ons in hierdie Taxi ry.

Vaatjie, mag jy en jou vriend se Mercedes land uit loop, maar indien die enjin op pak (soos ek vermoed dit gaan), hier is nog ‘n oop sitplek langs die Rastafarian en sy goose, maar julle sal op mekaar se skote moet sit…

Comments

Reenen said…
Jy is wakker op die vreemdste tye...

Anyway, dis lekker om goeie nuus te lees.

:-)
Unknown said…
hey reenen, dankie dat jy elke dan en wan die goed lees. dit beteken nogals vir my baie.
Unknown said…
Ek's oortuig Suid-Afrika sou 'n baie gesonder plek gewees het as méér mense met só 'n visie geseën sou gewees het.
Dankie vir dié verfrissende gedagtes.
Denver

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke