Skip to main content

Vreesloos

My ma het op my ouma afgekom waar sy, soos altyd, agter in haar groentetuintjie tussen suurlemoene en rankbootjies was. Sy het met haar gesig teen die grond gele, die lewe uit haar lyf gewurg. Haar huisie wat sy elke dag kompulsief skoon gemaak het, was vuil en woes agtergelaat. Haar kaste deurmekaar gekrap en haar beregoed het orals op die netjies opgemaakte bed gele. In die kombuis op die vloer het ‘n half lee koekieblik oopbek gele en gaap, die krummels die wereld vol.

Wie vermoor ‘n ouma en steel dan ‘n paar koekies? Hy kon gevra het? Hy kon gebedel het? Hy sou waarskynlik die hele blik gekry het.

Sy het nie iewers langs ‘n snelweg naby die stad gebly nie, ook nie duskant ‘n tronk of ‘n plakkerskamp nie. Sy was nie laatnag op ‘n trein beroof nie. Sy was bloot besig om haar laaste jare van ‘n vol lewe tussen granadellas, pronk ertjies en stink afrikanertjies uit te leef.

Haar storie is ongelukkig nie uniek nie. Soos vele ander Suid-Afrikaners het my ouma deel geraak van ‘n wrede statistiek. Dit is hierdie maand 5 jaar sedert die dood my ouma aan die keel beetgekry het. Ek lees dat 97 000 mense die afgelope 5 jaar in SA vermoor is. Dit is 11000 meer mense as die aantal sterftes van burgelikes sedert George Bush cowboys en crooks in Irak begin speel het. Die enigste verskil is die intensiteit per vierkante meter en die feit dat die res van die wêreld bewus is dat ‘n oorlog in Irak woed. Maar hier aan die voet van Afrika het meer families by oop grafte gestaan as gevolg van geweld as daar waar Bush en kie hulle bomme op mense laat reën.

Wie gaan namens ons betoog? Teen wie gaan die VN hul uitspreek? Wie gaan die gemors kom skoonmaak? Wie gaan die skietstilstand onderhandel in hierdie onsigbare oorlog wat Suid-Afrikaners in die gesig staar?

Wie gaan pa staan vir die bloed?

Die wit geraamtes van Apartheid?
Die swart onbevoegdheid van die huidige regering?
Die bruin gemors van bendes op die vlaktes?

Ek twyfel sterk.

Dalk eerder ons. Ek en jy en wie ookal nog vir hulself ‘n toekoms toebid in hierdie land. Ons, op wie dit eintlik nie neerkom nie, op wie die verantwoordelikheid nie rus nie, op wie se skouers die skuld nie le nie, sal die gemors moet skoonmaak en die vuilgoed by die agterdeur uitvee.

Gewone mense, wat daagliks in treine, taxis, kantore, skole, hospitale, huise, kombuise en rondom braaivleisvure vergader, gaan die helde in hierdie storie wees. Mense wat wonder bo wonder uit hul alledaagse depressie beweeg en vrylik hul vrese vryspreek.

Want dit is op die ou einde vrees wat ons van mekaar verwyder totdat die gapings wat geweld veroorsaak al hoe groter en leliker tussen ons kom le. Dit is vrees wat maak dat ek en jy stereotipes om mekaar se nekke hang. Dit is vrees wat maak dat jy wurg in plaas vra, dat jy slaan in plaas van soen, dat jy vloek in plaas van vergewe, dat jy haat in plaas van lief het en dat jy vlug in plaas van hoop.

Baie jare gelede het iemand geskryf dat waar liefde in die harte van mense leef het vrees geen vashou plek nie. Dit is dan wanneer mense, te midde van skote wat klap en vuiste wat wangbene kraak, dit regkry om die hoë mure af te breek, die stereotipes nek om te draai en die eerste riskante tree na mekaar se vreemde wêrelde te gee.

Ek kan dit al sien:

‘n Jong ouditeur vat die taxi werk toe. Hy het sy somme gemaak en besef dit is goedkoper en vinniger is, as om in sy nuwe BMW elke dag in die verkeer te sit. Langs hom sit ‘n mama en smul aan ‘n koue hoender boudjie. Die taxi driver het sy seatbelt aan en trap rem sodat ‘n ou Chinese tannie in ‘n klein Toyota Tazz voor hom in die verkeer kan indruk. Hy glimlag breed en die goud tussen sy tande verklap dat laasjaar ‘n goeie jaar vir taxi drivers was. Die jong ouditeur, ‘n boorling uit die Boland, praat Xhosa met die mama, hy gee haar finansiele raad en neem haar kontak besonderhede. Hy belowe hy kan haar seun help met al sy slegte skuld. Die mama is baie dankbaar, want sy worry tog so oor haar laaitie wat so koop en koop asof geld aan bome groei. Die driver kyk in sy blinde kol, sit sy flikker aan en beplan om van baan te verander. In sy tru spieeltjie sien hy hoe ‘n Indiër man vir hom wys hy kan maar voor hom indruk. Terwyl die taxi driver van baan verander speel RSG kliphard oor die radio. David Kramer sing van die Royal Hotel en almal in die taxi sing saam.

Die mama draai na die ouditeur en sê:

Eish, maar julle witmense laaik darem hierdie klong met die rooi skoene. Guess what, ons laaik hom ôk!

Comments

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke