Skip to main content

'n Deksels moeilike keuse

‘n Tannie op my tuisdorp koop net konfytpotjies met swart dekseltjies op. Ek weet dit, want my ma het die tuisnywerheid en sy het my vertel. Die goue dekseltjies pas glo nie by haar kombuis nie. Dit is nogals ‘n frustrasie, want die res van die dorp is min gespin oor die kleur van konfytdekseltjies, dus moet my ma ter wille van die tannie se kombuis elke maand net een of twee swart dekseltjies aanskaf. Sy bêre hulle tussen ‘n klomp leë botterbakkies en ander opgaargoed, sodat wanneer die tannie bel om te hoor of sy nog van daai lekker konfyt het, dan vervang my ma gou twee potjies se deksels en vertel vir die tannie dat sy vinnig moet maak want daar is nog net twee swart potjies oor!

Nodeloos om kwyt te raak, maar tog voel ek moet dit noem: “Tannie, die jêm proe dieselfde, maak nie saak wat die kleur van die deksel is nie.”

Dit is immers voor-die-hand-liggend, maar tog moet ek stellig erken, daar is ‘n verskil. Mens noem hierdie verskil, Keuse. Die vryheid om te kan kies tussen die kleur van ‘n konfytpotjie sodat dit oulik op jou kombuisrak lyk, dit is die verskil. Daagliks oefen ons hierdie keuses uit. Miskien nie so eksentriek soos die tannie van my almamater nie, maar nie te min net so vry.Ons kies tussen Checkers en Spar en ry ‘n paar verkeersligte verder, want Woolies se melk en eiers is meer organies as die naaste winkel om die hoek. Ek hou van Windhoek en Black Label, my buurman drink net Castle. My vrou verkies Chardonnay (goed gehout), ek hou van Shiraz, soos Boela op Groot Constantia dit maak.

Wat geloofsdinge aanbetref, hou ek meer van Jesus as van Buddha, gesprekke as van preke en verkies ek my God vol liefde en deernis, eerder as ‘n beneukte ou omie iewers hoog op in die hemel. Ek hou dus ook besonders baie van mense wat saam met my soek na hierdie deernisvolle God.

Maar soos alle muntstukke het hierdie een welliswaar ook ‘n keersy...

‘n Tyd terug hoor ek van ‘n spreker by Christelike byeenkoms wat vurig aan die woord was en vol persoonlike stories oor hoe die Here haar help om die beste keuses te maak. Sy vertel toe dat die Here vir haar gevra het om haar splinternuwe swart BMW X5 te gaan omruil. Nou op hierdie punt klink die storie nog heel evangelies. Die Here het immers al vir baie mense gesê om van hul duur besittings ontslae te raak, maar hierdie keer het die Here ‘n ander plan gehad. Sy moes haar swart BMW gaan omruil, nie vir ‘n tweedehandse Jetta met baie myle en ‘n lae prys nie, ook nie vir ‘n meer omgewingsvriendelike voertuig wat help teen global warming nie. Nee allesbehalwe.

Haar swart BMW moet sy gaan omruil vir ‘n, wag hier kom dit, sy moes dit gaan omruil vir ‘n...

WITTE!

Kan jy nou meer, die Here is toe al die tyd ‘n fashion fundi!

Dit is dan dat ek voel dat ons ‘n “bietjie” perspektief verloor, of dalk eerder kies om perspektief nooit deel van ons lewens te maak nie, want sê nou maar net ons kom agter dat dit dalk oorbodig is om te up grade na iets beter, vinniger, mooier, sterker, groter en jonger nie.Op hierdie punt maak Covey vir my baie sin wanneer hy sê dat hierdie generasie (hy verwys waarskynlik nie noodwendig na ouderdom nie) gekenmerk word aan die magdom keuses tot ons beskikking, maar dat ons in die toekoms net onthou gaan word vir die keuses wat ons op die ou einde maak.

Terug na die tannie en die konfyt. My ma het my die storie vertel net nadat ek vir ‘n week in die Kaapse middestad op straat gebly het. Dit was een van daardie ondeurdagte studente dinge in ‘n poging om iets van die harde werklikheid van baie Suid-Afrikaners aan my eie lyf te voel.

Met R100 in my gatsak, ‘n slaapsak, ’n ou selfoon en ‘n tandeborsel het ‘n goeie vriend my die Sondagaand in Kloofstraat afgelaai. Ek onthou hoe dat, soos ek deur die strate gestap het, die dwaasheid van my besluit al hoe meer ingesink het. Dit het bietjies-bietjies begin reën en my ontkenning het gou verdwyn. Armoede is niemand se bedmaat nie.

Die storie van die konfytpotjie is op die regte tyd in my lewe vertel, want die week op straat het my net een ding gewys: As jy alles verloor het, as jy arm is, as almal rondom jou in vyfde rat jaag, maar jou trollie se wiele buckel, is die vryheid om te kan kies nie tot jou beskikking nie.Dit is in die lig van die gebrek aan bemagtigende vryheid van amper die meerderheid mense in Suid-Afrika dat Covey se opmerking ‘n nuwe betekenis kry. Dalk is die beste keuses wat ons kan uitoefen (en waarvoor ons in die toekoms onthou gaan word) nie die keuses rakende die kleure van ons konfytpotjies se dekselstjies nie, maar eerder die keuses wat help dat weerlose mense (en dinge) in meer vryheid kan leef.

Helaas is hierdie keuses deksels moeilik.

Pun intended...

Comments

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke