Skip to main content

Smile and say cheese!

Ek doen baie troues, dit kom met die job. Hierdie jaar het ek al reeds 14 troues agter die blad (uitsluitend die klomp waar ek net ‘n gas was). Vir my is die vreemdste karakter by ‘n troue nie die skoonma nie, maar eerder die fotograaf. Jy sien hom al ‘n myl aankom, kamara op elke heup, sonbrille op sy kop (selfs in die kerk!), ‘n ou Cape Union Mart baadjie met baie sakke en ‘n houding wat vertel dat die dag eintlik daaroor gaan om die beste en mooiste fotoalbum van jou troue te hê. Die beste fotograwe kry dit darem reg om subtiel die partytjie oor te neem, maar die meeste van die tyd voel dit soos die stert wat die hond swaai soos die kamara manies flits en die bruidspaar weer en weer die soen moet “pose” voordat die seremomie kan verder gaan.

Wanneer troues meer oor die fotoalbum gaan as oor die wonderlike partytjie tussen ou en nuwe vriende, dan laat dit my altyd dink aan my grootste renons met godsdiens. Dit het deur die eeue die kuns bemeester om die heilige, alledaagse, beeldskone, asemrowende, uitdagende en aangrypende oomblikke te mis, want dit is te besig om deur die fotoalbum van die verlede te blaai.

Sondag na Sondag, Sabbat na Sabbat, heilige dag na heilige dag word die mooi en betekenisvolle fotos van oomblikke tussen God(e) en mens met verwondering bekyk, besing, beprys en bebid. Moses op Sinai, Elisa op pad hemel toe in ‘n wa vol vlamme, Mohammed en die berg, Buddha op sy boude en ‘n hele spul ander heilige koeie uit al die ou kulture.

Hierin lê my renons egter nie.

Dit lê wel in ‘n teologie wat glo dat hierdie antieke fotos die eerstes en die laastes is wat die mensdom ooit sal hê wanneer dit by die helige en goddelike kom. As ons so na die lewe kyk is die enigste waarheid wat ons het vasgevang in ‘n geloofsbelydenis 350 jaar gelede, of in ‘n brief tussen Paulus en Timoteus nog verder terug, of in die woorde van Mohammed iewers tussen in. En so word mense en generasies van die wonderlike Waarheid wat daagliks tussen hulle leef en beweeg vervreem, want gosdiens herinner ons gedurig dat die eerste bekeerdes en vroeë gelowiges en die oudste Jode en eerste Moslems baie nader aan God was as wat ons ooit kan wees. Die beste wat ons in hierdie geval dan kan doen is om ‘n paar afdrukke in die hande te kry en dit dan in die plek van ons eie fotos te plak met die hoop dat die god in die foto ook ons God sal wees.

‘n Mens noem dit copy and paste.

Met ander woorde, wanneer ons dan in ons kerke, tempels, tente en sinagoges bymekaar kom dateer die taal wat ons praat, die stories wat ons vertel en die dinge waarop ons hoop dikwels uit ‘n era wat waarskynlik nog nooit bestaan het nie. Kyk maar net na die binnekante van die meeste kerke in die suburbs, dit lyk soos iets uit ‘n retro seventies brady bunch broeder bond gospel movie met matte wat op geen hedendaagse kleurkaart gevind kan word nie, die banke is almal in die vloer vasgeskroef en die preekstoel lyk soos ‘n fort van waar die dominees sy waarhede op die gemeente kan afvuur.

Sulke ruimtes van aanbidding is amper soos daai vreemde fotos van die bruid in die spieël of die fotos waar jy net haar bolla kan sien! Elke keer as ek daarna kyk wonder ek wat ‘n mens besiel om so ‘n foto van jouself te laat neem? Wil mens regtig daai kant van jou lyf op ‘n A3 size foto bo jou badkamer toilet sien hang?

Of soos ‘n huis waar die troufotos orals teen die mure hang, maar dit is vyf jaar sedert die troue en geen ander oomblik in die tussen tyd kon kwalifiseer vir ‘n fotoraam of selfs ‘n plekkie op die yskas nie. Elke keer wanneer gaste kom kuier, word die troualbum (wat in die tussentyd die familiebybel vervang het...) uitgehaal en die res van aand word daar net oor een ding gepraat: Hoe pragtig mammie gelyk het op haar spesiale dag.

Dis asof die hele huwelik by die seremonie in die mooi klipkerkie begin het en ‘n uur of wat later op die deftige wynplaas gestop het. Wat het in die tussentyd gebeur? Wat van daardie luilekker vakansie op Tietiesbaai? Of die keer toe hulle die Spur-roetine gebreek het en iewers in die stad by ‘n vreemde plekkie gaan uiteet het? Dit is in sulke huise, soos in sulke kerke wat die lewe in die verlede vasgeverf is en geen oomblik in die hede ooit goed, mooi of heilig genoeg sal wees nie.

Die ironie (en die genade!) is dat die groot fotoalbum van God nog ver van klaar is en die ontdekking wat ‘n mens se lewe sal verander gebeur wanneer jy snap dat dit toe al die tyd nie ons is wat angstig die oomblikke saam met God moet probeer vasvang nie, maar dat dit eerder God is wat met kamara in die hand in ons rigting kyk en sê:

“Smile and say cheese, hierdie een gaan fantasties lyk langs die foto van Ghandi!”

Comments

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke