Skip to main content

Geagte broer die besoekende predikant

Ek het Sondag vir die eerste keer in ʼn lang tyd uit die kerk geloop. Tien minute in jou boodskap in toe kon ek dit nie meer vat nie. Sedert die viniel van my eie godsdienstigheid ʼn lelike krapmerk gekry het, is my bulshit detector sky high en met alle respekte kwytgeraak, wat jy Sondag van die kansel aan goedbedoelde gelowiges probeer verkwansel het, het my radar die hoogtes in laat skiet.

Kom ek val sommer met die klagte(s) by die kerkdeur in.

Waar het jy geleer om so hoogdrawend te praat? Dink jy die boodskap gaan meer roerend en meer geloofwaardig wees as jy letterlik tussen elke woord van toonhoogte verander en dan aan die einde van elke sin soos ‘n kapokhaan agter die kansel staan en hop? Dink jy die mense wat voor jou gesit het is dom? Hardhorend? Of op die randjie van die hel? Jy hoef nie op my te geskree het nie, jy kon net vir die klankman gevra het om jou mikrofoon ʼn bietjie op te draai, dan sou selfs die ouma agter in die hoek jou kon hoor.

Broer, hoe lankal het geweet dat jy Sondag sou moes preek? ʼn Week? ʼn Maand? So hoekom het jy die helfde van jou preek vir ons afgelees? Daar was sulke oomblikke waar jy van die papier voor jou vergeet het en toe soos ʼn doodgewone mens met ons gepraat het, daardie een sin of twee is al wat ek van jou boodskap onthou. As ons geweet het dat jy in plaas van om oor die goeie nuus te gesels, eerder ʼn voorlesing gaan doen, sou ons ʼn ander reeling kon tref. Jy sou byvoorbeeld jou hele preek plus voetnotas na Koekie by die kerkkantoor kon epos. Koekie sou dit kan na die res van ons kon aanstuur sodat ons dit sommer self kan lees. Dan kon jy Sondag nog lekker agter mamma se rug gelê het en luister hoe die voeltjies buite jou pastorie kwetter en die res van ons kon iewers langs ʼn dam of ʼn ding gaan piekniek hou het. Hierdie voorstel is maar een van die vele wen-wen situasies waaraan ek so uit my vuis kan dink.

Maar ek vermoed jy sou nie na hierdie voorstel iewers tussen Woensdag en Sondag geluister het nie, want soos ek uit die eerste deel van punt twee uit jou boodskap kon aflei sal ons wat so rond tas in die donker nooit by die antwoord uitkom mits jy nie namens God vir ons wys dat jy ʼn kykie van die memorandum gehad het nie. Terwyl die sogenaamde wêreld by sielkundiges, dokters, wetenskaplikes en ander lewensgurus rigtingwysers soek, het jy toe al die tyd al die clues.

Vergewe my as ek sê dat jou weergawe van die waarheid het vir my meer soos ‘n arrogante houvas op die waarheid geklink. Jou antwoorde het my vrae net meer gekompliseer en helaas het jou clues my net meer clueless agtergelaat.

Ek het Sondag so gesoek vir ʼn “ek weet nie” of ʼn “ek kan dalk verkeerd wees”. Selfs ʼn “hierdie is maar net my beskeie opinie” sou al klaar ʼn groot verskil gemaak het, maar nee, jy praat mos namens die Groot Waarheid, dus is daar nie ruimte vir twyfelagtighede nie.

Is jy bewus van al die subtiele opmerkings wat daarop dui dat jy diep in jou hart voel dat die werk van ʼn predikant eintlik maar die hoogste en heiligste beroep hier op aarde is. Nou wonder jy seker hoekom niemand anders dit al vir jou gesê het nie. Wel, dalk is hulle al so lam gepreek deur hierdie middeleeuse teologiese twak dat niemand eers daaraan dink dat ‘n ander moontlikheid kan bestaan nie.

En nou my laaste beswaar geagte broer: Is die wêreld regtig so sonder God soos wat jy dit stel?
Indien wel, wat dan van die verpleegster wat sonder dat sy dit weet, die koninkryk van God laat deurskemer in ʼn oorvol staatshospitaal, deur bloot net haar werk getrou te doen. Of die entrepeneur wat vol waagmoed ʼn nuwe besigheidsavontuur aanpak en in die proses nog werk skep. Of die pa van drie wat kies om eerder aan sy huwelik te werk, as om weereens saam met die manne tot laat te kuier. Of die onderwyser wat ten spyte van kinders wat glad nie omgee nie, elke dag by die skool opdaag met net ʼn bietjie hoop om in een kind se lewe ʼn verskil te maak. Of die groepie bejaardes wat een keer in ʼn week saam droom oor alles wat hulle nog graag wil aanpak, pille en al. Of die ma wat weet waar kinders is, wie hulle vriende is en nie omgee, om watter tyd ookal vandag, hulle weer te kry waar sy hulle afgelaai het nie. Of die ouers wat kies om hul kinders vlerke te gee in plaas van kritiek en druk om te presteer. Of die verkeersbeampte wat nie omgekoop kan word nie. Of die staatsamptenaar wat pligsgetrou haar datums nakom. Of die kerkraad wat besluit om in plaas van ʼn vergadering vir ‘n verandering soos vriende te kuier. Of die kerk waar sogenaamde sondaars hoor dat hulle lankal reeds deel het aan die Groot Genade.

Besef jy liewe broer dat hierdie groep mense geduldig na jou geluister het, terwyl jy tot lank na 11 hulle op hulle sondes uitgewys het...

Groete

Koos Clueless

Comments

... said…
Besef nou maar net weereens hoe baie ons jou preke/chats mis.
Reenen said…
Sjoe, ek is skielik bly ek is aan die kant van die wereld, en jy moet daardie kant trotseer...

Ek hoop nie dit was een van jou nuwe kolegas nie... Ek skud maar net my kop.

God wil soveel meer vir ons he. (Glo my ek weet nie) :-D
Unknown said…
Hey, thanx vir die comments. Jis ons mis die Kaap baie. Nee, Reenen dit was regtig 'n besoekende predikant. My kolegas is great. Jua, stunning foto! Is dit Gabby wat daar in die hoekie loer?
... said…
Dit is ja.. sy het gister begin kruip.. so die lewe gaan nou besig raak..:-)
WADEK said…
En toe ek by die huis kom hoor ek oupa Bill(80) het jou "goeie" artikel vir ons gehou. Namens hom- "halleluja!" Makes you think ne!
Anonymous said…
ag shame ou koos klink soos 'n beuselagtige oom met 'n onbeduidende mening wat homself net besig hou met nietighede. Weet dat jy ook glo dat sy (en ander se) opinie van weinige belang is in 'n groter konteks...

Anyway raai raai rippa wie ek is! haha
Het een van jou artikels in Die By gelees en gehou van wat jy se - so laat ek hierdie blog begin dophou ... :)

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke