Skip to main content

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.


Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien. 

Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het.

Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke na aanvaarding wat hulle sedertdien (veral in die kerk) ervaar het, lê nog baie vlak. My storie met hulle het vlamgevat ’n paar jaar gelede by ’n kerkding. Ek was die dominee en hulle die skeptiese, wantrouige soekers wat die kerk weer ’n kans wou gee. Ons eerste ontmoetings by die kerk was nie goed nie. Interessant genoeg, toe ek hulle ’n paar maande voor die “kerkding” leerken het, elders in ’n vriend se woonkamer, was die emosies anders, goed, heilsaam. Maar by die kerk, waar patriargie in ons semantiek koning kraai, was daar net te veel bagasie. Ook te veel aannames tussen die drie van ons. 

Oor mekaar.
Oor die kerk. 
Oor God.



Ek kan nie onthou wie het voorgestel dat ons eerder nie meer met mekaar oor God praat nie, want dit eindig die heeltyd in trane. Hulle het halfpad in die kerkding laat weet dat hulle nie meer gaan kom nie. Hulle kry net te seer.

Die kerkding het klaargemaak, maar hulle het by my bly spook. Dominees in die kerk kry nie baie kans om verhoudings binne die kerk te bou met mense wat eintlik buite die kerk leef nie. Die meeste van my godgesprekke is met mense wat soos ek dink en bid. Die voorval met hierdie twee vroue en hul deksels moeilike vrae oor die kerk het vir my soos my eie persoonlike bedieningsmislukking gevoel. Opnuut is ek herinner dat die kerk waarvan ek deel is, ’n deksels ingewikkelde gemeenskap is wat oor die vermoe beskik om mense baie seer te maak. 

So het ek kontak verloor met hulle twee. Een keer vinnig raakgeloop by ’n “Mugg & Bean On the Go”. Ongemaklik met my koffie in die hand praatjies gemaak. Gehoor deur die wingerdboorde dat hulle nou getroud is. Ek amper te hard probeer om my goedkeuring te wys, gehoop hulle sal sien dat ons dominees nie almal dieselfde is. Nie alle kerkmense dink om gay te wees is verkeerd nie. Dat ek en hulle mekaar eintlik verkeerd verstaan het destyds. Maar wat kan ’n mens nou doen aan ’n gebreekte verhouding in Mugg & Bean? Hoeveel koppies koffie sou ons daai oggend saam moes drink om in vrede daar weg te stap?

En toe kry ek ’n oproep. ’n Jaar later. ’n “Head’s-up” een, deur ’n gesamentlike vriend.

“Hoe voel jy oor die doop van ’n baba van twee gay ouers?” 

“Soos ek voel oor die doop van ’n baba van straight ouers. By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.”

“Goed so, want hulle gaan jou bel.”

En hulle het. ’n Paar dae later en ek was hierdie keer slag gereed vir ‘n tweede kans op ’n vriendskap sonder die bagasie van die amp. 

Nog ’n paar dae later drink ek koffie en eet nutty crust koekies in hul woonkamer met hul pragtige babadogter, Helen op my skoot. Ons huil snot en trane. Al drie ewe apologeties oor daai “kerkding”. Hoopvol dat ons eintlik op ’n soortgelyke lewensreis is, al hoe wel ons dit elkeen anders verwoord.

Ek is daar weg met ’n nuwe taak op hande: Goedkeuring by die kerkraad om vir Helen te doop. Al drie ewe onseker oor hoe die gemeente hulle as ouers gaan ontvang. Angstig dat die doop van hulle dogter in ’n sirkus gaan verander. Dit klink vreemd en argaies om dit nou hier te skryf. Dit klink so jare tagtigs om te se dat ’n groepie ooms en tannies ’n besluit moet neem oor ’n ander mens se storie met God. Tog het ons gevoel dat dit ’n Rubikon oomblik kan wees vir ’n gemeente wanneer die kerkraad ’n besluit neem vir of teen die doop van ’n kind van gay-ouers.

Bygesê, my gevoel oor die kritiese stemme in ’n gemeenskap is dat dit ’n verkeerde aanname is om te dink dat dit die ou mense is wat oor so iets sal protesteer. My ervaring is immers die teendeel, oupas en oumas is meer geneig om vir die belangrike, lewensdinge genade te hê. Hulle sal dalk kla oor die kitaar en die dromme, maar van die eerstes wees om ’n kind uit ’n anderse huwelik met oop harte te verwelkom. Die uitdaging was nie om die gryskoppe te oortuig nie, maar eerder die selfversekerdes van my eie ouderdom en jonger. Ons, met ons sterk opinies, wat nie lank genoeg die donker kante van die lewe in die oë gekyk het nie, ons wat nog nie genoeg misluk het nie, ons wat nog nie self moes smeek vir aanvaarding en genade nie. Dit is gewoonlik vanuit ondeurleefde oortuigings wat vooroordele spruit.

Om terug te kom na my openingsgedagte in hierdie pennevrug; ons het wragtag al ’n ver pad gestap sedert daardie kerkskeuring in Tulbach weens die doop van ’n kind van ’n tienermeisie. Die kerkraad van my gemeente (die meeste van ons, as jy ons langs die braaivleisvure op Saterdae sou raakloop, lyk soos die gemiddelde Afrikaner wat die meeste van die tyd nee wil se vir alles wat anders is) het nadat ek die aansoekbrief voorgelees, onomwonde ja gesê vir die doop van my twee vriendinne se dogter. Een oom het selfs gevra dat ons op dit op rekord stel dat ons gemeente nooit ooit in die toekoms sal diskrimineer teenoor enige persoon as dit by die sakramente van die kerk kom nie (ons mag dalk op ander plekke teen jou diskrimineer, maar ten minste nie meer met die doop en die nagmaal nie…)

En so doop ons toe vir Helen, saam met 7 ander babas. Oumas en selfs oupas met oe vol trane. Die hele lot aangeraak deur die genadesimboliek van die doop. Ek, die liturg al strompelend deur die manlike metafore van God. Hier en daar probeer ek oor God as 'n moeder praat, 'n vrou wat versorg, wat ons was met water soos 'n ma haar kind. 

Onse Moeder - 'n gebed

Maandag maak ek gespanne my eposse oop, so seker dat daar talle eposse gaan wees met die tipiese vrae oor die kerk en gays. En tot my verrassing, nie ’n boe of ’n baa van die gemeente se kant af nie (behalwe vir een epos van ’n besorgde lidmaat, maar selfs haar vrae was in goeie smaak, sonder die gewone oordeelswoorde.)

Ek skryf hierdie woorde nie ligtelik nie, ek is goed bewus dat ons nog nie eens halfpad is op die reis na ’n meer liefdevolle, genadige kerk nie. Maar vandag wil ek graag noem, dat al is sy die meeste van die tyd ’n beneukte ou tannie, is die kerk my Moeder en het sy eintlik ’n baie sagte hart.

En miskien, net miskien, het die geboorte van ’n kind, soos destyds, vir ons die teken van versoening gebring.


Comments

Anonymous said…
Dit bly vir my interessant dat "mense", "gemeentes" en "die Kerk" altyd die beskuldigings van liefdeloosheid jeens gays kry. Ek sien noooit by hierdie uisltdeel van beskuldigings dat God óók liefdeloos genoem word nie.

As God se Woord iets sonde noem, waarom dan nie die moed hê om te sê God maak 'n liefdelose beskuldiging teen gays nie?

"Want só lief het God die wêreld gehad...." noop ons ook om lief te hê met woord en daad, maar as God se Woord iets verkeerd noem, noop dit ons om dit óók verkeerd te noem.

Om iets wat God sonde noem, óók sonde te noem is nie per sé liefdeloos nie. Dit is die optrede wat daarmee gepaard gaan. Dit is juis liefdeloos om die sondaar wat teen God se bevele/riglyne optree, gerus te stel en hom/haar te verseker dat daar niks verkeerd is nie. Inteendeel, gays behoort (met liefde!) daarop gewys te word hoe God oor dinge oordeel, en hom/haar te help, te bemoedig en te ondersteun om dít wat God se Woord verkeerd noem, te laat staan en daarvan af te sien.

Ons behoort die moed te hê om skaamteloos te sê wat God oor dinge sê, en mekaar te help om in lyn daarmee op te tree en só te lewe. Kan iemand verduidelik waarom dít liefdloos sou wees?
Ds.Gideon Aggenbag.
Unknown said…
Gideon, hier volg 'n kort lys van dinge wat God se Woord as sonde beskryf:

1. Leen en uitleen van geld met rente
2. Saamgestelde gesinne
3. Om bang te wees
4. Om kreef te eet
5. Rykdom
6. Om kwaad te wees met jou broer nie
7. Om nie stout kinders pakslae te gee nie
8. Vroue wat juwele dra om mooi te lyk
9. Seekos "platters"
10. Vroue wat duur klere dra
11. Om te kla
12. Egskeiding
13. Alkohol
14. Te veel te eet
15. Skinder

Hoe lyk jou lewe in lyn met hierdie dinge?
Anonymous said…
Fourie, mens se lewe is sondig voor God en nog 'n langer lys as joune is van toepassing si dit vergelyk vir met 'n Heilige God. Maar daai Heilige God sak nie Sy standaarde en se ag siestog, kom ons sien maar die moordenaar oor nie. Die Woord se daai Heilige God is regverdig en sal elke swart kolletjie, hoe klein ook al, straf met die hel, aangesien Sy woonplek GEEN sonde verdra of gaan toelaat nie. So jy kan jou lysie nog langer maak, dit gaan korrek wees. Dit gaan egter niks verander of jy my of wie ook al skuldig kry nie, want jy is reg, ek, jy en almal op die aarde is skuldig en sal verteer word as ons net die Skepper van die heelal se heerlikheid vir 'n sekonde aanskou. So wat beteken jou lysie teen my, jouself en almal dan nou. Net mooi niks want jy, ek en almal gaan weens ons sonde verteer word. Die eintlike vraag waaroor jy en almal moet worry is: Hoe gaan ek die Heilige God met my eie lewe ontmoet? Want Hy stel die standaarde, nie ons wat soos miere hieronder sit en filosofeer asof ons Sy baas is nie. As Jesus Christus terug kom om die aarde te oordeel, kan jou lysie maar nog langer wees, dit gaan geen verskil maak nie. Ons gaan skuldig wees. Van die gay, tot die kerkman en tot die sosiale werker. Jy het Jesus nodig om jou te beskerm teen die komende oordeel van God wat jy, ek en almal nie gaan vryspring nie. Die enigste manier om daai oordeel vry te spring is deur die genade van God in Jesus Christus. Die Bybel leer ons moet bekeer weg van ons sonde af na Jesus Christus toe. Ons moet HARDLOOP uit die wêreld uit en voor Jesus se kruis neerval en ons sonde bely met berou en herken dat jou lysie waar is en dat mits Hy in Jesus Christus ons vergewe, ons dit nie gaan maak nie. Ons moet dan van daai punt af op Jesus se genade bly staatmaak om ons voor die Heilige God te regverdig en te beskerm. Jesus sit aan die regterhand van God en tree op as middelaar en pleit vir die wie wel so na Hom gekom het. Op die einde van die dag, is jou lysie waar en ter veroordeling van my, jou en almal, mits ons by Jesus uitgekom het.

Jaco
Wynand said…
Hier is twee GROOT hartsere op hierdie blad.

1) As God sê iets is sonde is dit omdat dit menselewens skade doen. Paulus sê: Die liefde doen die naaste geen kwaad nie, daarom is die liefde die vervulling van die wet. As God sê iets is sonde doen dit dus die naaste kwaad. As jy beweer iets wat God sonde noem is nie sonde nie maak jy God tot leuenaar (Dit is die laster teen die Heilige Gees, volgens veskeie slim teoloe). As jy beweer dat jy iets moet doen wat God tot sonde verklaar het om geluk en vervulling te vind beweer jy God is sleg, want dat weerhou Sy wet jou van geluk en vervulling.

En hier is die ongelooflike hartseer: Dat hierdie dominie nie die oortuiging of die liefde gehad het om mense uit hulle sonde die pad na geluk en vervulling te wys nie. My hart huil vir elke gay paartjie vir wie daar vertel word dat God lieg of dat God boos is, soos wat hierdie Ds in beginsel gedoen het.

2) Die tweede groot hartseer is Fourie Rossouw, wat nie genade verstaan nie. Fourie, deur 'n lys van sondes wat ons almal gepleeg het te lys, beteken nie dat sonde skielik ok is nie. Dit is die tipiese denkfout wat sê almal doen dit, daarom is dit OK. Ek wil jou graag uitnooi om die hele boe 1 Johannes te lees: Dit gaan oor geloofsekerheid. Johannes is baie duidelik: As ons gered is kan ons nie meer langer in sonde leef nie. Ja, ons sal nog sondes doen, maar ons leefwyse, ons lewenskeuses en ons onmiddelike skulderkenning en bekering as ons sonde doen is die bewys dat ons gered is.

As jy kies om 'n lewe van sonde te leef is jy volgens Johannes nie gered nie. (En lees amar wat sê die Nedelandse geloofsbelydenis oor dei seremoniele wet, wat vervul is in Christus). Fourie, jouoppervlakkige teologie help niemand nie, en dra net by tot die pyn van dié wie hier seerklry: Mense wat in sonde vasgevang is en skreeu om hulp - van mense wat hulle verder in die verderf in help.

Een laaste punt: Daar is meer straight mense van wie God verwag om selibaat en rein voor Hom te leef as gay mense. Straight mense wat om redes buite hulle beheer en teen hulle keuse nie kan trou nie. Om te sê die kerk varwag van gay mense om selibaat te leef maar nie van straight mense wat nie kan trou nie is 'n wrede, demoniese leuen.

Hoor my mooi. Daar is geen Liefde sonder Waarheid nie. Wie beweer hy het gay mense lief maar hy vertel nie vir hulle die waarheid van God se genade, liefde en heilige oordeel nie is 'n liegbek.

'n Wrede, hartelose, liefdelose liegbek.
Anonymous said…
This comment has been removed by a blog administrator.
Unknown said…
Die rede vir die lys van sondes in reaksie op Gideon se opmerking probeer uitwys dat ons te dikwels baie selektief is wanneer ons sekere mense verdoem en ander weer goedkeur. Mense wat kies vir die wet, moet dit konsekwent doen. Dis amazing hoe mense wat die Bybel voorhou asof dit tydlose etiekboek is, nie dit konsekwent vir hul eie lewe doen nie. Ek wonder hoeveel van die mense wat hier opmerkings post hulle besittings verkoop het en dit aan die armes uitgedeel het? Dis tog 'n direkte opdrag van Jesus, tog weet ons instiktief om so 'n teks te interpreteer, terwyl ander tekste weer letterlik voorgehou word.

My uitgangspunt is dat daar baie gay lewenswyses is wat nie inlyn is met die kernwaardes van die Bybel nie, maar dit geld ook vir baie hetero-lewenstyle. Die teendeel is ook waar.

Al my vriende wat gay is, leef in verantwoordelike, monogame verhoudings waar die identiteit van die verhouding baie groter en dieper is, as bloot seksuele aangetrokkenheid. Soos dit mos moet wees met enige ander verhouding.

Ek glo gewoon net nie dat om gay te wees sonde is nie, net soos wat dit nie vansprekend is dat jy straight is, jy OK is nie. 'n Gehoorsame lewe voor God vra harde werk, gay of straight.

Ek weereens verras deur die intensiteit waarmee behoudende Christene reageer. Veral wanneer dit annoniem is.

Popular posts from this blog

Simptome sonder 'n diagnose

Ek skryf vanaand oor my ontydige ontmoeting met die dood, my eie dood om presies te wees. My muse terwyl ek skryf is die bekfluitjie van Bob Dylan. (“it's getting dark, too dark to see, I feel I am knocking on heavens door...”) Die afgelope paar weke stoei ek met simptome wat wissel tussen malaria, bosluiskoors, sinussitus, babalas en een of ander bakteriele bliksem in my binneste. Oor die algemeen het ek die gemoedstoestand (asook die spysvertering) van ‘n ouma agter op die backseat terwyl haar kleinkind sy "maiden voyage" deur Bainskloof Pas onderneem, in pa se nuwe Audi... Die dokters gooi egter klippe in die bos om te kyk wat uitspring, dus het ek nou al buiksonars, breinskanderings en ‘n wilde lumber punch agter die blad (laasgenoemde was regtig agter die blad). Iemand moet nou nog net my prostaat kom voel dan is die hele boksomdice gecover. OK, so waar was my ontmoeting met die dood? In al die bogenoemde natuurlik. Ek doen nie goed met naalde, pille en hosp

Tata Madiba.

Die Pretzel

Ek het hierdie storie die eerste keer gehoor uit die mond van die bekende storieverteller Nico Nel. My weergawe klink so: In die hoogbloei jare van stoei (daai tyd was daar baie bloed betrokke), was Jan van Pretoria die land se nommer een stoeier. En met stoei bedoel ek nie die rofstoei soort wat ‘n mens op e-tv sien nie, nee ek bedoel amateurstoei. Daardie soort waar jy met ‘n rooi of ‘n blou broekie stoei. Ek was self ‘n kranige klein stoeiertjie, maar dit was lank nadat hierdie voorval plaasgevind. Jan het van Lichtenburg se wereld afgekom, sy van was Van Pretoria. Hulle het hom die posterboy van stoei genoem, aangesien al wat ‘n stasiedorp nooientjie ‘n Huisgenootmiddelblad plakaat van Jan van Pretoria van Lichtenburg teen hulle kamerdeure gehad het. Daardie nooientjies behoort nou almal mooi vroue van diep in hulle 80’s te wees en al lewe Jan lankal nie meer nie, stoei hy nog snags in die slaapkamers van menigte ouetehuise. Jan van Pretoria van Lichtenburg in aksie