Skip to main content

Vicky Venter

Vicky Venter was ‘n meisie van die verkeerde kant van die spoorlyn op die dorp waar ek leer praat, loop en leef het. Met haar blas vel en "reguit-af hare" soos in my ma se Sarie tydskrifte was sy die mooiste meisie in die gekombineerde Sub A en B klas van 1988. As dit nie was vir die “oversize hand me down” skoolklere en haar vuil vingernaels nie, sou daar waarskynlik meer sulke stories oor Vicky vertel kon word, maar die dice het nie vir Vicky reg geval nie en dus is hierdie die enigste storie (tot my skande) wat ek oor haar kan skryf.

Sy was my eerste meisie, half teen my sin en te danke aan ons bure se seun, Jakkie. Ek, Jakkie en nog iemand wie se gesig en naam my ontduik moes na skool detensie sit. Ek dink ek het my L.O. klere vergeet en Jakkie het seker weer die vetkryte opgekou.

“Vicky, Fourie wil met jou kys” het Jakkie uit sy beurt kwytgeraak.

Ek verstik amper aan die korsie van my pousebroodjie en kry om die dood toe nie geprotesteer nie. Vicky is uit haar skooltrui bly van opgewondenheid en Jakkie sit en grinnik asof hy nie kan wag om vir die res van klas van hierdie “turn of events” te vertel nie. En so is ek toe met die stasienooi Vicky gekys. Sy het dadelik my hand gevat en my beveel om haar tas te dra al die pad stasie toe. Op hierdie punt het egter my voet neergesit, want die stasie is ‘n verbode plek vir Sub A seuntjies soos ek. Toe ontmoet ons mekaar maar halfpad en ek dra toe haar tas net tot by die Porra se kaffee oorkant die hotel.

Vicky was ook my eerste stout oomblik en toevallig Jakkie s’n ook. Een agtermiddag, onder die skool se loekwartboom agter die tennisbaan, het Vicky vir my en Jakkie haar koekie gewys. Na die aanvanklike opwinding het sy ons gedwing om ook uit te haal en te wys. Weereens kon ek nie ‘n teen argument teen Vicky se blydskap vind nie. Ek onthou nog hoe sy vir my gevra het of dit altyd so kierts regop staan. “Nie so ver my kennis strek nie” antwoord ek toe half verleë as ‘n poging om namens my tollie verskoning te maak vir sy eienaardige gedrag. Jakkie, die klein bliksem, het geweier om sy juwele ten toon te stel en my alleen met die bleddie skuldgevoel en skaamte gelos. Dit was 'n Vrydag en ek was seker dat my en Vicky se sonde tydens Maandag se saalopening oopgevlek gaan word. Die naweek het soos ‘n ewigheid gevoel en iewers tussen Sondagskool en ‘n skaapboud het ek amper my siel aan los Gunston sigarette verkoop met die hoop dat die stof sal gaan le voordat die nuus by die skoolhoof gaan draai. Gelukkig was die naweek vinnig op sy kop en die opwinding van die bou van ‘n spookhuis tydens die kerkbasaar het waarskynlik gemaak dat my, Vicky en Jakkie se geheim nog steeds onder die loekwartboom begrawe lê.

Ek onthou hoe ek gespot is omdat Vicky my meisie is. Haar blas vel het baie agterdog rakende haar stamboom veroorsaak en haar stasie aksent en growwe maniere het nie veel bygedra tot my status as haar kerel nie. My broer het een middag na skool my eenkant geneem en gevra vir wat staan en kys ek ‘n klimmeid? Ek wens ek kon sê ek hom gebliksem of ten minste darem probeer om my man te staan, maar ek kan nie, want van daardie dag af was Vicky in my oë ‘n baster, ‘n stasiemeid. Die saad van die ou bedeling het wortel geskied. Die eerste takkie rassisme was besig om in my hart te ontkiem.

Ek het haar begin ignoreer. Haar briewe het onoopgemaak in ons vullisdrom beland. Haar pogings om langs my te staan tydens pouse of wanneer Tannie Maria ons met moeite in koorsangers probeer verander het, is met ‘n koue skouer en ‘n vlak verskoning ontvang.

My oomblik om die kys te breek,(maar sonder om soos die drol te lyk) het gouer aangebreek as wat ek verwag het. Skuins voor tweede pouse en net na L.O, het Vicky my voor die hele klas per ongeluk deur die gesig geklap. Ek het geweet dit was nie aspris nie, maar my oordrewe reaksie en die bohaai wat die juffrou opgeskop het was genoeg vir my om vir Vicky soos die vark in die verhaal te laat lyk. Ek het die kys verbreek en voor almal vir haar gese dat ‘n mens ‘n stasiekind uit die “stasie” kan haal, maar nie die “stasie” uit haar nie. Almal het gelag en Vicky het nooit weer met my gepraat nie.

Soms dink ek nog aan Vicky. Ek verbeel my dat sy iewers ‘n suksesvolle sakepersoon is met verskeie beleggings en interessante ondernemings. Sy woon iewers in ‘n baie moderne huis in Kaapstad en sy, haar man en haar twee kinders gaan elke jaar op ‘n oorsese vakansie. Ek verbeel my dat sy reeds twee grade agter haar naam het en dat sy elke nou dan genooi word om by ‘n skool of ‘n ontbyt oor haar merkwaardige lewe te kom praat.

Maar dit is net my eie projeksie.

Ek weet nie waar sy is nie. Ek vermoed die dobbelsteen se val was te groot vir haar om te verander. Ek vermoed haar vingernaels is nog net so vuil en dat haar kinders ook soos sy “hand me downs” skool toe dra. Ek vermoed sy verdien waarskynlik nie meer as R2500 ‘n maand nie, hiermee moet sy sien-kom-klaar, want sy het niemand meer om by te leen nie . Die kar waarmee sy rondry se uitlaatpyp raas en se ratkas sukkel om van derde na vierde oor te sit. Sy lyk te oud en afgemat vir iemand onder 30. Haar oë is moeg en haar tydskrifhare het lank reeds hul glans verloor. Tussen 1988 en nou lê jare se dobbelstene wat net nooit reg wou val nie.

Tot my skande moet ek ook bely dat as ons paaie vandag sou kruis, sal ek en Vicky nie vriende kan wees nie, want as hierdie prentjie van haar in my gedagtes flits, is ek goddank bly die kys is uit...

Comments

Reenen said…
Mnr De Priester...

Dis 'n nice storie, en great geskryf... maar dis nogal 'n lekker post-modern einde. Dis meer vrae as antwoorde! :-)
Unknown said…
Tot my spyt is dit 99% waar, behalwe dat die name ietwat verander is.

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke