Skip to main content

'n Groen middelklas



Alhoewel hierdie artikel oor ‘n groen leefstyl gaan is daar niks groen hieraan nie. Ek skryf dit in ‘n koffiewinkel in Secunda, vader alleen weet hoe ek hier beland het. Die “aircon” is op fullblast en dis nie eers warm buite nie. Rondom die dorp is groot torings wat geduring vlamme en rook die lug in blaas, soos die vraag vir energie en krag net groter en groter raak. Die koffie wat ek drink het iewers per skip, vliegtuig of trein hier beland, aan die bitter smaak daarvan weet ek dit prut al die heel dag op ‘n warm plaat. ‘n Paar weke gelede is het Polo 1.4 spoorloos verdwyn (die polisie krap nou nog kop...), sedertdien rits ons rond in ‘n geleende 4X4 3liter monster. My ekologiese voetspoor is vandag onbegryplik groot. Ek gaan ‘n hele boord se bome moet plant as ek môre weer by die huis terug is.

‘n Veldtog getiteld Trees for Africa het ‘n hulpmiddel op hul webblad wat jou help om jou koolstof voetspoor te meet en dan aan die hand daarvan die aantal bome bereken wat jy moet plant om op te maak vir jou ekologiese sondes. Sedert ek en my vrou 7 maande gelede uit Stellenbosch na Jozi verhuis het, staan ons uitstaande ekobalans op -36 bome. Gelukkig is daar (nog nie) ‘n balju wat aan my deur gaan klop met ‘n lasbrief en ‘n paar boeie nie. Plant of betaal is nog lank nie die wet van Transvaal nie.

“Ek het altyd gedink dis my kinders wat daarvan gaan sterf, maar nou besef ek, dit gaan waarskynlik ek wees.” Hierdie woorde van ‘n goeie vriend het my uit my eko-onkunde gedwarsklap. Hy was by ‘n praatjie van die bekende ekoteoloog uit die Kaap, Ernst Conradie. Ernst se teorieë oor die ekokrisis waarbinne die hele wêreld gedompel is, het hom laat besef dat die einde dalk nie se ver is soos wat ons almal heimlik gehoop het nie.

Wat is die probleem? Dis eintlik baie eenvoudig: Te veel mense gebruik te veel goed. In sy nuutste boek “Hot, Flat and Crowded” maak Thomas Friedman hierdie punt baie blatant en die prentjie wat in die eerste paar hoofstukke skilder los jou met ‘n subtiele depressie wat ‘n bietjie verdwyn nadat jy vir ‘n uur of wat ‘n paar grawe kompos in jou groentetuintjie ingewoel het. Hy fokus veral op die massiewe ekonomiese groei wat lande soos China en Indie op die oomblik beleef. Die ekonomiese ressesie wat op die oomblik vir almal ‘n groot realiteit is, sal volgens Friedman vir hierdie lande slegs ‘n spoedhobbel wees. Die ekonoom Mike Schüssler het in Woensdag 25 Maart, se Sake24 iets soortgelyk kwytgeraak, deur te sê dat “mense is nou ryker en meer geleerd is as ooit tevore in die geskiedenis. Hierdie resessie sal ook verbygaan en die mensdom sal weer floreer.” Met ander woorde, miljoene mense sal aanhou beweeg van armoede na ‘n middelklas lewe. En op die oog af is dit mos goed. Ja, verseker, defnitief, altyd. Wanneer mense uit die omstandighede van afhanklikheid beweeg na ‘n lewe van eienaarskap, vryheid en keuses is dit ‘n goeie ding.
Maar dan gaan Friedman verder deur te verduidelik dat die probleem lê by die leefstyl van die middelklas. Almal jaag die Amerikaanse droom na. Kort voor lank het elkeen ‘n yskas,vrieskas, t.v.,rekenaar, toaster, ketel, stoof, verwarmer, geyser, lugversorger en ten minste een motor. Al hierdie goed gebruik natuurlik krag en die krag moet iewers vandaag kom. Huise en woonstelle skiet op soos sampioene, paaie en hoofweë neem die laaste bietjie oopvelde in beslag en op elke hoek en draai ontwikkel ‘n “mall” groter en beter as die vorige een. Die wêreld het nog nooit so baie Amerikaners gesien soos vandag nie. Van Johannenburg tot Cairo, van Casablanca tot Calcutta.

Die Amerikaanse droom is ‘n bliksem, want hoe aanloklik dit ookal lyk, is die aarde nie toegerus vir ons almal om so te leef nie. Maar die eintlike bliksems is die Amerikaners hulself. Want nadat hulle en die res van Europa die voorgereg, hoofgereg en poeding opgevreet het, nooi hulle ons in Afrika, Indië en die res van die agterosse vir ‘n koue koppie “organiese” koffie, maar dan, nog voordat ons koppie leeg gedrink is, vra hulle dat ons die rekening gelykop onder mekaar verdeel. G’n wonder dat genoeg stemme uit die ontwikkelende lande erg vasskop teen die druk wat nou van die voorste lot mededingers af kom dat ons almal eweskielik moet stadiger hardloop. Hoe gaan ons ooit bykom by hulle wat doer voor hardloop?

Maar hier sit ons nou, catch 22. Jaag ons die Amerikaanse droom na, omdat dit ons toekom, gaan ons oor ‘n paar jaar met ‘n skok agterkom dat al die visse in die see gevrek het, al die natuurlike grasvelde, reenwoude, fynbos en bosvelde diep onder beton begrawe is en die reg tot vars, skoon water oornag in ‘n voorreg vir ‘n uitgesoekte groepie rykes verander het. Jaag ons dit nie na nie, dan raak ons agter in ‘n baie mededingende resies waar ouens soos Rusland, China en Indië reeds lankal voet in hoek gesit het, reguit wenpaal toe.

Of dalk is daar ‘n derde weg. ‘n Heel nuwe manier van leef. ‘n Gans andere alternatief, waar die woord “groei” nie net in monetêre terme verstaan word nie, maar geïtegreerd, organies, aards, volhoubaar en verantwoordelik. Wat die wêreld nodig het is ‘n groei in die rigting van ‘n groen middelklas. ‘n Manier wat leef wat waarde toevoeg, wat herstel en opbou en wat weet wanneer is genoeg genoeg.

Hier in Suid-Afrika, waar die lewe vir die mens begin het, het ons, die kinders van die somerreën, die seuns en dogters van die koue Benguella en die warm Mosambiek, die broers en susters van die fynbos en die veld, die medereisigers van die olifant en die leeu, ‘n kans om die wereld te wys hoe hierdie leefstyl lyk. Dit is in ons DNA ingeweef, as ons net kan loskom van die betonkultuur, die “kommin” toskaanse argitektuur en die behoefte om alles behalwe “Afrika” te wees. Ons is bitter ver agter op so baie gebiede en ons ekovoetspoor is so groot soos van grootstes in die wereld, maar as ons net weer die klam grond onder ons voete kan voel, sal ons dalk die wysheid vind wat die wereld kan verander.

Saterdag, 28 Maart is dit Earth Hour. Reg oor die wêreld gaan indiwidue en besighede hulle ligte afsit uit protes teen die verslaafdheid aan koolstofkrag. Deur daaraan deel te neem, wys ons dat ons deel is van die aarde en nie langer dit wil toegooi met plastiek en beton nie.
Sedert my vriend se wilde opmerking, het ek ‘n groente tuintjie begin, met beet, brinjals, basiliekruid, rooi uie, wortels, aarbeie, groen en rooi peper, ertjies en botterbone. ‘n Handvol wurms verander ons weggooi kos in kompos. Ons bere al ons blikkies, glas en plastiek met die plan om te herwin. Ek in die tussentyd deel geword van ‘n gemeenskapgesprek waar ons soveel as moontlik mense wil inspireer om hul middelklas bestaan ‘n groen glans te gee. Nou soek ek nog net ‘n plek vir daai 36 bome...

Comments

ekkedink said…
behalwe vir die jare (ek's ' 1960 model), is daar baie ooreenkomste!
sal gereeld kom inloer (http://ekkedink.wordpress.com/)
Moenie sleg voel nie - ek staan op 126 bome, en dis nie eers die elektriesiteit gebruik by die huis nie. Jy's aansienlik groener as die aaklige geel-bruin (kapoen?) kleur waarin ek myself bevind.

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke