Skip to main content

Oor Seekoeie, Crocs en Gin 'n tonics.


Tydens ‘n onlangse besoek aan die Kruger Wildtuin het ek net weer opnuut besef: Die mens is kens, stapelgek. Ons het doer bo in die noorde by Pafuri gaan draai en orals waar ons kom is daar waarskuwings dat toeriste asseblief in hul motors moet bly. Die diere is gevaarliker as wat hulle lyk, dis nie Disney World nie, dis Afrika!

So gaan hou ons toe piekniek by Pafuri, heimlik hoopvol dat die allerskaarste visuil sy verskyning sal maak. Na ‘n heerlike en insiggewende kuier saam met Frank Mobasa, Pafuri se voëlguru, vat ons toe die pad al langs die rivierbedding af. Op ‘n kol stop ons by ‘n mooi hoekie sommer teenaan die rivier. Entjie teen die wal af le vier groot krokodille, verder af in die rivier skuil ‘n spul seekoeie van die middagson en oorkant die wal breek ‘n paar takke onder olifant tande.

“Hello darling, do you see any wild animals?” skreeu ‘n botox tannie met ‘n gin en tonic vanuit haar splinter nuwe Prado. “No, only hippos and crocks!” antwoord die bestuurder in die ewe blink Fortuner langs wie sy parkeer het. Gelyk of hulle mekaar ken. “I am going to take a picture” sê die een vir die ander en net daar klim almal in albei voertuie uit, elkeen met ‘n glasie moed in die hand. Een van die dikkes gaan selfs ‘n paar tree teen die wal af sodat hy die hele trop seekoeie kon afneem. Oom Paul draai toe net daar in sy graf om.

Nou help dit seker nie om vir die klomp te verduidelik dat Pafuri luiperdwêreld is nie, dat onder al daardie takke en grasse waarop hulle so lekker met hulle pienk en blou Crocs trap, lê pofadder se kind, net reg om te pik. Dit help ook seker nie om te sê dat die takke wat duskant die rivier kraak ‘n bedonnerde olifantbul is wie tand waarskynlik pyn nie.

Op pad terug was daar ‘n groot debat onder ons toergeselskap, oor of ons hulle moet raporteer of nie.

Dis nou ‘n catch 22.

Want doen jy dit, dan voel jy soos die poepol. Die antie met die natbroek. Die oompie met die besemstok iewers opgedruk. Dis ‘n vreemde houvas wat die kakaanjaers van die lewe op die wanderlaars van die smal en reguit het. Laasgenoemde sal altyd maar gedwee stilbly, nie klik nie, nie hul mond uitspoel nie, nie daardie oproep maak nie, eerder maar die ander pad kyk en stilweg hoop dat die wiel tog iewers weer gaan draai.

Doen jy dit nou nie, dan word jy deel van die probleem. Selfs op ‘n vreemde manier die oorsaak van die probleem. Jy word ‘n medepligtige. Daar is egter 'n prys wat jy op die ou einde betaal. Wanneer jy ‘n gesteelde sonbril koop, is dit net ‘n winskopie totdat jou kar se radio gesteel word, dan is dit ook nie meer lekker nie. Of neem nou kinders wat by die verkeersligte bedel as ‘n voorbeeld. Elkeen wat ‘n geldjie uithaal omdat hy of sy dink dis die regte ding om te doen, word medepligtig aan die feit dat daardie kind die volgende dag weer daar staan. Jy is dan saam met die kind se vrotsige ouers aanspreeklik vir watter lot die kind daar op die hoek van Voortrekker en watsenaam ookal kan tref. Deur nie die dik tannies met die gin en tonics te raporteer nie, word ‘n baie gevaarlike kultuur van onverskilligheid in stand gehou, eintlik aangemoedig.

Terug by die kamp, wik en weeg ons of ons dit moet doen. Gaan ons dadelik die pot aan die roer kry onder by die tent, of moet ons eers hier bo by ontvangs die dinge roer? Op die ou einde het ons die eerbare ding gedoen, maar ek moet bieg, dit was nie ons goeie gewetens wat ons besluit beinvloed het nie, maar eerder die feit dat die tannie met die gin en tonic se aksent haar herkoms verklap het.

Blêddie Australier, hoop dit sal haar leer..

Comments

Adventurers said…
Hi Fourie, wil sommer net dankie se vir die mooi boodskap. Ek hoop dit gaan goed met jou en vroulief daar bo in die noorde. Ek hou darem so ogie op jou blog, geniet dit vreeslik.
God bless,
Johann
Reenen said…
Ah!!! Jy was op vakansie. Dis die dat daar droogte was!

Ja, ek moet saamstem. Ons moet dit rapporteer. Dis nou maar so.

Veral as dit 'n Aussie is. :-)
Unknown said…
hey Reenen
was bietjie woelig met my ander blog, diaries of a doubtful believer. Check dit uit!
Johan Swarts said…
Ugh, ek sidder sommer as ek al daai crocs sien ;)
Ons kuier ook so nou en dan in die wildtuin... (baie veiliger as in Gauteng in elk geval). Ons het al ook ons dosis van die mensdom se domheid (mensdom... dis nou 'n beskrywende woord...) daar in aanskouing geneem. So 'n jaar of wat gelede was ons gelukkig om 'n trop leeus te kry wat by die pad lê. Dis mos nou die al dag wat mens dit sien nie!

'n Groep van 4 oosterse (baie oos...) toeriste het met 'n videokammera die inhoud van een van die katjies se middagete probeer afneem. (Natuurlik wyl hy nie kan ophou praat en beduie vir sy mede-mensdomme by hom nie) Die man het letterlik by sy ruit uigeleen om te probeer opmaak vir sy kamara se beperkte zoom. Dis eers toe die leeu vinnig opstaan en met ore orent kom ondersoek instel dat die man maar besluit om sy kop, skouers en bolyf maar eerder binne te hou.

Hulle het seker gewonder oor die 5 spierwit geskrikte Suid-Afrikaners (met die bottoe ruite) agter hulle met die oop monde...
Pienk Zuit said…
Knap gedaan. Soos jy sê, as jy nie rapporteer nie raak jy deel van die probleem.

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke