Skip to main content

My kop R(a)as, Dumisani!

Kyk, nou rafel dinge heel te mal uit. Ek kon nog die weekspan van die Bokke se verloor teen die Tiere hanteer. Daar is immers iets spesiaal daaraan wanneer die beste span in die wêreld bloedneus geslaan word deur ‘n buiteperd. Dis soos daai keer toe my laerskool vriend Pietman (tans ‘n kranige musikant met die naam Peter Mitchell) die plaaslike boelie tydens pouse bygedam het. Die boelie het na die tyd gekla dat ou Pieta vuilgespeel het, dat die turf waarop hulle gestoei het ongelyk was en dat dit tog beter sou gewees het om eerder na skool te baklei as tydens pouse. Ons almal het egter geweet dat dit flou argumente van ‘n sleg verloorder was en dat Pietman se sogenaamde “lucky” linker op enige ander dag die boelie met sy logge liggaam ter helle sou laat neerdaal het. Pietman was sedertdien my “hero”.

Dus het ek in teorie nie ‘n probleem met die weekspan se loesing nie.

Maar toe gebeur laas Vrydagnag.

Hier is soos ek dit vaagweg kon onthou:

21:20: Ons kyk die wedstryd by die naaste kroeg met ‘n “big screen”, die plek is stampvol en ek bestel ‘n Guiness draft.

21:23 Iewers in die wandelgange van Toulouse stadium rook ‘n ene Ras Dumisani vir oulaas ‘n zol voordat hy die skare moet vermaak met ‘n lied wat hy op laerskool laas gesing het.

21:27: ‘n Oorhaastige kelner bring vir my ‘n warm Black Label in ‘n glas. Ek roep agterna, maar hy hoor nie.

21:28: Ek sluk langtand aan my bier en liplees vir John Robbie en Naas Botha terwyl die plaaslike plateknaap hard probeer om ‘n lee dansbaan ‘n eerbare dood te laat sterf.

21:33 Die hele kroeg staan op aandag vir die sing van ons volkslied. Iets moet fout wees met die opvangs, want dit klink dan nou nie soos Nkosi nie.

21:35 Die meeste van ons gaan sit en wonder wat de dinges sopas gebeur het. Die kamara fokus in op Brian Habana en Schalk Burger wat dieselfde skaapuitdrukking as die res van ons het.

Die res van die aand onthou ek soos ‘n nagmerrie waar dinge dof en vaag is en al wat jy oorhou daarvan is die sweet en hartkloppings en die vae gesigte van drogbeelde wat op jou jag maak. Ek onthou die afskop, maar ek kan nie onthou of ons die bal gevang het nie. Al wat ek sien is blou truie wat oor groen truie hardloop en iewers blaas die skeidsregter sy fluitjie vir nog ‘n strafskop teen ons. Dan sien ek vir Morne Steyn wat die bal teen Beast se kop vasgooi. Dan nog ‘n omgekeerde balbesit en die Franse wat ons terugstuur na ons kwartgebied toe. Bakkies bloei. Dan hoor ek weer die Rasta in my kop iets sing wat in ‘n vorige leeftyd ‘n volkslied was. Dan skop ‘n Morne ‘n tweede keer pale toe, dis oor. John Smit “score”! Die Franse laat nie op hul wag nie en hardloop ons dronk soos net ‘n Fransman kan, hulle druk in die hoekie. Dan kry Morne ‘n geel kaart. Of het ek daardie deel gedroom? Moes wees. Dumisani raas nogsteeds...

Halftyd: Bokke 13, Frankryk 11

Zane Kirchsner skop af, dis te ver, ons moet skrum. Waar is Morne? Hel, dit was toe nie ‘n droom nie! Hier kom iets in die lyn van die storm van die Bastille. Nog ‘n starfskop teen ons. Pale toe. Dis oor. Ons loop agter. Die tafel langs my vloek soos matrose, hulle wonder waar ons “forwards” is, iemand roep desperaat dat Bakkies tog die ref sal bliksem, die Bokke kan met 14 man regkom. Speel ons nie al reeds met 14 man nie? Tyd raak nou min. Daai reuse Fransman met die hare en die baard wat lyk soos Moses op steroides is op die veld. Hy lyk wild. Hel, hulle almal lyk wild! Ons lyk soos ‘n spul bankamptenare op ‘n Maandagoggend in die hoogbloei van die resessie. Morne is terug op die veld. Schalk is beseer! Nog ‘n geel kaart, die Shark met die Russiese van is koelkas toe. Strafskoppe by dosyne! Ek sweer die ref is teen ons. Ons gaan nie hierdie een wen nie. Ons speel boonop teen die wind ook, dit waai rof, mens kan dit aan Wynand Olivier se hare sien. Waar hét hulle aan daai rasta gekom? My kop sing nogsteeds. Strafskop, hierdie keer vir ons. Morne wys hy gaan aanlê pale toe, dis ‘n “sure thing”, daar is nog hoop. Die bal woer-woer links verby, dis wragtag mis! Die eindfluitjie blaas. Ek is al in my kar. Die halwe glas Black Label word onseremonieel deur die kelner kombuis toe gedra.

Die lewe gaan soomloos voort.

Maar ek voel soos daai boelie, my neus bloei. Bleddie ref, lang seisoen, die ouens is moeg man en wie kan nou in elk geval konsentreer op die spel as jou kop raas met die vals klanke van ‘n Bob Marley “wannabe”.

Comments

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke