Skip to main content

‘n Vakansie van ‘n agtergeblewende

Oor ‘n week of wat sal die uittog begin. Die tasse en toksakke is reeds afgestof, die coolerboks uitgespoel en splinternuwe swembroeke, strandhandoeke en visplakkies is ten duurste aangeskaf. Groot blink karre word vir oulaas gediens, karrevane word gewas, uitgepak en oorgepak. Op plekke soos Margate, Hartenbos en Stilbaai word liters draairoomys, bier en brandewyn aangekoop. Die slaghuise kry hul voorraad tjops en wors gereed en Four Cousins bottel vir ou laas ‘n paar duisend bottels soet en semi-soet wit, rooi en pienk partytjiewyn. Vrouens gaan vir selftan sessies, mans bo 40 is vir die eerste keer hierdie jaar in ‘n gym besig om hul lywe “strandgereed” te kry en iewers is ‘n matriekmeisie besig om haar eerste tattoo te beplan. Afrikaanse “popsterre” wat heel jaar lank liedjies sing met titels soos “Pomp jou wiele styf” en “Kap daai tannie kwaai” werk eweskielik hard aan ‘n kersfees CD vir die langpad. En salig onbewus van al hierdie opwindende dog uitputtende dinge is oupa en ouma iewers in die Strand of op Mosselbaai besig om die slapies af te tel tot hul kleinkinders kom kuier. Pasop Kapenaars, die Gautengers is op pad!

En moenie vir een oomblik dink die resessie het hul onder gekry nie. Ek bly nou al vir bietjie meer as ‘n jaar hierbo in die Noorde en het oorgenoeg tyd gehad om hierdie vreemde volk te leer ken, hulle almal, deur die bank beplan om in Desember 2009 “groot te gaan.” Hulle het hard gewerk, hulle verdien hul ruskans, hulle gaan die murg uit die tuinroete, die ooskus, die weskus, die noord-kaap selfs tot doer in Namibie uitsuig, fancy verpak, terugbring Johannesburg toe, dit franchise en dit dan aan niksvermoedende oorsese sokker toeriste volgende jaar tydens die wereldbeker te verkwansel. Hulle gaan ‘n “killing” maak.

Maar ek, ek is min gepla oor al hierdie dinge wat op die Kaap en elders wag, want hierdie jaar het ek die kort lootjie getrek om die “graveyard shift” te beman en as die Nuwe Groot Trek eers begin gaan Johannesburg in die rustigste dorp hierdie kant van die Vaalrivier verander, of so hoop ek.

Kyk, aanvanklik was ek heavy gespanne oor die vooruitsig om in Johannesburg agter te bly. Ek is immers nog diep in my hart ‘n boytjie van die Boland. My brei R is nog rasperagtig en my ekke, bekke en plaashekke staan nog almal met hul voete plat op die grond. “Sal ek dit oorleef?” het ek gespanne gewonder. Kan ‘n Kapenaar op ‘n ander plek as in die Wes-Kaap vakansie hou?
Op die dorp waar ek grootgeword het, was daar ‘n groepie boere wat altyd tydens die Julievakansie in die Kruger Wildtuin gaan kamp het. My pa het altyd gese hy ry nooit sover om in ‘n tent te gaan bly, agter leeus en olifante aan te ry, net om dan weer by jou tent te kom om te ontdek dat die ape jou vleis en brood gesteel het nie. Dus het ons het maar altyd gewag vir Desember om iewers (naby) in ‘n ou huisie teen die see, ‘n berg of ‘n (dikwels droe) rivierloop ons siele te gaan lawe.

So waar gaan ek inhaal op my winter tan anders as op “Bikini beach”? Waar gaan ek kan wyntoer anders as in Stellenbosch, Paarl, Wellington of Robertson? Waar gaan ek vars oesters, kreef, snoek en galjoen vir goedkoop kan kry anders as by die Muisbosskerm of by Paternoster se Voorstrand Restaurant? Waar gaan ek in bergpoele kan swem, teen kranse klouter of saam met die rivier afdryf anders as by Dwarsrivier in die Cerderberge? Hoe gaan ons kersfees hou sonder die bekendheid van ma se kos, pa se vleis en my grootword huis?

Maar toe tref dit my:

Dis dalk nie so sleg om agter te bly nie. Joburg is tog nie so bad soos die Kapenaars (en sommige Gautengers) dink nie. Die weer is fantasties en die locals is lekker. Daarby saam kort my garage rakke, my tuin aandag en Builders Warehouse is net om die draai. Die groente wat ek paar maande gelede geplant het is ook al amper gereed om geoes te word.

Nee wat.

‘n Maand in Johannesburg sonder ‘n bloubul ondersteuner met die blouballe agter sy groot 4X4 bakkie wat my van die pad af jaag terwyl hy op sy selfoon praat oor die volgende Toskaansgeinsprireerde sekuriteitskompleks wat hy en sy vennoot gaan bou, kan mos net salig wees.

‘n Maand van wyn drink, kosmaak en boeklees saam met my vrou en ons honde op ons eie stoep klink mos al klaar soos vakansie.

Die meeste van ons vriende het hul geld hierdie jaar op ‘n nuwe bakkie,huis, braaiplek, swembad of pooltafel gespandeer, hulle het ook nie nou geld om te gaan vakansie hou nie, dus gaan ons oorgenoeg geleenthede uitdink om saam te kuier en fees te vier. So ‘n maand van braai en kuier saam met die “agtergeblewens”, fietsry in die Cradle of Mankind, soesji eet, bier drink en uithang by plekke soos Melville, Greenside en New Town sonder die gejaag om die verkeer terug huistoe te mis, kan mos wragtag ook soos vakansie voel.

Comments

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke