Skip to main content

My eerste nagmaal, tot my ouma se skande

Ek onthou die dae toe nagmaal net vir grootmense was. By die kerkie op die dorp waar ek groot geword het was nagmaal ‘n groot ding. Die beste swart pakke is afgestof, spier wit dasse was blink gestryk, hoedens is uit die Kaap aangery, die orrel se pype is skoon geblaas en die tuintjie voor die trappe by die ingang van die kerk het selfs in die koudste winter kleurvol geblom. Alles moes perfek wees, ook diegene wat deel wou he aan die nagmaal. Die dominee het seker gemaak die dorpie weet hoe heilig die nagmaal is en dat slegs heilige mense die nagmaal “mog” gebruik. Vader land, praat nou van pressure, maar anders as by ander kerk het ons mense nie geskroom om hul heiligheid op hul mou te dra nie. Nee wat, net nou begin die dorp skinder oor hoekom jy nie die nagmaal wil gebruik nie, dus moet jy maar eerder seker maak die masker wat jy dra is silwer skoon, of is dit nou wit gepleister?


Hoe dit ookal sy, ek onthou nog my eerste nagmaalservaring. Ek was nog in my voorskool dae en het die oggend saam met my ouma Makkie en oupa Pieter kerk toe gegaan en styf teen my ouma se warm wintersjas opgekruip. Die atmosfeer was somber, almal het tjoepstil gesit en gewag vir die kerkraad en die dominee om hul verskyning te maak. Voor op die liturgiese ruimte het die mooiste tafel met die mooiste silwerware gestaan. Die reuk van soetwyn en brood het die tot by die agterste banke die sintuie van skuldgevoel en geloof losgemaak. Bach of Mozart het uit die pype van die orrel gedans, die koster het die klok gelui en die deur duskant die preekstoel het oopgegaan. Weerskante het mans met snorre en brylcreem kantpaadjies in die kerkraadsbanke gaan sit. Die dominee het huiwerend voor die trappies van die preekstoel gaan staan, so asof hy self die grootsheid van oggend probeer begryp het. Van die res van die oploop na die sakrament kan ek nie veel onthou nie, behalwe toe die rooikop kleinkind van Tannie Baps onbedaarlik begin nies het. My ouma het haar skoon vererg, want dis dan nie eens hooikoorstyd in die Kaap nie. “Weet die mense dan nie van tissues nie?” het my ouma agterna op pad huisstoe gekla. Haar irritasie het egter min te doen gehad met Sproete se snotneus en eerder met hoe haar eie kleinkind haar in die spreekwoordelike skande gesteek het.

Kyk, ek het daardie oggend nie kans gekry om my pap klaar te eet. Ek was nog besig om dit koud te blaas toe reverse my oupa al by die garage uit. “Mens kom nie laat vir nagmaal nie”, het ek op pad kerk toe ‘n paar keer gehoor. In daardie dae waas ‘n nagmaaldiens nie soos nou net ‘n uur nie, nee die dominee het sy gewone dinge eers klaar gedoen en dan amper met ‘n nuwe preek begin. Teen die tyd wat die doek van die tafel afgehaal is, het my maag behoorlik gegrom. Daai bordie brood was skaars by my verby toe hap ek al aan die hand vol brood wat ek vir my uitgehaal het.

Die skande van ‘n onperfekte nagmaal, my Leviete was behoorlik vir my voorgelees.

Vandag lyk dinge gelukkig anders. Kinders is welkom om hande vol brood sommer oopmond te kou. Grootmense mag die skuldgevoel by die huis los en met vrymoedigheid na die tafel gaan. Meer en meer gemeentes omhels weer die ou antieke karakter van die nagmaal as ‘n liefdesmaal, ‘n feesgeleentheid, ‘n dankie en onthou ete. Stadig maar seker is die Gees van God besig om die gevlekte vensters oop te maak, die sonlig van sy genade te laat deurbreek sodat gesinne van verskillende kleure en geure saam kan kom om brood te breek, wyn te drink en die liefde van God van hulle lippe af te lek.

Comments

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke