Skip to main content

Karoo Kersverhaal


Kry ‘n mens nog sulke mense? Vra ‘n vriendin toe ons haar die storie van ons vakansie vertel?

Die storie loop so:

‘n Vakansie sonder ‘n Landy is nie vakansie nie. ‘n Landy sonder ‘n enjin fout is nie ‘n Landy nie. Maak self die somme. 40km hierdie kant van Willowmore op die N9 ruik ek ‘n brandreukie. Iets wat jy nie wil ruik agter die stuur van ‘n 1997 Land Rover Defender nie, maar iets wat jy waarskynlik een of ander tyd gaan ruik. Ek stop en lig die deksel op, rook en olie, niks vreemds nie. Ek klim weer in en draai die sleutel. Hy maak net hô. Ek probeer weer. “Hô” praat die enjin terug. En daar sit ons. Vroulief op die foon met ‘n rekenaarstem wat belowe hulp is op pad en ek besig om die wiel ‘n tradisionele skop te gee terwyl ek my my voorkop herhaaldelik teen die truspieeltjie se skerpkant slaan (dis glo ‘n standaard prosedure in die geval van ‘n break down).

Terwyl die lamheid van gestrand wees die hoop op ‘n seevakansie laat wegkwyn in die Groot droë Karoo skemer, stop ‘n bottelgroen Izuzu bakkie met deurgeloopte bande langs ons. ‘n Jong knaap klim uit, groet ons met die hand, “Hennie Lötter, aangename kennis” en sleep ons plaas toe, hulle het glo baie kamers wat oopstaan in die plaashuis. Mens kan nie helder dink so langs die pad nie, ons kan ons planne van die plaas af maak. Vir ‘n oomblik bevind ons onsself in die “met eish” advertensie.

Op die plaas aangekom word ons met plattelandse gasvryheid ontvang al is daar net ‘n klomp mans in die huis. Ma is in Port Elizabeth by ‘n siek ouma maak hulle verskoning.  Kom ons sit eers. Die stof op die gesigte van hardwerkende boerseuns verklap die droogte in die streek. Wyn word oopgemaak, brood word gebreek, ‘n skaap word geslag (of eerder ontdooi, selle ding vir honger reisigers) en so kry ‘n universele verhaal van gasvrydheid vir ons nuwe betekenis. Die volgende more word die hulp verder uitgedeel. Die “part time mechanic” op Willomore wag al reeds vir ons. Kobus, die baas van die plaas moet in elk geval “stad” toe gaan, want hulle kort voer vir die volstruise.

Op Willowmore loer Jacques die mechanic onder die Landy se deksel in. Hy maak ‘n kenmerkende fluitgeluid en diagnoseer die probleem by die alternator, die prognose lyk goed maar die herstel gaan ten minste drie dae duur, aangesien ‘n nuwe alternator van die Kaap af moet kom. Ons vakansie lyk vir oomblik na ‘n Karookuier op die dorpie Willowmore, tot Kobus ons sy bottelgroen jakkalsjag Izuzu bakkie aanbied. “Ry met die ding see toe”, sê hy, “en moenie verder worry nie.” Ek noem verleë iets van betaling (dis immers hoe ons dinge in Joburg uitsorteer) toe word ek met ‘n kwaai kyk en ‘n harde nee die ander kante van menswees geleer. Dis ‘n voorreg om iemand in nood te help, verduidelik Kobus.

Sedert ons onbeplande kuier by die Lötters van Willowmore, het ek met nuwe oe die kersverhaal gaan lees. Ontwrigte gesinne op weg omdat ‘n heerser sy mag wil meet. Moee reisigers vir wie die gastekamer nie beskikbaar is nie. ‘n Messiaskind vir wie gasvryheid in Bethlehem yl gesaai was. ‘n ompad terug huistoe, via Egipte die antieke plek van slawerny.

Hoe anders ons ervaring as vir hom vir wie daar geen plek was nie. Ek vermoed as die kersverhaal in die Groot Karoo afgespeel het, sou die storie waarskynlik anders uitgedraai het.  As Josef se tuisdorp Willowmore was, sou die Lötters vir hom ‘n slaapplek kon gee en ‘n ryding vir die reis terug, Maria sou by die “Bonatoe” winkel vir haar seuntjie ‘n bokhaarkombersie kon koop en oorkant die pad by “Sophies choice” sou hulle op die stoep kon sit, hulself dik eet aan hoenderlewertjies en wildspastei. Ooms en Tannies sou die Jesus kind van hul hande neem, hom aan die slaap sus, en Maria daar wegstuur met ‘n boereraad of drie oor tande, koeliek en slapelose nagte. By die Laaste Watergat sou die boere vir Josef ‘n dop koop en hom gelukwens as pa van ‘n gesonde eersteling seun. Min woorde sou nodig wees, ‘n sterk handdruk spreek immers boekdele. Niemand sou moes vlug vir ‘n slegte heerser se psigopatiese soeke na mag nie, want in die Groot Karoo het die groot vrede van die Een met die groot hart diep in die harte van die mense ‘n woonplek kom vind.

En in ruil vir die gasvrydheid van die plek en sy mense?

Bid tog asseblief vir reën en as julle weer hier verby kom, kom loer gerus weer in.  






Comments

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke