Skip to main content

Abba Madiba


Sedert Nelson Mandela se afsterwe kan ek nie ophou dink aan die oom en die tannie op die dorp wat se naam onlangs verander het, aan die hoopvolle Afrikaanse kunstenaar iewers op die hoofweg tussen Colesberg en Hanover, aan die kleinkinders van die boer wie onlangs vermoor is, aan die skoolhoof wat nog wag op handboeke, aan die afgetrede onderwyser wat weer begin skool gee het, aan die oupa wie se pensioen opgeraak het, aan hom wat sedert 1994 sukkel om werk te kry, aan die hoopvolles wat onlangs matriekeindeksamen geskryf het, aan die tannie by die bank, die tannie by die weeshuis en die oom by die poskantoor. Ek dink aan die kelner, die konstabel en die aanskofskoonmaker. Die eienaars en die eenmansake, die diknekke en die direkteure. en aan elkeen wat daagliks opstaan om die pot aan die kook te hou. Ek dink aan die manne van die buurtwag, die vriende by die braai en die ouens in die gym. Ek dink aan die ouma van die swanger tiener, die verpleegster by Baragwanath Hospitaal, die maatskaplikewerker op Beaufort Wes, die pastoor in Diepsloot en aan hulle wat wag op huise, werke en spoeltoilette. Ek dink aan die radeloses, die moedeloses, die hooploses; die miljoene Suid-Afrikaners wat elke dag met harte vol gebede die lewe trotseer, elkeen het ‘n storie wat vertel moet word.

Hierdie week word ons opnuut herenig deur die besonderse storie van ’n mens vir wie die wereld besonders lief geword. Sy storie staan nie los van die besonderse verhale van gewone regoor Suid-Afrika nie. Ons almal se lewensverhaal is ingeweef in Madiba se lewe. Sy storie is allermins ook nie perfek nie. In sommige gevalle is syne ‘n verwonde verhaal, hy was ‘n mens wat swaarkry onder ‘n wrede sisteem geken het, hy was ’n pa wat nie sy kinders en kleinkinders kon sien groot word nie. Iemand wat die koue van verwydering geken het, ‘n verlate man, verwyderd van sy nabymense, vasgebind, toegesluit, afgesonder. Sy en die mense naby aan hom se harte is gereeld gebreek. Die letsels van die stryd na vryheid het hy tot in die binnekamers van sy lewe aan sy eie lyf gevoel. En tog het hy gekies om nie net te ly of te verwond nie, maar eerder ‘n mens te word wat soos in sy eie woorde, bereid is om indien nodig, te hoogste prys vir ons almal se vryheid te betaal. Ons onthou hom as ‘n hardekwas moeilikheidmaker met ’n hart vol genade en wysheid. ’n Bokser met sagte oe, ‘n vegter vir vrede, ’n held, ‘n bevryder. Ons almal se pa.

Die woord “abba”, ‘n antieke manier om oor vaders te praat. Sommiges vaders het, volgens die Jesus die Groot Bevryder, die mensdom gehelp om oor God te dink as ’n “Abba Vader” in ’n tyd toe wrede sisteme wrede gode in die verbeelding van mense losgemaak. Madiba was een van hierdie goeie vaders.

In hierdie adventstyd dink ek aan hom as ‘n pelgrim wat ver moes loop vir vryheid. Iemand wat die wereld se verbeelding aangegryp het deur vergelding te verruil vir vergifnis. Baie mense stap vandag saam met hierdie pelgrim, in die rigting van ‘n wêreld waar almal vry is om met menswaardigheid te leef. Ons vat hande met mekaar, ons ontdek ons eendersheid te midde van ons andersheid. Ons laat toe dat Afrika deur ons are vloei. Ons loop die pad met ‘n reenboog op die horison. Rondom ons hoor ons die toejuigings van ons voorouers, van hulle wat die pad reeds gestap het. Ons hoor die pleidooi van hulle wat op die pad gestruikel het. Ons struikel self. Iemand help ons op. Ons sien die bakens langs die weg en word herinner dat die pad lank is en al hoe moeiliker gaan word. 

Nie almal wil hierdie pad stap nie, sommige pak struikelblokke in die pad, skuil agter rotse en struike om die pelgrims voor te spring en te verwilder. Ander staan langs die kant en kritiseer, hulle lok ons uit met kortpaaie wat soos omdraai voel, maar die moedige pelgrim met skouers soos ‘n bokser gaan ons al dansend vooruit. Hy wys vir die ons weg.

Die kinders van Suid-Afrika ken ook ’n ander betekenis van die woord “abba”. Ons weet wat dit beteken om iemand op ons skouers te tel. Hoe verder ons agter Madiba die pelgrim aanstap hoe meer leer hy ons van versoening. Ons word beter met elke tree. Ons kom agter dat soos die weg al hoe smaller word, stap ons al hoe nader aan mekaar. Aan die begin het ons mekaar net verdra, nou moet ons mekaar begin dra.

Hier aan die voetpunt van Afrika, word ons nou, meer as ooit aangemoedig om mekaar te abba. Soos Madiba vir so lank ons land se vryheid op sy skouers gedra het. Soos Jesus die ganse skepping se vryheid op syne gedra het, so abba ons mekaar. 

Die pad is nog lank.

Mag ons mooi loop soos Madiba.

Comments

Popular posts from this blog

Simptome sonder 'n diagnose

Ek skryf vanaand oor my ontydige ontmoeting met die dood, my eie dood om presies te wees. My muse terwyl ek skryf is die bekfluitjie van Bob Dylan. (“it's getting dark, too dark to see, I feel I am knocking on heavens door...”) Die afgelope paar weke stoei ek met simptome wat wissel tussen malaria, bosluiskoors, sinussitus, babalas en een of ander bakteriele bliksem in my binneste. Oor die algemeen het ek die gemoedstoestand (asook die spysvertering) van ‘n ouma agter op die backseat terwyl haar kleinkind sy "maiden voyage" deur Bainskloof Pas onderneem, in pa se nuwe Audi... Die dokters gooi egter klippe in die bos om te kyk wat uitspring, dus het ek nou al buiksonars, breinskanderings en ‘n wilde lumber punch agter die blad (laasgenoemde was regtig agter die blad). Iemand moet nou nog net my prostaat kom voel dan is die hele boksomdice gecover. OK, so waar was my ontmoeting met die dood? In al die bogenoemde natuurlik. Ek doen nie goed met naalde, pille en hosp

Tata Madiba.

Die Pretzel

Ek het hierdie storie die eerste keer gehoor uit die mond van die bekende storieverteller Nico Nel. My weergawe klink so: In die hoogbloei jare van stoei (daai tyd was daar baie bloed betrokke), was Jan van Pretoria die land se nommer een stoeier. En met stoei bedoel ek nie die rofstoei soort wat ‘n mens op e-tv sien nie, nee ek bedoel amateurstoei. Daardie soort waar jy met ‘n rooi of ‘n blou broekie stoei. Ek was self ‘n kranige klein stoeiertjie, maar dit was lank nadat hierdie voorval plaasgevind. Jan het van Lichtenburg se wereld afgekom, sy van was Van Pretoria. Hulle het hom die posterboy van stoei genoem, aangesien al wat ‘n stasiedorp nooientjie ‘n Huisgenootmiddelblad plakaat van Jan van Pretoria van Lichtenburg teen hulle kamerdeure gehad het. Daardie nooientjies behoort nou almal mooi vroue van diep in hulle 80’s te wees en al lewe Jan lankal nie meer nie, stoei hy nog snags in die slaapkamers van menigte ouetehuise. Jan van Pretoria van Lichtenburg in aksie