Skip to main content

Skurwejantjie en die pitsweer

“Die hele straat is vrot van die pitswere” kla Tannie Gladdis by Oom Skurwes. “Vandat die Vuil Frikke in die woonstel onder die straat ingetrek het, is al wat ’n kind oortrek met pitswere en omlope.”  

“O” mompel Oom Skurwes terwyl hy oor die koerant loer. Sy koffie staan al ’n uur lank langs hom. Hy het nog nie ’n sluk daarvan gevat nie. “Gaan jy nie jou koffie drink nie?” blaf sy vrou. 

“Wat meen jy nou?” vra die oom. “Ek drink dit mos”.

“Mos? Weet jy wat is mos? Dit groei aan die donkerkante van ou bome en klippe. Jou koffie staan al ’n uur lank daar en koud word. Waar was ek nou weer? O ja, omlope en pitswere.”

Skurwejantjie weet al lankal dat hy hom nie eintlik hoef te steur aan sy ma en pa se oor en weer bakleiery nie. Sy maats dink altyd dat sy ouers vreeslik kwaai is, maar hy weet dat dit maar net hulle manier is van praat met mekaar. Die dag as sy ma of  sy pa regtig kwaad is, dan is selfs die duiwels en die booswigte bang om uit hul gate en grotte te kom.  

“Nou het Jantjie ook ’n pitsweer! Ek het vir hom gesê om nie met daardie Vuil Frikke te speel nie, maar hy kan mos nie ’n kind met ’n rugbybal uitlos nie.”

“Sȇ jy mos…” mompel Oom Skurwes onder sy snor.

“Skurwes! Moenie vir jou kom hans hou met my nie. Dit kind het ’n kolossale pitsweer reg bokant sy knie.”

“Tog te lastig” sug oom Skurwes. 

“Jannas loop wys vir jou pa.” roep Tannie Gladdis in die rigting van Skurwejantjie se kamer. Hy weet goed as sy ma so gil by die gang af, dan moet jy nie nog hanna-hanna nie. Soos blits los hy sy plastieksoldaatjies op die mat van sy kamer en gaan tree aan voor sy pa in die kombuis. Sy ma dink dit toe goed om sommer ’n algemene gesondheidsinspeksie te doen. Skurwejantjie wou nog protesteer, maar toe is sy ma al in sy rooi bos hare opsoek na haarluise, agter sy ore vir bosluise, op sy rug vir omlope en tussen sy tone vir sandwurms. Gelukkig, behalwe vir gister se grasmerke wat nog op sy bene en elmboë is, is die enigste noemenswaardige gesondheidsrisiko wat sy ma kon vind, die lastige pitsweer net bo sy linkerknie.  Met haar duim en wysvinger wat sy regteroor knyp, lees sy vir hom al die Leviete en gedeeltes uit Klaagliedere voor. “Bewaar jou siel as jy aan hierdie kneuwel van ’n familieskandaal torring. Hoor jy my mooi Jan-Barend Christoffel van-der-Bleddie-Merwe?” 

“Ja ma. Eina ma. Ek belowe ek sal nie aan die ding krap nie.” protesteer Skurwejantjie. Die laat los van sy oor en die klap oor Oom Skurwes se agterkop doen Tannie Gladdis in een soomlose beweging. Iets wat sy al bemeester het met die aansit van Skurwejantjie se eerste doek. Tannie Gladdis glo dat beide mans in haar lewe elke dan en wan ’n oorveeg moet kry.  

Die volgende middag bevind Skurwejantjie homself op die toilet van sy oorkantse buurman klein Stannes Maasbanker. Die twee het die hele middag boublokkies gespeel terwyl dit liggies buite reën. Stannes is die enigste maatjie by wie Skurwejantjie mag speel. Hulle huis is skoon en Stannes se ma is net so kwaai soos Tannie Gladdis. Skurwejantjie het homself midweg in ’n Babelse toring van Lego-blokkies verskoon. “Verskoon my asseblief mense, ek moet poef”. kondig hy ewe kordaat aan. Stannes se ma gee so ’n gespanne hoesie, aangesien die woord poef in haar huis verbode is. Stannes en sy brandmaer sussie Hannetjie is streng geleer dat vir enige ablusie aangeleenthede ’n ordentlike mens praat van “kamerverlaat”. Tannie Gladdis het dit ook al probeer toepas in haar huis, maar ongelukkig is Oom Skurwes nie verniet ’n Skurwe nie. Juis die rede vir gereelde oorveë sodat “poef” nie verder verswak in korter, k-klinkende woorde nie. 

Skurwejantjie het ook nog nie die vermoë van vooruitbeplanning aangeleer nie, dus is hy met ’n redelike drafstappie af in die gang. So met die deur half oop sit hy toe op die gastetoilet van die Maasbankers. Hulle huis is heelwat anders as die Skurwes s’n. ’n Toilet in ’n badkamer is ’n luukse affêre, dink hy by homself. Die hele badkamer is potblou, met ligter skakerings blou op dinge soos die toiletsitplek en die bad se rant. Dis immers die jare 80’s. Badkamers in daardie tyd was of bruin of blou, selde wit. 

Skurwejantjie vergaap hom aan al die vreemde patroontjies, potplante en sepies in die vorm van seeskulpies. Hy was nog nooit van te vore in hierdie badkamer nie. Hulle speel gewoonlik voor op die grasperk en as hy dan moet poef, dan gaan poef hy in sy eie toilet. Nodeloos om te noem, sit hy toe ’n bietjie langer as wat sy aanvanklike nood vereis. 

Dis ook nie lank nie, toe begin die karbonkel op sy knie hom pla. Eers bekyk het hy die ding van ’n hoogte af. Later sak hy sy kop tot by sy knie. Dit is bloedrooi soos ’n tamatie met ’n goudgeel punt. “Dis ’n vulkaan!” dink Skurwejantjie. Hulle het in die kleinskooltjie daarvan geleer. 

Die versoeking om die ding ’n druk met sy vinger te gee is groter as die versekerde pakslae wat in elk geval op hom wag. Of hy nou die ding druk of nie, ’n goeie loesing behoort iewers in sy agtermiddag op hom te wag. Dus druk hy toe die pitsweer. Eers net liggies. Behalwe vir ’n steekpyn, gebeur daar nie veel nie. Die rooi word effens rooier en die geel word geler. Toe druk hy weer. Hierdie slag met ’n bietjie meer mening. 

“Pop!” maak die pitsweer en iets tref hom binne sy oog. Met die ander oog sien hy dat sy knie lyk soos ’n basaar hotdog. ’n Geel en rooi sous loop by sy been af en drup op sy onderbroek. Die toiletpapier knyp nog aan sy boude vas, want hy’t halfpad in die middel van afvee in sy pitsweer begin belangstel. 

“O gonna!” roep Skurwejantjie. Hy trek sy sweetpakbroek so half-half op en laat spaander by die Maasbankers se blou badkamer uit. Af in die gang met ’n wit papier stert soos ’n Spooktier. Al hinkepinkend by die voordeur uit, oor die grasgroen grasperk tot by die Skurwes se voordeur. Die deur is weens die Bolandse reën te opgeswel vir hom om self oop te maak, daarom moet hy ongelukkig die klokkie lui. Hy hoor sy ma se dawerende voetstappe op die houtvloer aankom. “Hier kom kak” dink klein Skurwejantjie by homself. In enige ander situasie sou hy die woord poef gebruik het, maar vandag weet hy, slegs die k-woord kan opsom die eindelose moeilikheid wat nou op hom wag…

Comments

Popular posts from this blog

So gebore en so gedoop (hersiene weergawe)

Ek is nie ‘n klein monstertjie nie. Dis mos wat Lady Gaga se aanhangers genoem word, want sy heet mos glo Mamma Monster. Ja, ek het al ‘n keer of wat op ‘n tafel gedans terwyl Poker Face oor die luidsprekers gons. Ek het egter nog nooit haar albums gekoop nie en was nie juis van plan om haar optrede te gaan kyk nie. Tot onlangs, toe vriende van my vir my allerhande emails en videos ( https://www.youtube.com/watch?v=iR7Fdxk49cc ) begin aanstuur het wat haar lirieke, musiek videos en uitrustings ontleed as tipies van iemand wat haar siel aan die duiwel verkoop het. Die titel antichris is mildelik aan haar toegeskryf, asook die bruid van Satan. Nodeloos om te noem het dit my nuuskurigheid oor haar aangewakker. Ek is immers ‘n teoloog en die geleentheid om die duiwel se vrou van naderby te bestudeer is ‘n kans wat nie elke student van die spirituele te beurt val nie.  Toe ek dus die uitnodiging kry om na haar optrede by Soweto se Soccer City te gaan kyk, het ek dit aangegryp, ter will

I benefited from Apartheid

I am white. My friend @cobusvw was one of the first people to help me embrace being white with all the baggage that goes along with. I am also a racist. It is the bane of my life here in Africa. Growing up in the 80’s in South-Africa have shaped me in a certain way. My inherent racism is something I struggle with everyday. Don’t get me wrong, I try very hard not to be one. My other white buddy @soulgardeners introduced met to Jonathan Jansen’s work describing my racism as almost inherited through blood. Together we started to talk about our struggle with racism in the same way addicts would talk about their addiction.  I am a recovering umlungu, addicted to feeling superior. I am born into a history of racism. Years of prejudice have framed a narrative through which I perceive others that are different from me and my culture.  I am proud to say that most of the time, with the help and patience of kind, supportive and forgiving black (and white) friends I have my addiction under

By die doopvont is ons nóg gay, nóg straight.

Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. In 1843 het die gemeente van Tulbach geskeur weens mense se onversoenbaarheid rakende die sakramente. Die legende lui dat ’n baba van ’n jong ongetroude meisie gedoop is en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.  Daar is baie sulke hartseer verhale. Nie almal het op kerkskeuring uitgeloop nie, maar baie het krake en skeure in harte van goeie gelowige mense veroorsaak. Die jare 70’s en 80’s toe ek ’n kind was het sy pond vleis van my generasie geeis. Die land was ook ietwat anders vir Afrikaanse kerkmense in daardie tyd. Dalk in sekere opsigte meer eenvoudig. Jou opsies was minder, wat dan ook bygedra het tot die moontlikheid van verwerping indien jy meer links van die linker regop paal die lewe benader het. Twee vriendinne van my het albei in die jare 80’s en vroeg 90’s uit die kas gekom. Die pyn van verwerping en die soeke